Ons Nuwe Jeugdiens

Op die 5de April 2020 begin daar iets nuuts, iets groots, in ons gemeente – ons hou Jeugdiens!

Ons Jeugdienste vind volgende kwartaal op Sondae aande om 18:00 plaas (op die Sondae wat dit nie langnaweek is nie…)  Hierdie is nie sommer net ‘n gewone aandiens nie – dit is ‘n diens en dit is in die aand, maar dit is soveel meer! Dit is spesiaal vir ons jongmense – die musiek, die boodskap, die gesprekke, die tema’s, die koffie, die hele gedoente!

Ons droom en bid al ‘n geruime tyd daaroor om méér vir ons jongmense te doen en wil graag ‘n ruimte skep waar ons saam meer van die Here en sy Kerk kan leer.  Maar regtig leer en leef en deelneem en groei – nader aan God en aan mekaar.  Dat ons jongmense nie net ‘n klomp informasie kry nie, maar werklik kan begin wortelskiet in die Woord, vir mekaar kan begin skaduwee gee, nader aan medegelowiges kan groei in sterker verhoudings, hul Skepper beter kan ken en Hom verheerlik en om te kan vrugte dra in die rowwe wêreld daar buite en oral waar hulle beweeg. (See what I did there?) 😉 

Dit is wat ons graag met ons Jeugdiens op Sondae aande wil bereik.  Die Jeugdiens is die plek waar ons gemeente se Senior Kategese gaan gebeur!  Maar dit is natuurlik oop vir enige jongmens wat wil kom saam Worship en saam leer en saam groei.

Bring ‘n pel saam en kom aanbid/leer/groei/sing/spring/loof/gesels/leer/beleef dit saam met ons!

Sien jou daar!