Liewe Weskerk-Familie
Soos wat jy seker teen die tyd reeds bewus is, is die wêreld behoorlik aan die gons oor die Corona-virus en die Staatspresident se dringende reëlings wat dit betref. Daarom is dit nodig dat ons hierdie belangrike boodskap aan jou stuur. Jy kan ook [HIER KLIEK] om die brief in PDF-formaat af te laai as jy dit graag vir iemand wil aanstuur.
Ons het kommunikasie van die Noordelike Sinode en vanaf die Algemene Sinode ontvang oor die aangeleentheid en op grond daarvan en verskeie oorwegings is daar by die Kerkraadsvergadering van 17 Maart 2020 besluit dat ons ook as gemeente sal moet reageer.
Ek haal aan uit die Noordelike Sinode se skrywe:
“3. In die lig van die moontlikheid dat die virus hoogs aansteeklik is, nog voordat enige simptome sigbaar is, steun die moderatuur die gedagte dat die vermyding van sosiale kontak nie in die eerste plek gaan oor die moontlikheid dat ek by iemand anders kan aansteek nie, maar die risiko dat ekself, onwetend, iemand anders kan aansteek.
- Uit die voorafgaande blyk dit onafwendbaar dat gemeentes dit baie ernstig behoort te oorweeg om sover moontlik alle byeenkomste, insluitende eredienste, tot na die Paasnaweek te kanselleer. Die getal van 100 is immers nie ‘n magiese getal wat aansteeklikheid bepaal nie, maar ‘n oproep om sosiale verkeer tot die noodsaaklike te beperk.”
Om aan hierdie oproep gehoor te gee, nie uit vrees nie, maar om ons eie liefdesverantwoordelikheid na te kom het die Kerkraad daarom besluit om die volgende drie Sondae (22 en 29 Maart, en 5 April) se geskeduleerde eredienste, asook gesamentlike Bybelstudie- en Selgroepbyeenkomste te kanselleer.
Die Kerkraad sal dan op die 6de April weer die situasie evalueer en weer besin oor die moontlikheid om voort te kan gaan met ons Paasnaweek feesvieringe.
Dit is voorwaar ‘n uitdagende tyd vir die Kerk reg oor die wêreld. Natuurlik wil ons graag bymekaar kom en saam die Here aanbid as gemeente. Hierdie krisis is egter ‘n geleentheid wat ons kan aangryp om weer as gesinne nader aan mekaar te groei.
Ons, elkeen van ons, gaan daarom in die volgende paar weke ekstra moeite moet doen om op ander, nuwe maniere gewortel te bly in die Woord, nader aan mekaar te groei, vrugte te dra, vir mekaar skaduwee te gee en die Skepper te verheerlik. Dit is nou die tyd om hierdie geloofsgewoontes van ons werklik uit te leef!
Hou asseblief al die gemeente kommunikasie kanale (SMS’e, ons webtuiste, Facebook, WhatsApp, e-posse, ens.) dop waar ons op gereelde basis wil voortgaan met die Bediening in watter vorm ookal en so veel as moontlik. Al kan ons mekaar nie fisies sien nie, kan ons aanhou om mekaar te ondersteun en aanhou om die Woord te verkondig.
Hierdie Sondag se erediens sal dan elektronies plaasvind en wil ek jou graag uitnooi om Sondagoggende om 8:30 nog steeds deel te neem daaraan en die video van die diens te kyk of die oudio te luister daar waar jy en jou gesin ookal is. Ons sal vir jou al die nodige inligting stuur van waar jy oral kan kyk en luister en dit so maklik as moontlik probeer maak sodat ons almal saam kan deelwees daarvan.
Soos jy seker self kan aflei gaan die diakens nie na die diens by jou huis om kom vir die weeklikse kollekte nie, en wil ons graag ‘n beroep op elke lidmaat doen om nog offervaardig te bly in hierdie tyd en via die kerkkantoor en die gemeente se elektroniese kanale sal aanhou om jou dankoffer by te dra. Sodat die werk van die gemeente ook in hierdie kritiese tyd, sover moontlik, ononderbroke kan voortgaan.
Ons werk ook aan maniere om hierdie proses te vergemaklik en sal jou deurgans daarvan op hoogte hou. Baie dankie vir jou begrip en volgehoue, getroue ondersteuning!
Dit is hier waar ons visie van “Waar Elkeen SY Kerk Is” begin grondvat en ons elkeen ons deel kan doen. Kom ons doen ons bes om mekaar te ondersteun, te help en te beskerm. Kom ons doen, elkeen, alles in ons vermoë om die verspreiding van die virus stop te sit. Kom ons hou aan om vir mekaar, vir die regering en die siekes en die medici wêreldwyd te bid. Kom ons praat mekaar ook moed in en bly positief deur nie valse inligting te versprei of aan te blaas nie.
Die gebed wat Paulus ook vir die gemeente bid in Efesiërs 3:14-21 is ook my gebed vir jou in hierdie tyd:
14Daarom kniel ek in gebed voor die Vader 15aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. 16Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. 20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.
En mag dieselfde begeerte, teenoor mekaar, ook in ons harte leef as wat daar by Paulus was in 1 Tessalonisense 2:17 as hy sê: “Wat ons betref, broers, toe ons nog maar ‘n kort rukkie van julle geskei was – wel uit die oog, maar nie uit die hart nie – het ons so baie na julle verlang dat ons alles in ons vermoë gedoen het om julle weer te sien.”
Groete en Seën
Ds. Cornel Viljoen