Gedagte vir die dag – Werp

Die taal van ons bly darem so lekker.  Daar is woorde wat soveel meer emosie dra as ander wat min of meer dieselfde beteken. Die woord “werp” is een van daai.  Dis ‘n woord wat ons waarskynlik nie meer so baie in ons alledaagse spreektaal gebruik nie.  Ons praat mos maar van “gooi”.  Bal gooi, klip gooi, (visstok) ingooi, weggooi, neergooi…

Daar is iets terapeuties daaraan om iets te gooi.  Ek dink dit is omdat die hele aksie van gooi daaroor gaan dat die voorwerp weg van jouself af beweeg – jy raak daarvan ontslae. Party goed kom natuurlik weer terug, wat ook lekker is (soos ‘n hoek met ‘n vis aan, ‘n bal, ‘n boemerang), want dan kan jy hom weer gooi.  Maar daar is iets bevredigend daaraan om iets te gooi, eerder as om dit net neer te sit.

As dit waar is van gooi, dan dink ek, is dit nog soveel meer waar van WERP.  Dit voel vir my of werp amper soos ‘n intensiewe vorm van gooi is.  As jy ‘n ding werp, dan gooi jy hom nie net, jy GOOI hom met mening.  So klink diskus gooi baie minder intensief as skyfwerp.  Werp voel amper asof dit met meer krag gebeur. ‘n Katapult gooi mos nie klippe teen die kasteel se muur nie – daai klippe word geWERP!

Dit help ons so bietjie om te verstaan wat bedoel word in 1 Petrus 5:7 wat sê: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Wanneer ons ons bekommernisse op Hom werp dan verstaan ons nou hier is intense aksie en emosie betrokke.  Maar dat ons ook moet hoor dat ons dit regtig moet wegwerp, weg van onsself af – daarvan ontslae raak.  Dit is natuurlik nie maklik nie, maar daar lê ‘n groot stuk vrede daarin om die Here werklik so te vertrou.  Natuurlik doen ek my deel met die krag wat Hy my gee, maar as ek my bekommernisse op Hom kan werp dan word ek nie verstrengel deur die greep van vrees en spanning en stres nie.  Ek kan vrede vind in die feit dat die Here vir my sorg.

Ek kry amper die gevoel van om daai oorlaaide skooltas aan die einde van ‘n lang dag van my skouer af te werp.  Daardie verligting, daardie las wat van jou skouers af is…

Mag jy met moed en geloof jou bekommernisse nie net gooi nie, maar dit WERP op Hom wat vir jou sorg en mag jy daarin die vrede wat alle verstand te bowe gaan beleef.