Lofprysing Dag 6 – Oral

Ons het op 12 Mei 2020 reeds bietjie stilgestaan by die laaste helfte van Psalm 103.  Die kontras tussen die stoflike, woestynblom-bestaan van die mens teenoor die onverganklike liefde van die Here!  Die groot “maar”… MAAR onverganklik is die liefde van die Here…

Ons het ook daardie dagstukkie afgesluit met die laaste verse van die psalm, maar vandag kan ons ook hulle net so bietjie dieper beskou:

Loof die Here, magtige engele
wat sy opdragte uitvoer,
sy bevele gehoorsaam.
Loof die Here, alle hemelwesens
wat Hom dien en sy wil doen!
Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here
op al die plekke waar Hy heers!
Ek wil die Here loof!

Net soos wat die digter vroeër in die psalm die beskikbare meetinstrumente gebruik het om God se oneindige liefde en onmeetbare vergifnis te beskryf, gebruik hy nou sy kennis van al die verskillende ruimtes wat bestaan en almal wat in daardie ruimtes woon, om te beskryf waar en deur wie die Here geloof moet word.

In die hemel en op die aarde moet die Here geloof word.  En ALMAL in die hemel, en ALMAL op aarde moet die Here loof.  Alles wat Hy geskep het, met ander woorde alles wat bestaan.  Oral waar Hy heers, met ander woorde orals, want Hy heers op AL die plekke!

Dag in en dag uit word die Here se lof oral in die skepping en om sy troon besing.  Die uitspansel reflekteer die glorie van die Here. Die vraag is dan of ons stemme ook daarby gehoor kan word? Alles is deur Hom en vir Hom geskep.  Elke asemteug behoort aan Hom.  As dit sy asem is wat ons inasem, hoe kan ons dan anders as om sy lof te wil uitasem?

Ek wil die Here loof!