Afkondigings

Dankoffers, Kollektes en Snapscan

In hierdie uitdagende tyd waar dinge nou bietjie ongemaklik is en nie werk soos wat ons gewoond is nie, moet ons aanhou om aanpassings te maak sodat ons nog kan vorentoe beweeg.  Die ellelange Lockdown tref ons almal hard en op verskillende vlakke en maak dit baie dinge moeiliker. Tog is daar in hierdie tyd belangrike werk wat moet voortgesit word en nog baie om voor dankbaar te wees.

So raak die feit dat ons nie normaal erediens kan hou, en ons weeklikse dankoffer as gemeentelede soos gewoonlik by die erediens kan gee nie, ook die Gemeente se begroting direk.

Daarom wil ons graag ‘n beroep op elke lidmaat van ons Weskerk-familie doen om aan te hou om offervaardig te wees en nog, sover dit vir jou moontlik is, jou weeklikse en maandelikse dankoffer te gee.

Met dit ingedagte wil ons dit vir jou so maklik as moontlik maak, en het die Kerkraad goedgekeur dat ons ‘n ekstra kanaal kan byvoeg waarlangs gemeentelede hul dankoffer kan bring, nl. Snapscan.

Jy kan sommer maklik met die Snapscan App op jou foon die Weskerk Snapscan-kode skandeer en direk jou dankoffer daar betaal.    Vir volledige instruksies om Snapscan te gebruik kan jy hier die dokument aflaai.  As jy op jou foon op hierdie skakel kliek dan neem dit jou ook direk na ons Snapscan betaalpunt.

Hierdie is slegs ‘n addisionele manier wat ons tot jou beskikking wil stel om dit, vir die wat daarmee gemaklik is en wat hierdie manier verkies, moontlik te maak om sonder moeite jou dankoffer te kan gee.  Al die ander maniere sal (wanneer ons weer bymekaar is!) nog beskikbaar wees.

Intussen kan jy ook, as jy dit so verkies, van ‘n EFT gebruik maak. Ons gemeente rekening besonderhede is soos volg:

  • NG Gemeente Ellisras-Wes
  • ABSA Tjekrekening
  • Nommer: 1470 590 145

Mag die Here jou seën dat jy vir ander tot seën kan wees in hierdie tyd en mag Hy in elke behoefte wat jy het voorsien.

Weskerk en Corona

Liewe Weskerk-Familie

Soos wat jy seker teen die tyd reeds bewus is, is die wêreld behoorlik aan die gons oor die Corona-virus en die Staatspresident se dringende reëlings wat dit betref. Daarom is dit nodig dat ons hierdie belangrike boodskap aan jou stuur.  Jy kan ook [HIER KLIEK] om die brief in PDF-formaat af te laai as jy dit graag vir iemand wil aanstuur.

Ons het kommunikasie van die Noordelike Sinode en vanaf die Algemene Sinode ontvang oor die aangeleentheid en op grond daarvan en verskeie oorwegings is daar by die Kerkraadsvergadering van 17 Maart 2020 besluit dat ons ook as gemeente sal moet reageer.

Ek haal aan uit die Noordelike Sinode se skrywe:

 “3. In die lig van die moontlikheid dat die virus hoogs aansteeklik is, nog voordat enige simptome sigbaar is, steun die moderatuur die gedagte dat die vermyding van sosiale kontak nie in die eerste plek gaan oor die moontlikheid dat ek by iemand anders kan aansteek nie, maar die risiko dat ekself, onwetend, iemand anders kan aansteek. 

  1. Uit die voorafgaande blyk dit onafwendbaar dat gemeentes dit baie ernstig behoort te oorweeg om sover moontlik alle byeenkomste, insluitende eredienste, tot na die Paasnaweek te kanselleer. Die getal van 100 is immers nie ‘n magiese getal wat aansteeklikheid bepaal nie, maar ‘n oproep om sosiale verkeer tot die noodsaaklike te beperk.”

Om aan hierdie oproep gehoor te gee, nie uit vrees nie, maar om ons eie liefdesverantwoordelikheid na te kom het die Kerkraad daarom besluit om die volgende drie Sondae (22 en 29 Maart, en 5 April) se geskeduleerde eredienste, asook gesamentlike Bybelstudie- en Selgroepbyeenkomste te kanselleer.

Die Kerkraad sal dan op die 6de April weer die situasie evalueer en weer besin oor die moontlikheid om voort te kan gaan met ons Paasnaweek feesvieringe.

Dit is voorwaar ‘n uitdagende tyd vir die Kerk reg oor die wêreld.  Natuurlik wil ons graag bymekaar kom en saam die Here aanbid as gemeente.  Hierdie krisis is egter ‘n geleentheid wat ons kan aangryp om weer as gesinne nader aan mekaar te groei.

Ons, elkeen van ons, gaan daarom in die volgende paar weke ekstra moeite moet doen om op ander, nuwe maniere gewortel te bly in die Woord, nader aan mekaar te groei, vrugte te dra, vir mekaar skaduwee te gee en die Skepper te verheerlik. Dit is nou die tyd om hierdie geloofsgewoontes van ons werklik uit te leef!

Hou asseblief al die gemeente kommunikasie kanale (SMS’e, ons webtuiste, Facebook, WhatsApp, e-posse, ens.) dop waar ons op gereelde basis wil voortgaan met die Bediening in watter vorm ookal en so veel as moontlik.  Al kan ons mekaar nie fisies sien nie, kan ons aanhou om mekaar te ondersteun en aanhou om die Woord te verkondig.

