Gedagte vir die dag – God gee nuwe moed

Psalm 10 is een van daardie psalms wat soms hard op ons ore val.  Lees gerus die hele psalm weer in al die vertalings tot jou beskikking. Maar dit is ook ‘n baie goeie voorbeeld van hoe die psalmdigters die klaaglied in hulle harte voor die Here uitgestort het.  Iets waaraan ons nie so gewoond is nie en eerder daarvan wegskram want “mens praat nie so met die Here nie!”

Maar iets wat die psalms oor en oor vir ons bewys is dat dit juis die Here is met wie ons moet praat, juis in die moeilikste van omstandighede – ook oor die sensitiewe en ongemaklike onderwerpe.  Die Here is die psalmdigters se bron van hulp en troos.  Dit is by die Here wat hulle kla en huil en vrae vra.

Daarom loop twyfel en geloof telkens hand aan hand in die psalms.  Daarom sien ons klaagliedere en lofliedere in mekaar gevleg.  Die psalmdigters het geweet en beleef dat die Here hulle enigste toevlug is – ook vir hul twyfel en vir hulle seer.  Al die mooi en waar goed waarvan die psalms oor die Here getuig en wat vir ons ‘n troos is om te lees, is nie net waar omdat dit mooi digterlik in die Bybel staan nie.  Nee, dit is die waarheid omdat die Lewende God binne-in mense se konkrete, moeilike omstandighede ‘n toevlug was: dood, siekte, verlies, bedreiging, gevaar, sonde, onregverdige behandeling, ens.

Dit is goed en mooi en reg om oor God te praat, maar ons moet MET Hom praat!  Daarom sien ons telkens by die psalms die uitkoms daarvan om MET God te praat.  Hy bring nuwe insig en hoop en redding en perspektief en vrede en bevestiging.

So kan ons met die emosie en situasie van die psalmdigter in Psalm 10 identifiseer.  Veral in ‘n tyd soos nou met alles wat rondom ons deurmekaar is en erger gemaak word deur korrupsie en alles wat daarmee saamgaan. Kyk maar na alles wat hy vir die Here sê oor die mense wat so vol van hulleself is. Ek is seker almal van ons het al gevoel soos hierdie psalmdigter gevoel het:

“Die goddelose verlustig hom nou al
in wat hy hoop om in die hande te kry.
Die een wat hom wil verryk ten koste van ‘n ander,
wens homself by voorbaat geluk.
Hy verag die Here.
Neus in die lug sê hy:
“God vra tog geen rekenskap nie!”
In al sy planne is daar geen plek vir God nie.
Dit gaan mos altyd goed met wat hy aanpak.
U oordele is vir hom te ver weg, buite sy gesigsveld.
Hy snork met veragting oor al sy vyande.”

Die psalm help ons om iets van ons eie emosie te verwoord.  Daarom moet ons dit lees en nie net daaroor nadink nie, maar regtig ook met die Here praat oor wat in ons eie hart aangaan.

Natuurlik weet Hy presies wat jy gaan sê nog voordat jy dit dink, maar Hy in die proses van om ons harte met Hom te deel kry ons die geleentheid om weer sy hartklop vir ons te kan hoor!

Op die einde kom die psalm weer by hierdie punt in vers 17 en 18:

“U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here.
U gee hulle nuwe moed.
U verhoor hulle gebed.
U behartig die regsaak van die weeskind en van die mens in nood,
sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.”