Rigters is een van daai boeke in die Bybel wat as iemand ‘n lewensgetroue fliek daaroor sou maak, die fliek ‘n wilde ouderdomsbeperking sou hê. Dit is rof!
So lees ons van een van die Rigters met die naam Gideon in hoofstuk 6-8. Die volk gaan deur ‘n slegte tyd. Hulle is nou in die Beloofde Land maar hulle word geteister deur die Medianiete. Soveel so dat hulle weggekruip het. Dit is waar ons ook vir Gideon aantref as die Here aan hom verskyn: in ‘n parskuip waar hy weggekruip het.
Die manier waarop die Here vir Gideon groet is eintlik so perfekte inleiding vir die hele verhaal. Hy sê vir hom: “Die Here is by jou, dapper man!” (Rigters 6:12) Vir ‘n groot deel van die verhaal kan mens skaars glo dat Gideon beskryf kan word as ‘n dapper man. Hy kruip weg en twyfel en vrees en die Here moet hom keer op keer met tekens, wonders, drome en bewyse herinner dat hy nie hoef bang te wees nie.
Gideon antwoord die Here daar in die parskuip met ‘n vraag wat sekerlik al baie in ons eie gedagtes deurgeflits het: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons? Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het?”
Die res van Gideon se verhaal is eintlik so mooi antwoord op hierdie vraag van hom – vir Gideon, én vir ons. Die Here stuur hom en is by hom soos Hy belowe het. In vers 14 sê Hy: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!” en dan in vers 16: “Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie.”
Soos die verhaal dan uitspeel lees ons hoe die Here hierdie woorde waar maak – BIG TIME! Hy laat vir Gideon met net 300 soldate optrek teen die Midianiete en hulle maatjies wat ‘n magtige weermag gehad het. Rigters 7:12 sê hulle “was so baie soos sprinkane, en die kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos die sand aan die see.” En boonop het die Here dit so bewerk dat hierdie groot mag uitmekaar gespat het en sommer mekaar begin doodmaak het selfs nog voor Gideon en sy manne ‘n swaard kon gebruik. Die Here het die oorwinning behaal.
Teen hierdie tyd sien ons dat Gideon met die krag van God verander het in die dapper man wat die Here hom gemaak het om te wees. Die dapper man wat die Here daar in die parskuip raakgesien het, in die hart van die bang outjie wat daar weggekruip het. So stuur die Here ook vir elkeen van ons. Hy gee vir ons die krag van sy Gees. Hy is by ons. Hy bewys dit keer op keer. Hy wil in ons en deur ons sy magtige dade bekend maak. Daarom kan ons ook dapper manne en vroue van God wees.
Onthou die woorde van 2 Timoteus 1:7 wat sê: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.”