Lofprysing Dag 9 – Grootheid

In Efesiërs 1:3-14 herhaal Paulus drie keer die opdrag “Daarom moet ons sy grootheid prys” (vers 6, 12 en 14). Lees gerus die hele stuk by jouself deur.  Maar wat is hierdie “daarom” waarvan hy praat?

Die daarom is dit wat ons in Christus ontvang het. Dit wat God deur Christus gedoen het. Wie ons is in Christus.

Deur dit wat Christus gedoen het:

  • is ons geseën met al die geestelike skatte wat daar in die hemel is
  • is ons uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees
  • het God ons as sy eie kinders aangeneem
  • is ons verlos
  • het Hy sy Wil aan ons bekend gemaak en dit tot uitvoering te bring
  • het ons deel van God se volk geword
  • het ons die waarheid ontvang en geglo
  • is ons tot eiendom van God gemerk met die Heilige Gees wat die waarborg is dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het

Kyk na die werkwoorde wat Paulus gebruik: ons is geseën, uitverkies, bestem, verlos, vergewe, beseël.  Dit is wat die Here doen! Daarom moet ons sy grootheid prys!