Wêreldreisigers Gemeente-Ete 11 Februarie 2024
Op 11 Februarie 2024 hou ons weer heerlik saam gemeente-ete. Ons bring weer elkeen iets om te eet en deel dit met mekaar. MAAR… hierdie keer gaan ons so bietjie op reis en maak verskillende disse van regoor die wêreld.Afkondigings 28 Januarie 2024
📣 Afkondigings 📣
🔎 Ons sit môre oggend 28 Januarie om 8:30 ons reis deur Markus voort en lees hoofstuk 1:2-8. Lees gerus die inleiding tot Markus by https://weskerk.co.za/markus/ as jy dalk verlede week misgeloop het.
✅ Onthou om asb ingevulde Kategese Inskrywingsvorms en ‘Projek 240 vir 2024’-vormpies saam te bring.
🧁 Heerlike nuwe Koeksisters te koop @R50 ‘n pakkie – beperkte voorraad. Moenie dit misloop nie 🤤
📖 Kinderkerk 8:30. TakTiek en Belydenisklas 9:30
🏕 TakTiek kamp info: https://weskerk.co.za/kamp/
☕ Kom kuier lekker saam ná die diens. Sien jou daar!
Groot dinge vir 2024!
Hoop jy het lekker gerus en is reg vir ‘n groot jaar saam met Weskerk. Hierdie Sondag 21 Januarie skop ons af en is die bal aan die rol!
Hierdie jaar wil ons ons fokus instel op groei – geestelike groei, nader aan die Here, en gemeentelike groei, nader aan mekaar.
Om geestelik te groei gaan ons nie ligtelik met die Bybel omgaan nie, maar eerder probeer om ons regtig daarin te verdiep. Daarom gaan ons by ons eredienste op een Bybelboek fokus nl. Markus. Daar is iets wonderliks om só die Bybel te lees en nie net elke week ‘n ander vers te lees nie. Mens ontdek soveel meer en sien juis dan hoe die hele Bybel se boeke saam die Boodskap verkondig. So bring sommer jou eie Bybel saam sodat jy kan rondblaai en notas maak.
Om ons nog verder hiermee te help groei gaan ons ook nie net op Sondae besig wees nie, maar ook op Woensdae aande om 18:30 saam
dieper delf in die Bybel in. En bo-op dit kan jy een van die dae ook ons splinternuwe app op jou foon aflaai – nie net om ingelig te bly oor alles wat in ons gemeente gebeur nie, maar ook om daagliks verder saam te groei.
Ons wil ook hierdie jaar meer saam sing en saam lofprysingsfeeste vier tot eer van die Here. Dit bly wonderlik om te sien hoedat die Here die lof wat ons aan Hom bring weer gebruik om iets in ons harte te doen, ons versterk en ons toerus. Hy is waardig om geprys te word!! So hou die pers dop vir wanneer ons oggend-lofprysingsdienste én aand-worship dienste gaan wees.
Om as gemeente te groei gaan ons natuurlik meer gereeld saam eet, maar ons gaan ook saam speel, lag, kuier en saam werk. So kyk uit vir die datums op die app, website en sosiale media.
Ons moet besef dat die Here ONS geroep het om sy gemeente te wees. Dis reg, dit is natuurlik SY gemeente, maar dit is ONS wat geroep is om daardie gemeente te WEES. Dit is nie ‘n persoon of enkele persone se gemeente nie. Ons is SAAM in hierdie ding. Daarom wil ons begin om ook regtig saam verantwoordelikheid te vat vir alles wat in die gemeente gebeur, en dit begin met dit wat reeds elke Sondag gedoen moet word sodat ons byeenkoms as gemeente ‘n vreugdevolle getuienis kan wees van Wie ons Koning is.
Daarom wil ons vir jou uitnooi om deel te word van een van die dienspanne wat op Sondae kan help om seker te maak alles loop goed. Die idee is nie dat dit jou lewe nou moet oorneem en dat jy jouself moet dood werk nie. Dit moet juis nie een alleen wees nie, maar ons saam. As ons net 4 mense kry in elke spannetjie beteken dit dat jy net 13 keer per jaar aan diens is. Kom wees deel van die span. Saam is ons beter!
Ons dreig ook nou al baie lank om weer bietjie te kamp. Daar gaan ons saam groei en natuurlik ook geestelik groei! Sodra ons die kampdatums in die besige jaarprogram uitgekerf het dan is ons kalender ook sommer gefinaliseer en kan ons dit ook versprei.
Mag 2024 vir jou en vir elkeen van ons ‘n groei-jaar wees tot eer van die Here en tot uitbou van sy Koninkryk!
