Lofprysing Dag 8 – Lawaai

Ons ken die woorde van “Loof Hom met die tromme” so goed. Ek onthou nog hoe ons dit in die kinderkrans saam gesing het en die woorde altyd skeef uitgekom het.  Die “harp” het meeste van die tyd as “hart” uitgekom. En die koortjie het meer soos volg geklink: “AAAlles wat ASSEM het, loof die Jee-re!” Gelukkig hoor die Here ons harte agter die woorde wat ons sing!

Die lied is natuurlik gebou op Psalm 150:

Prys die Here!
Prys God in sy heiligdom,
prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf!
Prys Hom oor sy kragtige dade,
prys Hom in sy magtige grootheid!
Prys Hom met die ramshoring,
prys Hom met harp en lier!
Prys Hom met tamboeryn en koordanse,
prys Hom met snaarinstrumente en fluite!
Prys Hom met simbale,
prys Hom met galmende simbale!
Laat alles wat asemhaal, die Here prys!
Prys die Here!
Die psalm begin en eindig met die Hebreeuse woorde: “Halleluja”.  Hier vertaal met “Prys die Here”.  Wat natuurlik in elke versreël in een of ander vorm herhaal.  Hierdie woord wat ons met “prys” vertaal moet ons besef is ‘n aksiebelaaide woord.  Hier kan nie teruggehou word nie.  Geen halfhartige poging kan hier voldoende wees nie. Die slim woordeboeke vertel vir ons die woord beteken:“praise, cheer, brag on, extol, i.e., extol the greatness or excellence of a person, object, or event; be praised, be worthy of praise, note: also verbal song and singing with the same themes; boast in, praise, glory in, i.e., express words of excellence, with a focus on the confidence one has in the object, person, or event boast, brag, formally, praise about”

Nou begin ons iets verstaan van wat in die psalm aan die gang is.  As ons al die stemme en al die instrumente bymekaar sit het ons ‘n oorverdowende loflied met ongekende volume wat die Here loof.  Mag dit wat ons doen, die manier hoe ons die Here loof, met ons musiek, met instrumente, met ons stemme, met ons dade, ons verhoudings, ons liefde vir mekaar, ons lewens, ‘n onmisbare loflied tot eer van die Here wees.  ‘n Lied waarvan die volume nie afgedraai kan word nie en wat werklik kwalifiseer om ‘n Halleluja genoem te word.  Met ons hele hart, met alles wat ons is.

Halleluja!