Vlak 4 Dag 16 – ‘n Boom by Water

In Jeremia 17:7-8 lees ons hierdie woorde:

Dit gaan goed met die mens
wat sy vertroue in die Here stel,
die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is;
so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is
en sy wortels na die stroom toe uitstoot,
nie die hitte voel as dit kom nie
en altyd groen blare het;
‘n droë jaar raak hom nie
en hy hou nie op om vrugte te dra nie.

Kyk mooi wat dit sê. Dit is nie sommer net ‘n leë belofte wat te goed klink om waar te wees nie.  Dis nie dat die boom nou in ‘n beskermende borreltjie weggesteek is en nie meer aan die elemente blootgestel word nie.  Nee, die winter gaan kom, die droogte en die hitte gaan nog steeds kom.  Maar binne in dit alles sal die Here sorg. Genoeg dat die boom nog kan aanhou om vrugte te dra.  Winter, somer, droogte of reën, oorvloed of tekort – die Here sorg.

Mag jy ook jou vertroue in die Here stel en elke dag beleef dat Hy jou veilige vesting is!