Potjiekos Kompetisie 16 Junie 2022
Op 16 Junie 2022 vier ons fees! Ons gemeente verjaar op die 25ste Junie (in die skoolvakansie) en ons kon die afgelope 2 jaar met al die regulasies, nie behoorlik partytjie hou nie.
Dis hoogtyd dat ons bietjie saam feesvier! Daarom wil ons jou uitnooi om saam te kom potjie maak en eet op die publieke vakansiedag van die 16de Junie.
Jy kan ‘n potjie inskryf of sommer net kom saam kuier en saam eet. Ons gaan ook so deur die dag bietjie veerpyltjies speel in spanne van twee en daar is ook ‘n prys te wen.
Kontak asb. vir Koos Jacobs (084 515 4937) as jy graag ‘n potjie wil inskryf. En laat weet asb. teen die 10de Junie die Kerkkantoor (082 921 6770 / 082 485 8008) hoeveel van jou mense kom sodat ons kan seker maak daar is genoeg kos.
Sien jou daar!
Hemelvaart, Fliekaand en Pinkster 2022
Die week het aangebreek! As deel van ons 40 Dae, nee wag dis andersom… Ons 40 Dae reeks vorm deel van ons Hemelvaart- en Pinksterfeesvieringe hierdie jaar.
Hierdie Donderdag 26 Mei vier ons Hemelvaart en ons diens begin om 18:00. Kom vier hierdie belangrike geloofsfees saam met ons.
Vrydag 27 Mei hou ons Fliekaand en kyk ons saam Kingdom of Heaven. Dit vorm ook die inleiding vir ons Pinksterreeks wat dan Sondag afskop. Die tema van ons Pinksterreeks (as jy dit nog nie in die afgelope 4 weke afgelei het nie!) is “Die Koninkryk van die Hemel” en vorm ook die hoogtepunt van ons 40 Dae Reeks.
Die DVD-kassie sê die ouderdomsbeperking is 13 vir geweld, so ouers neem asb kennis! Daarom wys ons vir die kinders ook hulle eie fliek nl. The Lion of Judah. Dit is ‘n pragtige animasie fliek wat die storie van Jesus so bietjie uit ‘n ander oogpunt vertel.
Bespreek jou fliekkaartjie vandag nog by Karin op 082 485 8008. Vir die grootmense en kinders ouer as 13 is daar ‘n combo vir R50 wat jou fliekkaartjie, ‘n boereworsrol, ‘n koeldrank en springmielies insluit. En vir die kinders 13 jaar en jonger hul eie combo teen R30 met ‘n Hotdog, koeldrank, springmielies en fliekkaartjie.
Ons begin van 17:00 af kuier en saam eet en dan begin die fliek om 19:00.
Ons Pinksterreeks skop dan Sondag 29 Mei af. Ons het dan Sondagoggend 8:30 sowel as Sondagaand 18:30 ‘n diens. En dan Maandag, Dinsdag en Woensdag gaan die reeks voort, elke aand om 18:30. So die Pinksterreeks is 5 dienste in totaal. Natuurlik gaan ons ook elke aand kuier om ‘n heerlike koppie sop en ‘n broodjie – dit kan tog nie anders nie!
Hoop jy hou nog by met die 40 Dae dagstukkies en onthou jy kan enige tyd ons Dagstukkie bladsy besoek om op te vang.
Kom ons maak van hierdie jaar se Hemelvaart en Pinkster regtig ‘n Gemeentefees wanneer ons by hierdie byeenkomste nader aan mekaar en nader aan die Here groei en al meer van sy Koninkryk ontdek. Sien jou daar!
Paassondag 17 April 2022
Môre oggend kom ons reeds voor sonop om 6:00 bymekaar vir ons Paasontbyt. Pak vir jou en jou gesin ‘n ontbytpiekniek en kom wag saam met ons die sonsopkoms in as ons die Opstanding van die Here Jesus vier.
Hoop om jou daar te sien!
Vissie-en-Broodjie Aand 14 April 2022
Jy word hartlik uitgenooi om in Weskerk se Paasfeesvieringe te kom deel.
Donderdag 14 April vier ons Heilige Donderdagaand. Dit is die geleentheid waar ons onthou van die aand toe die Here Jesus saam met sy dissipels aan die tafel gesit het en die Nagmaal ingestel het. Ons onthou dat Hy oorgelewer en gevange geneem is om gekruisig te word.
Ons kan ook hierdie jaar weer saam aan tafel sit by ons Vissie-en-Broodjie Aand. Dit vind plaas op Donderdag 14 April vanaf 18:30.
Bring ‘n vis- of broodgereg saam – genoeg vir jou gesin. Dan pak ons al die kos op ‘n lang tafel en eet lekker saam van mekaar se disse. So weet ons daar is genoeg vir almal en jy sal sien daar bly sommer nog oor!
Ons gaan ook by die geleentheid bietjie stilstaan by die betekenis van Jesus se lyding en sterwe en op ‘n baie spesiale manier saam Nagmaal gebruik.
Bring jou vissies of broodjies en jou eie drinkgoed en kom deel hierdie spesiale geleentheid saam met ons.
Belangrike Datums vir Kwartaal 2
Ons het die vooruitsig van ‘n lekker vol kwartaal op ons kerkkalender. Met Paasfees, Hemelvaart en Pinkster om saam te vier. Moenie een oomblik daarvan misloop nie, so maak seker dat jy die datums op die prentjie sommer GROOT in jou dagboek inskryf.

