Verlange Dag 1 – Soos ‘n wildsbok

Ons ken die woorde van Lied 163 – Soos ‘n wildsbok – so goed. Natuurlik is die lied na aanleiding van Psalm 42 geskryf.  Waarna smag jy? Ek los die woorde van die 1983 vertaling van psalm vir jou hier.  Lees dit. Bid daaroor. Lees dit weer. In soveel vertalings as waarop jy jou hande kan lê. Lees dit weer. Bid weer daaroor. Mag die woorde ook waar wees van ons harte.

Vir die koorleier. ‘n Gedig van die Koragiete.

Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome,
so smag ek na U, o God.
Ek dors na God, na die lewende God.
Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn?
Dag en nag is ek in trane,
want sonder ophou sê hulle vir my:
“En waar is jou God nou?”
As ek my lewe voor my laat verbygaan,
dink ek daaraan
hoe ek opgetrek het na die woonplek van God,
voor ‘n skare uit na sy huis toe geloop het
met gejuig en lofsang – ‘n skare wat feesvier.

Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing.
Hy is my helper en my God!

Uit my vertwyfeling roep ek na U
hier van die Jordaangebied, van Hermonberg,
van die Kleinberg af
waar die waters teen mekaar raas
en u waterstrome bruis.
U het golf na golf oor my laat slaan.

Tog sal die Here weer op ‘n dag sy trou laat blyk
en sal ek selfs in die nag ‘n lied vir Hom sing,
‘n gebed tot die God van my lewe.

Ek wil vir God sê:
“My Rots, waarom het U my vergeet?
Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?”
Dit sny deur my hele wese as my teëstanders my spot
en dag na dag vir my sê:
“En waar is jou God nou?”

Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing.
Hy is my helper en my God!