Gedagte vir die dag – God het jou lief!

Vandag wil ek jou sommer net weer herinner daaraan dat die Here vir jou lief is.  Ons kan partykeer so besig raak met ander denke oor God en soeke na antwoorde en allerhande idees en teologiese vraagstukke dat dit nodig is om weer te onthou van die een onveranderlike feit, die bottom line: God is oneindig lief vir jou!

Die grootste bewys daarvoor is natuurlik die feit dat die Here Jesus vir ons aan die kruis gesterf het.  1 Johannes 4:9-10 sê:

“Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.”

Dit is goed om (met jou verstand) te weet dát dit gebeur het.  Dat Jesus in ons geskiedenis, in ons wêreld kom inklim het en daar op Golgota aan ‘n kruis gesterf het.  Maar dink vandag weer vir oomblik (met jou hart!) na oor hoe groot daardie gebeurtenis is. Hy HET gekom en Hy HET gesterf sodat ons die lewe kan HÊ.  Maar dit is nie net ‘n geskiedkundige gebeurtenis nie, dit het vandag nog ‘n impak op ons lewens en sal vir ewig nog aanhou, want Hy het alles kom nuut maak.  Die Here, die God van die hemel en die aarde, het mens geword en in ons plek, ons straf op Hom geneem.  Sonder dat Hy dit verdien is Hy gekruisig.  Daarom is HY die Koning van die konings!

Hoor wat sê die Here Jesus self in Johannes 10:14-18.

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder. Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”

As jy gewonder het of jy genoeg is, of jy waarde het, of daar iemand is wat vir jou lief is: die Here, die Koning, die Goeie Herder is lief vir jou. Só lief vir jou dat Hy sy lewe vir jou afgelê het! En aan sy liefde is daar geen einde nie.  Jesaja 54:10 sê:
“Berge kan padgee, heuwels kan wankel,
maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie,
my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie,
sê die Here, wat jou liefhet.”