Afkondigings

Ons gaan BRAAI! 24 April 2024

Kom braai en kuier hierdie Sondag saam met ons.  Ons gaan heerlik daar rondom ons nuwe braaier kuier, braai en volleyball speel. Die vuur, tafels, stoele, pap en sous, brood en slaai sal daar wees.  Bring jou eie vleis, eetgerei en drinkgoed saam.

Ons neem ook afskeid van Prop. Stephanie en Jan voordat hulle verhuis na Kathu waar sy ‘n beroep gekry het. So kom kuier ook so vir oulaas saam met hulle.

RSVP asb. teen Donderdag 25 April by Wynand op 083 481 1368 sodat ons genoeg tafels en bykosse kan voorberei.

Sien jou by die braai!

Kwartaal 2 van 2024

Ek hoop jy is saam met my opgewonde om verder in Markus te delf!  Ons het nou al tot by hoofstuk 3 gevorder, en al so baie ontdek.  Behalwe vir ons reis deur Markus, is daar ‘n paar ander belangrike datums hierdie kwartaal wat jy solank moet oophou.

Ons skop die kwartaal af met ‘n bang met ‘n Lofprysingsdiens.  Ons het aan die begin van die jaar vir mekaar gesê dat ons meer gereeld wil saam sing, so nou voeg ons die daad by die woord. Sondag 7 April,die oggend 8:30 vier ons weer lofprysingsfees en sing heerlik saam tot eer van die Here. Hoop om jou daar te sien.

In Mei gaan ons weer lekker Pinksterreeks hou.  Dit begin eintlik al met Hemelvaart op Donderdag 9 Mei.  Dan het ons Hemelvaartdiens die aand om 18:30.  Vrydag 10 Mei is ons weer bymekaar vir ‘n heerlike fliekaand.  Ons kyk RISEN – hou die pers dop vir die voorprent!

Sondag 12 Mei skop ons Pinksterreeks boodskappe dan amptelik af.  Sondag oggend EN aand, en Maandag, Dinsdag en Woensdag, elke aand.  Ons sluit dan af met Pinksterfees op Sondag 19 Mei.  Hierdie 10 dae van Hemelvaart tot en met Pinksterfees beloof om regtig verrykend te wees – kom beleef dit saam met ons!

En dan… die 31ste Mei en die 1ste Junie… is dit B’s Fees tyd!! Dan gaan ons weer lekker hard werk tot ons vingers en bene krom is en ons blase blase kry.  Maar dit is die moeite werd, nie net vir al die pret wat daarmee saamgaan nie, maar vir die groot geleentheid wat dit is vir ons as gemeente om ‘n impak op ons gemeenskap te kan maak.  Mag elke feesganger in elke ontmoeting en interaksie, in wat hulle sien, hoor of proe, die liefde van die Here by ons beleef!

Kom WEES saam met ons Weskerk.

 

Paasnaweek 2024

Ons loop weer hierdie jaar so bietjie in die Dissipels se voetspore wanneer ons Paasfees vier.  Soos die Dissipels daardie aand voor Jesus se kruisiging saam aan tafel was en die Here so aan tafel die Nagmaal ingestel het, gaan ons dit ook weer hierdie jaar doen.

Op Heilige Donderdagaand hou ons Vissie-en-Broodjie-aand en gaan ons weer heerlik saam eet.  Maar hierdie jaar doen ons dit bietjie anders: ons gaan VIS BRAAI!  So bring broodjie/broodgereg, iets om te drink, en jou eetgerei saam en dan gaan ons heerlik saam kuier om die vuur.

Ons gaan ook ‘n baie spesiale Nagmaal hou daardie aand.  Moenie dit misloop nie.  Donderdag 28 Maart vanaf 18:30.

Stuur asb ‘n WhatsApp vir Ds. Cornel by 071 880 1483 teen Maandag 25 Maart om te laat weet hoeveel mense jy saambring, sodat ons kan seker maak daar is genoeg snoek en genoeg sitplek.

Op Paassondag is ons weer op die Dissipels se spoor.  Ons kom reeds 6:00 die oggend op 31 Maart bymekaar vir Paasontbyt en kyk saam hoe die son opkom.  Soos die dissipels daardie Sondagoggend vroeg die leë graf ontdek het, vier ons die nuwe lewe wat Jesus se opstanding vir ons bewerk het met die nuwe dag wat breek.  Bring vir jou en jou gesin ‘n ligte ontbyt saam dan kuier ons lekker saam oor ‘n koppie koffie terwyl ons die sonsopkoms bewonder.

