
Onthou jy nog vir La Linea? Lank, lank gelede was dit ‘n eenvoudige animasie reeks op TV wat die avonture van ‘n lynmannetjie vertel. Elke nou en dan het die kunstenaar die mannetjie verras met die een of ander ding wat hom gewoonlik aan die begin vermaak het. Maar hy het tog so gou ongeduldig of kwaad geword vir die kunstenaar as dinge nie uitwerk soos hy dit wou hê nie. Dit was groot pret om te kyk. As jy wil gaan loer, daar is klomp episodes op YouTube beskikbaar: https://www.youtube.com/user/LaLineaSeries
Nou sien ek die ander dag iemand maak nou ‘n t-hemp met die lynmannetjie van La Linea wat die kunstenaar berispe oor 2020. Dit is so beskrywend van hoe ons voel oor alles wat hierdie jaar al aan die gebeur is en ek is seker ons is ná die soveelste toespraak van die president en die soveelste verandering van regulasies al lus om 2020 daar uit te vee en eerder ‘n paar ander goed daar te wil skryf!
Ons het al op dag 48 van Lockdown nagedink ook geduld – nou trek ons al by Dag eleventy-plenty-hundred en die eindstreep lyk nog vêr… waar kry ons dan nog geduld? Die Engelse het ‘n mooi uitdrukking wat sê “at the end of one’s tether/rope” wat beteken dat jy nie meer geduld of krag oor het om iets te kan hanteer nie en dit sluit eintlik mooi aan by La Linea wat telkens die einde van sy strepie bereik en dan baie emosioneel raak daaroor.
Ek dink twee dinge is belangrik. Die eerste is dat ons geduld by die huis moet inoefen. Daar waar ons die naaste aan mekaar lewe en die draadjies maar soms kort raak is juis die plek waar ons geduld die meeste getoets word. Maar as ons geduldig is met mekaar, met die mense vir wie ons lief is dan gebeur daar ‘n paar goed gelyk. Ons leer geduld aan, maar ons groei ook in die proses nader aanmekaar en dit is ‘n getuienis vir die wêreld van hoe ons mekaar behoort te hanteer – ook in beproewende omstandighede.
Tweedens is die bron van ons geduld by God en nêrens anders nie. Die Bybel is vol voorbeelde van mense wat die einde van die tou/lyn/afgrond bereik het en dáár die liefde en omarming van die Here beleef het. Omdat Hy geduldig is met ons kan ons ook na Hom toe gaan en by Hom leer van geduld, maar ook by Hom rus en vrede en berusting vind vir ons ongeduldige harte.
Kolossense 1:11 is ons gebed ook vir vandag:
“Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.”