Uitgestel Dag 14 – Ek wed jou…

Gewoonlik as mens die woorde “ek wed jou” of “ek dare jou” hoor dan moet jy weet, hier kom nou die een of ander vorm van moeilikheid. Die arme profete van Baäl moes ook geweet het daar is moeilikheid toe Elia na soveel jare weer sy opwagting maak in 1 Konings 18.  Maar hulle kon nie Elia se weddenskap weerstaan nie.

In vers 21 stel Elia die volk voor die keuse: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.” En dan gaan hy verder om die 450 profete van Baäl uit te daag.  Twee bulle. Twee altare.  Die een wie se god met vuur antwoord, is waarlik God.

Dit moes ‘n vreeslike affêre gewees het om te sien hoe die 450 profete van die môre tot die aand te kere gaan om ‘n dooie, mensgemaakte god te kry om vuur uit die hemel te stuur.  Naderhand het Elia hulle begin spot (vers 27): “Roep harder! Hy is mos ‘n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!” Hulle het nog erger aangegaan en nog steeds niks.

Toe bid Elia ‘n eenvoudige gebed. En sien ons die mag van die Here. Nadat die altaar driekeer met water natgegooi is lees ons in vers 38: Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.

Dalk moet hierdie gebed van Elia ook ons gebed word, wat ons elke dag oor en oor kan bid.  Nie sodat ons die Here se arm kan draai vir vuur uit die hemel nie, maar dat die wêreld kan sien Wie God is en dat ons, en elkeen, se harte weer na die Here toe kan bekeer.

Ons lees die gebed in 1 Konings 18 vers 36 en 37:

“Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”