Paasnaweek 2024

Ons loop weer hierdie jaar so bietjie in die Dissipels se voetspore wanneer ons Paasfees vier.  Soos die Dissipels daardie aand voor Jesus se kruisiging saam aan tafel was en die Here so aan tafel die Nagmaal ingestel het, gaan ons dit ook weer hierdie jaar doen.

Op Heilige Donderdagaand hou ons Vissie-en-Broodjie-aand en gaan ons weer heerlik saam eet.  Maar hierdie jaar doen ons dit bietjie anders: ons gaan VIS BRAAI!  So bring broodjie/broodgereg, iets om te drink, en jou eetgerei saam en dan gaan ons heerlik saam kuier om die vuur.

Ons gaan ook ‘n baie spesiale Nagmaal hou daardie aand.  Moenie dit misloop nie.  Donderdag 28 Maart vanaf 18:30.

Stuur asb ‘n WhatsApp vir Ds. Cornel by 071 880 1483 teen Maandag 25 Maart om te laat weet hoeveel mense jy saambring, sodat ons kan seker maak daar is genoeg snoek en genoeg sitplek.

Op Paassondag is ons weer op die Dissipels se spoor.  Ons kom reeds 6:00 die oggend op 31 Maart bymekaar vir Paasontbyt en kyk saam hoe die son opkom.  Soos die dissipels daardie Sondagoggend vroeg die leë graf ontdek het, vier ons die nuwe lewe wat Jesus se opstanding vir ons bewerk het met die nuwe dag wat breek.  Bring vir jou en jou gesin ‘n ligte ontbyt saam dan kuier ons lekker saam oor ‘n koppie koffie terwyl ons die sonsopkoms bewonder.

Ons erediens begin dan reeds om 7:00 waar ons saam die opstanding van die Here Jesus gaan vier.  Kom beleef Paasfees saam met ons as ons weer onthou wat die Here vir ons kom doen het en aan Hom die eer daarvoor bring.