Afkondigings

Tyd om te bid

Toe ons gepraat het oor “Vat blydskap saam“, was die eerste manier hoe ons ons “Blydskap-Knipmes” skerpgemaak het, GEBED.  Maar ons wil nie net praat oor gebed nie. Ons wil dit doen.  Meer as net op Sondae, meer as net skietgebedjies, meer as net wanneer die tropiese vrug die waaier tref, meer as net in die aand voor jy gaan slaap.  Ons wil meer tyd met ons Vader spandeer, meer met Hom praat.

Die Bybel is vol opdragte oor gebed. 1 Tessalonisense 5:17 is seker die eenvoudigste een. Die hele vers is net twee woorde: “Bid gedurig.”

In Lukas 18:1 vertel die Here Jesus ‘n gelykenis “om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.”

Maar ons wil nie net bid omdat ons MOET nie, maar omdat ons WIL.  En ook wil ons nie net bid omdat ons God se arm probeer draai om te kry wat ons wil hê nie, maar omdat ons tyd met ons Vader wil spandeer. Sy Wil wil soek, Hom beter wil leer ken, wil groei in ons verhouding met Hom.

Een van ons gemeente se geloofsgewoontes is “Bly gewortel”.  Kolossense 2:6-7 sê: “Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.” Om dit te kan doen, moet ons tog met die Here praat in gebed.

Met dit ingedagte wil ons meer geleentheid skep vir gebed.  Daarom sal ons kerkgebou, van hierdie Woensdag af, op sekere tye van die week oopwees vir jou om tyd in gebed in die aanbiddingsruimte te kan kom spandeer.

Die tye is soos volg:

  • Maandae van 6:30-7:30
  • Woensdae van 17:30-18:30
  • Donderdae van 12:00-13:00

Jy hoef nie vir die hele uur te bly nie, jy kan net inkom en kom bid.  Die hek en die deure sal oopwees vir daardie tyd, so jy kan inkom, (saniteer jou hande by die deure natuurlik) en gebruik dit tyd om te bid.  Dit is nie ‘n begeleide biduur met ‘n program nie, maar doodeenvoudig ‘n geleentheid wat elke gemeentelid kan gebruik om te bid.

Natuurlik kan jy enige tyd en enige plek met die Here praat, maar ons wil vir jou hierdie geleentheid bied om wel ook ekstra tyd af te sonder vir gebed. Kom ons wees ‘n biddende gemeente, waar gebed deel is van wie ons is, ingevleg in ons gemeentekultuur en DNA.

Mag jy die Here se vrede beleef.  Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” – Filippense 4:6-7

Aanlyn eredienste 1 en 8 Augustus 2021

Liewe Weskerk Familie

Ons sien uit om weer as gemeente bymekaar te wees. Die huidige beperkings maak dit egter nog vir ons moeilik en al is die land op ‘n nuwe inperkingsvlak, is gevalle in ons eie dorp nog hoog.

Daarom, en met die Vrouedag langnaweek op hande, gaan ons vir 1 en 8 Augustus nog slegs aanlyn eredienste hê. As alles regloop hoop ons om op 15 Augustus weer saam te kan wees vir die erediens in die kerkgebou. Ons sal ná die langnaweek weer die situasie bekyk en die reëlings kommunikeer.

Ons lees hierdie Sondag Filippense 2:5-11, so hou die aanlyn spasies dop, jy wil dit nie misloop nie!

Groete en Seën
Weskerk Kerkraad

Slegs Aanlyn-eredienste vir Julie 2021

Na aanleiding van die nuutste regulasies en met die skoolvakansie wat op hande is, is ons eredienste vir die Sondae van Julie slegs aanlyn.

Hou asb al ons aanlyn platforms dop vir die nuutste inligting, sodat jy niks misloop nie!

Wees veilig en onthou: die Here is by jou!

Slegs AANLYN diens op Sondag 20 Junie 2021

Hierdie Sondag, 20 Junie 2021, het ons nie ‘n erediens by ons kerkgebou nie, maar slegs ‘n aanlyn erediens.

Ons kerkgebou is nog al die tyd COVID-gereed en natuurlik wil ons eerder bymekaar as apart wees.

Ds. Cornel is egter nie hier hierdie Sondag nie, maar in plaas daarvan dat ons iemand van buite moet inkry om te kom preek, berei hy vir ons ‘n spesiale aanlyn erediens voor.  Daar sal ook nie hierdie Sondag kategese of Jeugdiens wees nie.

Hou al ons aanlyn platforms dop en moenie hierdie spesiale Vadersdag-boodskap misloop nie.

Fliekaand 14 Mei 2021

Vrydagaand, 14 Mei, kyk ons saam na die fliek ‘Chocolat’ en ons gaan ook sommer lekker kuier met pannekoek en koffie.  Vir net R30 kan jy jou fliekkaartjie bespreek en dit sluit ‘n heerlike koppie koffie en ‘n kaneelsuiker pannekoek EN ‘n sjokolade pannekoek in.

Die fliek dien as inleiding en wegspringpunt vir ons Pinksterreeks wat Sondag begin.  Ons Pinksterreeks preke se tema is: “Die Heilige Gees, Tjoklits en Gewone Kerkmense”. Jy wil dit nie misloop nie!

Jy kan ook vir jou regte kaneelsuiker pannekoeke bestel om Vrydag daar te eet of vir by die huis gaan eet, teen R5 per pannekoek.

Die wegneem pannekoek sal al van 17:00 Vrydagmiddag beskikbaar wees om te kom haal.  En dan begin die fliek om 19:00 draai.

Bestel asb. jou wegneem pannekoeke EN bespreek jou fliekkaartjies met koffie en pannekoek voor Donderdagmiddag 16:00 by Louisa op haar selnommer, 082 921 6770.

Kom kuier saam!