Die Week van Gebed aan die begin van ’n nuwe jaar word binne ’n kerklike tradisie onderhou, omdat gemeentes en lidmate deur ervarings en omstandighede diep bewus is van die daaglikse uitdagings van die lewe. Gelowiges wat eerlik en opreg voor God leef, erken dat hulle nie self in beheer van die lewe is nie. Aan die begin van 2021 is die bewussyn van ons broosheid in ’n uitdagende wêreld waarskynlik nóg skerper as in die verlede, a.g.v. alles wat ons in 2020 beleef het. COVID-19 het ons tot stilstand geruk. Die pad vir die nuwe jaar lyk moontlik vir baie van ons minder gelyk en rooskleurig as wat dit al voorheen so op die draaipunt van ’n jaar was.
Daarom dink mens noodwendig aan bedreigings wat gemeentes in die gesig staar en wonder jy hoe om dié uitdagings in gebed te benader. Baie van ons is tans nie heeltemal seker oor hoe ons moet bid in ’n tyd soos hierdie nie. Meer mense bely dat hulle eintlik nie woorde het wanneer hulle wil bid nie. Baie ernstige kinders van die Here is onseker oor waarvoor hulle nou kan en selfs mag bid.
In Romeine 8:26 kry ons hierdie vertroostende woorde: “So kom die Gees ons ook in ons swakheid te hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie…” (2020 Vertaling)
In Romeine hoofstuk 5-8 beklemtoon Paulus die gelowiges in Rome se identiteit as vrygespreekte mense wat nuut is in Christus. Vir hierdie mense herinner hy in Romeine 8 dat hulle onder beheer van die Heilige Gees lewe (vers 1-17). Hy open hulle oë vir die heerlikheid van God wat kom (vers 18-30). Hy bring die heerlikheid wat kom in verband met die hoop wat ons nie sien nie en daarop met volharding wag. Dit is temas wat vir die kerk van Christus aan die begin van die nuwe jaar belangrik is. Ons moet ons identiteit in Christus omhels, die beheer van die Heilige Gees erken en ons hoop vestig op die trou van God in vreemde omstandighede.
Die troos vir ons as vrygespreekte nuwe mense in Christus aan die begin van 2021, is dat God beide óns harte ken, asook die bedoelinge van die Gees. Die Gees tree vir die heiliges in volgens die wil van God. Wonderlik! Die krag van gebed hang nie van ons woorde en temas af nie, maar van die Gees van God in ons wat die wil van God ken en ons versugtinge vir God aanneemlik oordra.
Dr. Andrew Murray roep sy lesers op: “Laat die stille, ootmoedige gebed gedurig uit ons hart opgaan – Here, leer my Bid!” Hy gaan verder met die versekering dat die Here ons deur sy Gees kan voorsien van alles wat nodig is om reg te bid. Hy kan ons hart verlig sodat ons kan verstaan wat nog vir ons duister is. Die Here Jesus kan ons geloof versterk en aan ons die vrymoedigheid gee om kragtig te bid. Jesus wil sy gebedslewe werklik aan ons meedeel. Vanuit die hemel kan Jesus, skryf Dr. Murray, deur sy Gees, sy eie gebedslus in ons harte opwek.
Temas vir gebed:
- Laat ons die Here pleit om ons deur sy Gees te voorsien van alles wat nodig is om reg te bid.
- Laat ons op God wag om ons harte te verlig sodat ons kan verstaan wat nog vir ons duister is, sodat ons kan bid vir die koms van God se koninkryk in die jaar wat voor ons lê.
- Ons bid vir dokters, verpleegkundiges en ander wat op die voorste linies in die stryd teen COVID-19 werk. Ons bid vir hulle vir beskerming, wysheid, insig en krag.