Hierdie Sondag se erediens sal dan elektronies plaasvind en wil ek jou graag uitnooi om Sondagoggende om 8:30 nog steeds deel te neem daaraan en die video van die diens te kyk of die oudio te luister daar waar jy en jou gesin ookal is.  Ons sal vir jou al die nodige inligting stuur van waar jy oral kan kyk en luister en dit so maklik as moontlik probeer maak sodat ons almal saam kan deelwees daarvan.

Soos jy seker self kan aflei gaan die diakens nie na die diens by jou huis om kom vir die weeklikse kollekte nie, en wil ons graag ‘n beroep op elke lidmaat doen om nog offervaardig te bly in hierdie tyd en via die kerkkantoor en die gemeente se elektroniese kanale sal aanhou om jou dankoffer by te dra. Sodat die werk van die gemeente ook in hierdie kritiese tyd, sover moontlik, ononderbroke kan voortgaan.

Ons werk ook aan maniere om hierdie proses te vergemaklik en sal jou deurgans daarvan op hoogte hou.  Baie dankie vir jou begrip en volgehoue, getroue ondersteuning!

Dit is hier waar ons visie van “Waar Elkeen SY Kerk Is” begin grondvat en ons elkeen ons deel kan doen.  Kom ons doen ons bes om mekaar te ondersteun, te help en te beskerm.  Kom ons doen, elkeen, alles in ons vermoë om die verspreiding van die virus stop te sit.  Kom ons hou aan om vir mekaar, vir die regering en die siekes en die medici wêreldwyd te bid.  Kom ons praat mekaar ook moed in en bly positief deur nie valse inligting te versprei of aan te blaas nie.

Die gebed wat Paulus ook vir die gemeente bid in Efesiërs 3:14-21 is ook my gebed vir jou in hierdie tyd:

14Daarom kniel ek in gebed voor die Vader 15aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. 16Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. 20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

 En mag dieselfde begeerte, teenoor mekaar, ook in ons harte leef as wat daar by Paulus was in 1 Tessalonisense 2:17 as hy sê: “Wat ons betref, broers, toe ons nog maar ‘n kort rukkie van julle geskei was – wel uit die oog, maar nie uit die hart nie – het ons so baie na julle verlang dat ons alles in ons vermoë gedoen het om julle weer te sien.”

Groete en Seën

Ds. Cornel Viljoen

Ons Nuwe Jeugdiens

Op die 5de April 2020 begin daar iets nuuts, iets groots, in ons gemeente – ons hou Jeugdiens!

Ons Jeugdienste vind volgende kwartaal op Sondae aande om 18:00 plaas (op die Sondae wat dit nie langnaweek is nie…)  Hierdie is nie sommer net ‘n gewone aandiens nie – dit is ‘n diens en dit is in die aand, maar dit is soveel meer! Dit is spesiaal vir ons jongmense – die musiek, die boodskap, die gesprekke, die tema’s, die koffie, die hele gedoente!

Ons droom en bid al ‘n geruime tyd daaroor om méér vir ons jongmense te doen en wil graag ‘n ruimte skep waar ons saam meer van die Here en sy Kerk kan leer.  Maar regtig leer en leef en deelneem en groei – nader aan God en aan mekaar.  Dat ons jongmense nie net ‘n klomp informasie kry nie, maar werklik kan begin wortelskiet in die Woord, vir mekaar kan begin skaduwee gee, nader aan medegelowiges kan groei in sterker verhoudings, hul Skepper beter kan ken en Hom verheerlik en om te kan vrugte dra in die rowwe wêreld daar buite en oral waar hulle beweeg. (See what I did there?) 😉 

Dit is wat ons graag met ons Jeugdiens op Sondae aande wil bereik.  Die Jeugdiens is die plek waar ons gemeente se Senior Kategese gaan gebeur!  Maar dit is natuurlik oop vir enige jongmens wat wil kom saam Worship en saam leer en saam groei.

Bring ‘n pel saam en kom aanbid/leer/groei/sing/spring/loof/gesels/leer/beleef dit saam met ons!

Sien jou daar!

Wit Olifant Verkoping

Ons het mos almal daar by die huis ‘n bruikbare ding wat net êrens in ‘n hoek staan en stof opgaar. Ja ek praat van daai oefenmasjien! Maar so is daar klomp ander gebruiksartikels wat jy nie noodwendig gebruik nie, maar dalk presies die ding is wat iemand anders nodig het.

So ons hou weer, soos laasjaar, ‘n Garage Sale as ‘n fondsinsamlingsprojek vir die gemeente. Maar hierdie jaar wil ons dit bietjie anders doen en van Facebook (mis)gebruik maak om dit makliker te maak en wyer te versprei.

Daarom begin ons ‘n lekker Wit Olifant-Projek met ‘n andersheid:
Jy maak ‘n aanbod op die items wat ons plaas of jy skenk ‘n item in ‘n goeie, bruikbare en verkoopbare toestand en ons doen die res.
Wees oulik en “like” en “share” sommer die post op Facebook. Ons is mos mededeelsaam en dan verkoop die items sommer vinniger.

Jy kan vir Karin by die kerkkantoor kontak oor jou Wit Olifante wat jy graag wil skenk en sommer vir haar foto’s daarvan stuur.

Dankie vir jou ondersteuning!