Desember 2023 Reëlings
Goeie môre gemeente, broers en susters, familie en vriende en almal tussen in!
Kan jy glo ons is al in Desember?! 🥴 Die jaar het darem vreeslik vinnig verby gevlieg en ek het so gevoel Desember gaan nog vinniger verby wees.
Nietemin, vir Desember het ons ‘n vreeslike lekker program. Indien jy dalk die Sondag wat verby is se diens gemis het, hier is die belangrikste info opgesom:
- Stephanie gaan nog vir die laaste drie maande van hierdie finansiële jaar, slegs tydelik, vir Ds. Cornel bystaan. In die besinning oor volgende jaar se begroting sal bepaal word hoe/of die behoefte aan ‘n nuwe personeelstruktuur aangespreek gaan word, ná die herstrukturering van poste vroeër hierdie jaar. Indien jy enige vrae/voorstelle het in hierdie verband is jy welkom om enige een van die Kerkraadslede te kontak.
- Cornel is op verlof en Stephanie sal instaan vir die res van Desember. Sy sal by haar foon wees en jy is welkom om te bel vir enige noodgeval – 076 718 8348
- As jy of iemand wat jy van weet, ‘n krisis het en hulp nodig het met iets om te eet, kontak gerus vir Ilze Buhrmann by 082 925 7818. Dit sal absoluut vertroulik hanteer word.
- Ons het afgeskop met ‘n vreeslike lekker preekreeks wat van die 3de Desember tot die 31ste Desember plaasvind. Ons gesels bietjie oor “Seisoene van die Siel”. Ons gaan kyk waar ons tans is en hoe kan ons ons emosionele welstand, ons fisiese welstand, en ons geestelike welstand identifiseer en gebruik om in die plek waar jy nou is vir God beter te ervaar. Moet dit nie misloop nie.
- Die eredienste werk elkeen met ‘n seisoen en ‘n kleur en ons moedig jou aan om ‘n lekker bok vir sport te wees en volgens die kleur aan te trek. En indien jy lus is om vir ons ietsie te bring om te eet of te drink met daardie kleur gaan dit net die dienste nog meer spesiaal maak! Die dienste vind in ons saal onder die aircons plaas en dis lekker intiem en ons sing kliphard saam.
- Die eredienste loop soos volg:
- 10 Desember – Lente se kleure is pers en silwer.
- 17 Desember – Somer se kleure is rooi en wit.
- 24 Desember – Herfs se kleure is groen en bruin.
- 31 Desember – Nuwe Lente se kleure is goud.
- die eredienste sal voorlopig gewone tyd 08:30 wees, tensy daar loadshedding is dan sal ons die tyd aanpas.
- Vir die twee spesiale eredienste in Desember nl. Geloftedag en Kersdag gaan daar nie by ons ‘n diens wees nie, maar skakel ons in by ons buurgemeentes (NG Albertyn, NHK Onverwacht, en NHK Ebenhaeser) vir gesamentlike dienste.
- Geloftedag 16 Desember by Hervormde kerk Onverwacht om 8:00.
- Kersdag 25 Desember by NG Gemeente Albertyn om 8:00.
Sien uit om die Desember ‘n lekker feestyd te hou saam so ‘n wonderlike gemeente! ❤
Kersete & Kerssangdiens 2023
Hierdie naweek vier ons fees! Saterdagaand om 19:00 hou ons Kersete en Sondagaand 18:30 hou ons Kerssangdiens.
Bring jou gunsteling gereg (vleis/slaai/brood/nagereg) genoeg vir jou gesin, en dan pak ons dit op die groot tafel en almal eet heerlik saam. Daar sit iets spesiaals daarin om so met mekaar te deel, dit wat ons bring, en om so saam met mekaar aan tafel te sit. Hierdie is jaarliks ‘n hoogtepunt op ons gemeente se kalender, jy wil dit verseker nie misloop nie. Stuur asb ‘n WhatsApp na Ds. Cornel by 071 880 1483 om te laat weet hoeveel mense jy saambring sodat ons genoeg plekke kan dek. En onthou ook jou eie drinkgoed!
Sondagaand voeg ons ons stemme saam om lof aan Koning Jesus te bring met ons Kerssangdiens. Hier by Weskerk doen ons dinge mos maar bietjie anders, so hierdie jaar gaan ons weer buitelug Kerssangdiens hou, maar hierdie keer onder die bome. Kom beleef dit saam met ons! Sondagaand vanaf 18:30. Hoop om jou daar te sien!
