Gedagte vir die dag – Jou sondes is vergewe

(In die lig van die kopseer met ons opname van gister se diens, dien vandag se dagstukkie as ‘n kort opsomming van gisteroggend se boodskap.)

Reg deur die Evangelie van Lukas sien ons hoe die Here Jesus saam met mense aan tafel sit en eet en dat dit veral dáár is wat Hy grense oorsteek na mense en só mense se lewens verander.  Ons lees hier in Lukas 7:36-50 van een van daardie geleenthede.

Simon die Fariseër nooi vir Jesus na ‘n feesmaal toe, maar hy het ‘n agenda.  Dit gaan vir hom oor sy eie eer en aansien en daarom wil hy graag die Profeet waaroor almal praat na sy huis toe nooi.  Hierdie was ‘n deftige storie en die mense het by gedekte plekke by die tafel aangelê.

Vir hierdie rede was dit reeds ‘n groot skok dat daar iemand ongenooid by die fees aangekom het. Maar dit was nog verder vererger deur die feit dat die ongenooide gas ‘n “sondares” was.  Die fariseërs het oor die algemeen nie baie van vroue gedink nie, en alles wat hierdie vrou gedoen op hierdie dag gedoen het was uit hulle oogpunt vreeslik sondig.  Die feit dat sy ongenooid opdaag, in die mans se spasie inbeweeg, ‘n man in die openbaar gesoen het en boonop haar hare losgemaak het was vreeslik skandalig.

Daarom dat Simon so geskok was toe die Profeet Jesus nie reageer soos wat hy verwag het hy moes nie.  Hy het gedink dat Jesus die vrou sal berispe oor haar sondige optrede, maar Jesus pas nie in die Fariseër se boksie in nie.  Hy is méér as ‘n profeet, méér as ‘n leermeester en soveel meer as menslike godsdienstige verwagtings.

Die Here daag die Fariseër uit en vra eintlik vir hom wie het die meeste sonde en ontbloot die feit dat die fariseër self nie eers aan sy eie standaarde (waarvolgens hy ander se sondigheid wil meet) voldoen het nie.

Dan sê die Here hierdie woorde in vers 47: “Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”

Dit wys vir ons die verskil tussen die twee mense hier.  Die fariseër het gedink dat hy het alles onder beheer en hy doen al die regte dinge om die mense en die Here te beïndruk.  Hy meng met die regte mense, hy kom die reëls na, hy het nie ‘n verlosser nodig nie.  Terwyl die vrou deur haar optrede die teendeel bewys: sy het besef wie Jesus is en besef dat sy vergifnis nodig het, die Verlosser nodig het.

Deur hierdie vrou se optrede kom openbaar die Here vir ons hoe sy genade werk en ook Wie Hy is.  Ons wil baie keer so graag iets doen om in die Here se regte boekies te kom, so graag genoeg doen om te kan opklim hemel toe.  Maar die Here Jesus het juis afgeklim en die volle prys betaal sodat ons die lewe kan hê. Dáárom, in reaksie daarop, doen ons en leef ons tot eer van die Here – bewys ons liefde.

In vers 48 en 49 lees ons dan die mense se verbasing: En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.” Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?” “  Hier wys die Here Jesus dat Hy God self is – Hy het die mag om sondes te vergewe!

Besef vandag dat jy het Jesus, die verlosser nodig.  Gee oor aan Hom en leef vanuit die wete dat Hy reeds vir elke sonde (selfs daai wat jy diep wegsteek en hoop niemand vind nooit daarvan uit nie) die volle prys betaal het.