Aswoensdag 14 Februarie 2024

Hierdie Woensdag 14 Februarie om 18:30 vier ons weer Aswoensdag.

Lydenstyd strek vanaf Aswoensdag (sewende Woensdag voor Paassondag) tot en met Stille Saterdag (vanjaar op 30 Maart 2024), die dag voor Opstandingsondag. Indien die Sondae in hierdie tyd uitgesluit word, duur hierdie tydperk 40 dae, dieselfde aantal dae wat Jesus in die woestyn deurgebring het. Lydenstyd is noodsaaklike voorbereiding vir die viering van Paasfees.

Die Westerse kerk het in die tweede helfte van die vierde eeu in navolging van die Oosterse kerk begin om ter voorbereiding van Paasfees ‘n vastydperk van 40 dae in te stel. Dié vas het meestal beteken dat slegs een maaltyd sonder vleis per dag geëet is. Tradisioneel begin die vastydperk op Aswoensdag. Aanvanklik was die plaas van die as op die kop van ‘n sondaar ‘n soort tughandeling en boete-oplegging deur die kerk. Later het die as ‘n meer seremoniële funksie gekry waarin die as, gewoonlik van die vorige jaar se palmtakke, op die voorkop van die lidmate in die vorm van ‘n kruis gesmeer word.

Die vroegste aanduiding van die viering van Aswoensdag en die gepaardgaande seremonie vind ‘n mens in die begin van die elfde eeu.  Die naam kom van die Latyn, ‘dies cinerum‘, wat “dag van asse” beteken.  Op Aswoensdag is die gebruik dat ons spesifiek nadink oor ons sterflikheid en ons sonde. Ons bely in alle ootmoed ons skuld voor die Here.

Lydenstyd is ‘n gereedmaak om vernuwing in ons lewens te ontvang. Die pynlikheid van die erkenning van ons eie sonde is hiervoor noodsaaklik. Verootmoediging, skuldbelydenis en boetedoening is in hierdie tyd prominent, maar dit staan alles in die teken van die nuwe lewe wat ons simbolies op Paassondag ontvang. Die as van Aswoensdag is ‘n simbool hiervan.

Die Aswoensdag diens bestaan, tradisioneel, uit stilte, voorlesings en ruim tyd vir refleksie, met rustige sang/musiek. En aan die einde van die diens ontvang ons elkeen een die kruisie van as op die voorkop.  Ons gaan hierdie jaar ook op ‘n spesiale, aktiewe manier geleentheid kry om stil te word en op die Here te fokus!