Die Afrikaanse woord “voel” is maar kort en lyk eenvoudig, maar dit is eintlik so ‘n diep en veelkantige woord. Ons gebruik dit nie net om dit wat ons met ons vingers, ons velle, ons tassintuig, kan voel te beskryf nie, maar ook vir ‘n wye spektrum ander maniere waarop ons verskillende dinge voel.
In hierdie tyd van inperking voel ons dit nou baie meer intens aan ons lywe. Skielik moet ons ver van almal rondom ons bly en is drukkies en soene nou amper ‘n misdaad. Vir baie van ons is die gebrek aan drukkies groot verlies, wat weer ‘n klomp ander gevoelens tot gevolg het. Maar behalwe fisiese aanraking is daar natuurlik ander dinge wat ons mis en ander dinge wat ons voel. Ons voel teleurstelling, spanning, frustrasie, vrees, hartseer, die volle gewig van emosies wat ons tref. Maar gelukkig voel ons ook nog hoop, blydskap, vreugde, vrede, afwagting, opgewondenheid, ens. Dit is behoorlik ‘n emosionele rollercoaster!
Ek is sommer weer van vooraf verbaas en verwonderd oor hoe die Here ons so fyn aanmekaar geweef het en oor wat ons alles kan voel – ekstern én intern!
In die Bybel is daar ‘n opvallende verskil wanneer daar gepraat word oor waaraan mense alles raak. Een verhaal in die Ou Testament waar die tassintuig prominent voorkom is natuurlik daar waar Jakob sy pa Isak bedrieg deur die bokvelle op sy arms te sit. Dan wanneer die blinde Isak daaroor vryf dan dink Hy dit is sy harige seun Esau en seën hy vir Jakob i.p.v. Esau (Gen 27).
Maar vir die res van die Ou Testament is dit amper elke keer as daar gepraat word van om aan iets/iemand te raak, in die konteks van dit waaraan mense NIE mag raak nie omdat dit onrein is. Oor en oor die opdrag dat hulle nie daaraan moet raak nie.
Dan is dit opvallend dat die eerste keer wat daar weer in die Nuwe Testament daarvan gepraat word dan is dit in Matteus 9:20-22 wat die vrou aan die soom van Jesus se klere raak:
“‘n Vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak. Sy het vir haarself gesê: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.” Van daardie oomblik af was die vrou gesond.”Wow! Nou is dit skielik anders, want die EEN wat Heilig is kom verander die wêreld en gaan dit nie meer oor waaraan jy nie mag raak nie, maar wat dit beteken om deur sy krag aangeraak te word!
Daar is ‘n verhaaltjie van die dogtertjie wat een aand in die bed lê en toe steek daar ‘n groot storm op. Sy het bang geword en haar pappa geroep om by haar te kom sit. Hy sê toe vir haar dat Jesus mos by haar is. Sy antwoord hom toe en sê: “Ja, ek weet, maar ek soek nou iemand met ‘n vel om!” Ons is die Liggaam van Christus wat sy hande en voete in die wêreld moet wees, sy liefde ‘n vel om moet sit. Mag ons dit vir mekaar wees en sy liefde sigbaar, en TASbaar, uitleef!