Gedagte vir die dag – Viool of Vuurmaakhout?

Ek dink meeste van ons sal saamstem dat die viool werklik ‘n wonder is.  ‘n Pragtige voorbeeld van kuns en vaardigheid en fyn vakmanskap.

Die stukke hout is versigtig uit die boomstomp in dun velle gesny en dan presies in die regte vorms wat op mekaar pas om die musiekinstrument te vorm.  Die sykante moet presies die regte breedte gesny word, verhit word en gebuig en gevorm word om die regte vorm aan te neem.

Die voor- en agterkante se rondings word uitgekerf en word uitgehol tot dit presies die regte dikte en ronding het om perfek te kan resoneer.  As die hout te dik is, resoneer die viool glad nie, maar as dit weer te dun is dan kan die viool nie die spanning van die snare weerstaan nie.

Vergewe my ‘n oomblik se personifikasie en dink jouself in hierdie boom se situasie in.  Die boom se lewe moet tot ‘n einde kom en hy moet gesny word en verhit word en gebuig word en afgekoel word en weer gebuig word.  Ons sou almal heel hard geprotesteer het as so iets met ons gebeur het en geskree het van pyn en gehuil het.

Maar elke snit, elke buig en elke draai is nodig om iets nuuts en pragtig te maak.  Hoe sou die boom nie bly gewees het as hy maar net kon weet dat hy besig is om getransformeer te word in iets besonders wat vir ewig kan hou.

So is dit ook met ons en leer Jakobus ons dat ons ons moet verbly wanneer ons deur moeilike tye moet gaan omdat dit beteken dat die Here iets besonders van ons lewens maak en ons vorm net soos die vioolmaker die boomstomp verander in iets ongeloofliks.

Jakobus 1:2-3 sê: My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.

Natuurlik is dit makliker gesê as gedoen want ons kan nie die finale produk sien nie, ons kan nie die anderkant van die moeilike omstandighede sien terwyl ons onsself daarin bevind nie.

Dit sou ‘n tragedie wees as die boom die vioolmaker êrens in die proses kon keer, kon keer dat hy aangaan met sy kunswerk.  Wat sal die uiteinde dan wees?  So sou die boom nooit iets nuuts en mooi kon word nie,  maar sou dan net opgesny en stukkend gebly het en die viool sou nooit gemaak kon word nie.  Die boom sou seker nog ‘n doel kon dien as vuurmaakhout en vir die kort tydjie wat dit brand dalk nog iets beteken.  As ek kon kies sou ek kies om eerder ‘n viool te wees as vuurmaakhout.

Die bekendste en waarskynlik die beste vioolbouer wat nog geleef het is sekerlik Antonio Stradivari.  Hy het op ‘n keer gesê: “God needs violins to send his music into the world, and if my violins are defective, God’s music will be spoiled.” Mag jy ‘n viool wees wat sing van die Here se glorie en sy eer en sy liefde en genade, ongeag van die pyn en vorming wat jy moet deurgaan om dit reg te kry!