Verlede week het ons Matteus se vertelling gelees van die moment waar Jesus sy dissipels geleer het hoe om te bid. Vandag lees ons hoedat Lukas daardie gebeure beskryf en sien ons dat hy dit nog ‘n bietjie verder vir ons uitbrei. Maar deur dit te doen bevestig Lukas eintlik so mooi vir ons wat ons reeds by Matteus se weergawe van die Onse Vader geleer het: ons Hemelse Vader is die Beste!
Daarom kan jy gou voor jy verder hier lees, Lukas 11:1-13 gaan deurlees.
In vers 1 lees ons:
Jesus was êrens op ‘n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”
Die dissipels moes gesien het dat daar iets anders is aan die manier hoedat Jesus bid, anders as waaraan hulle gewoond was en daarom graag wou leer hoe hulle Leermeester dit doen. Hierdie was ook iets wat hulle gereeld moes gesien het want ons lees in Lukas van ‘n klomp geleenthede waar Jesus besig was om te bid, dit was sy manier. In Lukas 5:16 lees ons dan:
“Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.”
Jesus stel die voorbeeld! Ons moet ook so maak, só met die Here praat, só afhanklik wees van Hom, só tyd spandeer met Hom.
Wanneer Jesus sy dissipels leer om God as Vader aan te spreek was dit iets nuuts. Die beeld van God as Vader was nie vreemd in die Ou Testament nie, ons ken bv. Ps 103:13 mos baie goed:
“Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.”
Dit word egter nou meer as net ‘n vergelyking, manier om God te beskryf, dit word nou die verhouding en die manier hoe ons met Hom kommunikeer. Uit hierdie verhouding verduidelik Jesus hoe gebed werk.
Die Here gebruik dan twee beelde (gelykenisse) om die dissipels iets te leer oor gebed, maar ook oor God, oor die Vader, oor hierdie verhouding met Hom. In altwee beelde gebruik Hy dieselfde formule: As ‘n mens dit kan doen (ons kan daarmee vereenselwig, dit verstaan) die Vader sal dit SOVEEL meer doen, want Hy is nie soos ‘n mens nie!
Die Here vertel hierdie gelykenissie nie net om iets te sê oor volharding in gebed nie, maar oor die Vader wat ons aanbid. Dit is nie om te wys dat die Here eintlik onwillig is om ons gebede te verhoor en dat ons daarom moet volhard in gebed nie, maar kontrasteer juis die mens se onwilligheid teenoor die Vader se gewilligheid!
As ‘n buurman selfs al is hy onwillig, ‘n vriend help wanneer hy vra vir hulp, hoeveel te meer sal die Vader nie gewillig wees om ons te help wanneer ons dit van Hom vra nie. Dit beklemtoon juis dat ons maar kan aanhou om die Here te vra vir dit wat ons nodig het omdat Hy juis gewillig is om ons te antwoord. Die Here nooi ons uit om na Hom toe te kom met ons nood, ons behoeftes, selfs op tye wat onvanpas mag lyk. Hy is ‘n gasheer wat altyd beskikbaar is! Psalm 23:5-6 herinner ons daaraan:
“U laat my by ’n feesmaal aansit,terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.”
Om in gebed te volhard is belangrik, nie omdat die Vader onwillig is en oortuig moet word nie, maar omdat gebed ‘n intieme verhouding met die Vader kweek/ontwikkel – Dit wat ons die meeste nodig het is nie dat al ons gebede verhoor word nie, dit wat ons die meeste nodig het is God self!
So sê Hy dan met die tweede gelykenis: God die Vader is beter as aardse ouers. En gebruik weer dieselfde formule: As aardse ouers, met al hulle foute, nie vir hulle kinders dinge sal gee wat vir hulle sleg is nie, hoeveel te meer sal die Vader nie vir sy kinders net dit gee wat goed is nie?
Die Here beskryf in vers 9 se uitnodiging so presies raak hoe ons harte werk (Hy ken ons!) en breek ons gebede op in drie maniere waarmee ons ons behoeftes aan die Here bekend maak:
- Ons vra vir dit waarvoor ons wens,
- ons soek na dit wat ons mis en
- ons klop vir dit wat ons voel vir ons toegesluit is.
Die punt van die illustrasie is dat die Vader vir ons gee wat goed is! Partykeer is die slegste ding wat die Here vir ons kan doen om ons selfsugtige gebede te verhoor. Dit wat Hy hier belowe beteken nie dat ons altyd gaan kry wat ons wil hê nie, maar dat Hy vir ons sal gee dit wat ons nodig het en dat dit wat God gee altyd goed is.
Ons kan nie die Vader dwing om vir ons net te gee wat ons wil hê, dinge wat nie vir ons goed is nie. Maar ons kan na Hom toe gaan met enige behoefte, op enige tyd, soveel keer as wat ons wil. Die ongelooflike van gebed is daarom nie dat ons altyd ‘n spesifieke antwoord kry op ons versoeke nie, maar dat ons tyd met die Vader spandeer het. Ons moet aanhou vra, aanhou soek, aanhou klop, nie om die Here te oortuig of om Hom van onwillig na gewillig te probeer verander nie, maar om van Hom afhanklik te wees, om te bely hoe graag ons wil hê dat sy Wil moet geskied.
Hy is gewillig om jou gebed te verhoor, Hy wil vir jou gee wat jy nodig het, Hy wil vir jou sorg. Geen hoeveelheid woorde of herhalings van gebede gaan die Vader oortuig om vir jou iets te gee wat vir jou sleg kan wees nie. Die Beste wat ons as kinders van die Here uit gebed uit kry is nie die waarword van al ons wense nie maar ‘n dieper verhouding en ‘n dieper afhanklikheid van God.
Mag jy vra en ontvang: Meer as wat jy ooit kan wens, meer as wat jy ooit na kan verlang, meer as wat jy ooit kan dink vir jou beskore kan wees.
“Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.” – Efesiërs 3:20-21
Gebed: Ons bid vandag vir elke ouer, kind, familielid en vriend regoor die wêreld wat reeds geliefdes aan die dood moes afstaan a.g.v. die virus.