Ons het tog sekerlik almal al nie net hierdie uitrdukking gehoor nie, maar dit ook al self gebruik. Party keer is dit ‘n verligting en ander kere net ‘n groter frustrasie om daardie vier woorde te hoor: “Liewer laat as nooit!” Maar dit hang seker af van die situasie en van aan watter kant van die woorde jy jouself bevind.
Iets wat in die dae waarin ons leef nou weer skielik deel word van ons lewens is om te wag. In ‘n wêreld waar alles onmiddelik moet gebeur is ons nie meer gewoond daaraan om te wag nie. Kos, videos, boodskappe, oproepe, take, resultate – deesdae soek ons dit alles onmiddelik, want ons het mos nou die tegnologie wat veronderstel is om dit moontlik te maak. Maar nou terwyl ons in Lockdown is, is dinge nie meer so onmiddelik beskikbaar soos altyd nie. En dit maak ons onrustig en ongeduldig. Dalk is dit tog nie so slegte ding nie. Dalk leer ons weer iets van die waarde van tyd. Van tyd saam met mekaar. Tyd saam met die Here. Van geduld en die groei wat plaasvind in die tyd wat ons wag. En dalk het dit juis die teenoorgestelde uitwerking, dat ons juis weer ontdek dat ons, as ons net so nou en dan bietjie briek aan draai, méér tyd het vir die mooier en dieper dinge – vir mekaar, vir rus, vir gebed.
Abraham was iemand wat wag geken het. Die Here het aan hom groot beloftes gemaak, wat natuurlik Abraham se hele lewe verander het. Maar hy moes lank wag, en baie lank wag vir ‘n belofte wat te goed geklink het om waar te wees, om mee te begin. Natuurlik het hy ongeduldig geraak en daardie ongeduld het hom in die sop laat beland. Hy moes 25 jaar wag vir die belofte van ‘n nageslag om waar te word met Isak se geboorte. Kan jy dink jy moet 25 jaar wag vir iets wat jy weet jy gaan kry om waar te word…?
Maar wat ons by Abraham kan leer is dat die Here getrou bly, selfs al is ons ontrou. Die Here bly getrou al vat dit lank. Die Here bly getrou al lyk dit onmoontlik. Die Here bly getrou al verstaan ons nie. Die Here hou sy beloftes!
In Genesis 17:7 lees ons dat die Here sê:
“Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ‘n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.”
En daardie selfde verbond hou Hy nog in stand, vir ons en ons nageslag. Hy is ons God en ons is syne! Ons kan op Hom vertrou. Al beteken dit soms dat ons bietjie moet wag…