Ons erediens begin dan reeds om 7:00 waar ons saam die opstanding van die Here Jesus gaan vier.  Kom beleef Paasfees saam met ons as ons weer onthou wat die Here vir ons kom doen het en aan Hom die eer daarvoor bring.

Lofprysingsfees & Nagmaal 25 Februarie 2024

Hierdie Sondag 25 Februarie gaan ons sing!  Dit is ook ons eerste Nagmaal vir die jaar en ons gaan dit vier met lofprysing en aanbidding op ons lippe.

Soos vroeër hierdie jaar al gesê wil ons in 2024 meer gereeld, meer sing.  Daarom is hierdie Sondag se oggenddiens ‘n lofprysingsdiens waar ons as gemeente saam die Here gaan eer met ons stemme, terwyl die Here ons ook seën met die visuele bevestiging van ons geloof wanneer ons die brood en die wyn saam gebruik tot sy gedagtenis.  Moenie hierdie spesiale belewenis misloop nie.

Maar dit is egter ook nie al nie, want ons gaan Sondagaand ook sing.  Ons gaan die oggend so bietjie meer tradisionele liedere sing, maar tydens ‘n spesiale aanddiens gaan ons Praise & Worship met dromme en elektriese kitare. Bring ‘n pel en kom sing en spring saam!

Hou die pers dop vir tye wat hierdie twee dienste gaan begin. Ons hou die beurtkrag se skedule en op en hou jou op hoogte.

Juig tot eer van die Here, almal op aarde,
wees vrolik, juig en sing!
Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier,
speel op die lier en sing.
Blaas die trompet en die ramshoring,
jubel tot eer van die Here, die Koning. (- Psalm 98:4-6)

Aswoensdag 14 Februarie 2024

Hierdie Woensdag 14 Februarie om 18:30 vier ons weer Aswoensdag.

Lydenstyd strek vanaf Aswoensdag (sewende Woensdag voor Paassondag) tot en met Stille Saterdag (vanjaar op 30 Maart 2024), die dag voor Opstandingsondag. Indien die Sondae in hierdie tyd uitgesluit word, duur hierdie tydperk 40 dae, dieselfde aantal dae wat Jesus in die woestyn deurgebring het. Lydenstyd is noodsaaklike voorbereiding vir die viering van Paasfees.

Die Westerse kerk het in die tweede helfte van die vierde eeu in navolging van die Oosterse kerk begin om ter voorbereiding van Paasfees ‘n vastydperk van 40 dae in te stel. Dié vas het meestal beteken dat slegs een maaltyd sonder vleis per dag geëet is. Tradisioneel begin die vastydperk op Aswoensdag. Aanvanklik was die plaas van die as op die kop van ‘n sondaar ‘n soort tughandeling en boete-oplegging deur die kerk. Later het die as ‘n meer seremoniële funksie gekry waarin die as, gewoonlik van die vorige jaar se palmtakke, op die voorkop van die lidmate in die vorm van ‘n kruis gesmeer word.

Die vroegste aanduiding van die viering van Aswoensdag en die gepaardgaande seremonie vind ‘n mens in die begin van die elfde eeu.  Die naam kom van die Latyn, ‘dies cinerum‘, wat “dag van asse” beteken.  Op Aswoensdag is die gebruik dat ons spesifiek nadink oor ons sterflikheid en ons sonde. Ons bely in alle ootmoed ons skuld voor die Here.

Lydenstyd is ‘n gereedmaak om vernuwing in ons lewens te ontvang. Die pynlikheid van die erkenning van ons eie sonde is hiervoor noodsaaklik. Verootmoediging, skuldbelydenis en boetedoening is in hierdie tyd prominent, maar dit staan alles in die teken van die nuwe lewe wat ons simbolies op Paassondag ontvang. Die as van Aswoensdag is ‘n simbool hiervan.

Die Aswoensdag diens bestaan, tradisioneel, uit stilte, voorlesings en ruim tyd vir refleksie, met rustige sang/musiek. En aan die einde van die diens ontvang ons elkeen een die kruisie van as op die voorkop.  Ons gaan hierdie jaar ook op ‘n spesiale, aktiewe manier geleentheid kry om stil te word en op die Here te fokus!