Psalm 145:18-19 sê:
Wat ‘n wonderlike vertroosting om te weet dat die Here naby is! Hy is die Koning wat op die troon sit en die Skepper en die Heerser, maar Hy is nie vêr op ‘n afstand en ontoeganklik nie. Hy buig af, Hy kom naby aan ons. So naby dat Hy ons hoor as ons om hulp roep. Nader as die trane wat oor jou wang rol.
Daar word in die Ou Testament op verskillende maniere gepraat oor God se nabyheid. Psalm 23 praat van God se goedheid en guns wat jou sal agtervolg. Dit is nie die rower of die roofdier wat jou in die donker dieptes agtervolg nie, maar God se nabye teenwoordigheid.
Elders kry ons die beeld van die rivier en die oewer. Dat God se nabyheid so werk – soos wat die rivier en die oewer mekaar nooit kan los nie en oral saam gaan, so is die Here by ons, langs ons, teenaan ons en sal Hy ons nooit los nie.
Natuurlik is dit ook so dat dit nie altyd ons eie belewenis is nie. Dat daar tye in ons lewens is wat dit voel of die Here vêr van ons af is. Maar ons belewenis verander niks aan die feit dat die Here naby is nie. Hy bly naby. Hy bly “ondersteunend en helpend” (v. 14).
Dalk moet ons ingesteldheid in die tye wat die Here vir ons vêr voel, so bietjie anders lyk. Dat ons nie armpies gevou sit en wag vir die Here om “op te daag” nie, maar eerder in hierdie tye juis die Here se aangesig soek. Aktief soek, luister, lees, bid…
Die Here se nabyheid word sigbaar en tasbaar in Jesus Christus, Immanuel, God met ons. Hy kom klim binne in ons lewens in en kom woon tussen ons. Hy kom wys vir ons hoe God se liefde lyk – hoe die Vader se hart werk. Dan kom sterf Hy aan die kruis en roep uit “My God, my God, waarom het U my verlaat!” En op daardie Goeie Vrydag en op daardie Stil Saterdag voel dit of die Here nou regtig vêr is. Maar dan kom die deurbraak – die opstanding, die oorwinning!
So het die dissipels ook weer verlate gevoel na die Here Jesus se hemelvaart. Dan kom wys die Here weer sy nabyheid en stort sy Gees oor hulle uit.
Soos ‘n Vader sorg vir sy kinders, so sorg die Here vir die wat Hom dien (Ps 103). Die Woord het mens geword en onder ons kom woon (Joh. 1). Die Gees kom woon in ons en staan ons in ons swakheid by (Rom. 8). Waarlik die Drie-Enige God is naby. Dit is hoe Hy Homself aan ons kom openbaar. Dit is he Hy wil hê dat ons Hom leer ken.
Die Here is naby jou en Hy hoor jou gebede. Mag jy dit ook vandag spesiaal beleef.