Desember 2024 Eredienste
Hierdie Desember sluit ons aan by ons buurgemeentes in die dorp. Tussen die vier gemeentes nl. NG Wes, NG Albertyn, NHK Onverwacht, en NHK Ebenhaeser is daar elke Sondag een gesamentlike diens. Ook met Geloftedag, Kersdag en Oujaarsdag is daar ‘n gesamentlike diens. Bêre vir jou die prentjie iewers naby sodat jy elke week presies weet waar én hoelaat die dienste gaan wees.
Mag hierdie Christusfees vir jou en jou familie werklik geseënd wees en mag jy die Here se nabye teenwoordigheid tasbaar beleef in elke byeenkoms saam met medegelowiges in hierdie feestyd.
Kerssangdiens 1 Desember 2024 om 18:30
Jy word hartlik uitgenooi na ons Kerssangdiens hierdie Sondag, 1 Desember 2024 om 18:30. Ons gaan heerlik saam sing tot eer van ons Koning!Wie soek Potjie vir Kersfees – Kersete 30 November 2024
Ons jaarlikse Gemeente Kersete is om die draai. En hierdie jaar gaan dit lekker interessant raak. Ons maak Potjie! So dit werk soos gewoonlik dat jy bring jou gunsteling gereg en ons pak al die geregte uit op die lang tafel en almal eet van almal se kos. Maar hierdie jaar met een verskil – dit moet in ‘n potjie gemaak word (of voorgesit word!).
Jy kan natuurlik lekker kreatief raak. Dit hoef nie net ‘n tradisionele potjie te wees nie, dit kan enige iets lekker wees. Jy kan mos brood en slaai en poeding ook in ‘n potjie bou.
Die groot gedagte gaan daaroor dat ons bietjie langer wil saam kuier. Daarom gaan ons Saterdag 30 November reeds van 13:00 af begin kuier by die kerk. Ons gaan 18:30 in die saal opskep en eet. So jy kan enige tyd van 13:00 af kom aansluit. Jy weet mos hoe lank jou pot vat om gaar te word.
Die vuur en die eetgerei gaan daar wees, en die tafels word pratig deur ons Gemeente Sussies versier. So bring net jou drinkgoed (en jou potjie benodighede), en as jy buite by die vuur gemakliker wil sit, dalk jou gunsteling kampstoel.
Laat weet asb. teen Woensdag 27 November vir Selmari by die kerkkantoor hoeveel mense jy saambring en watse gereg jy gaan maak. Haar nr is 076 238 7373. Dan kan ons seker maak ons dek genoeg plekke en seker maak daar is genoeg kos vir almal.
Onthou die Kersete is eintlik die opwarming vir die Kerssangdiens van Sondag 1 Desember om 18:30. Moet dit nie misloop nie.
Hoop om jou daar te sien!
Sondag 24 November Erediens
Neem asb kennis dat ons erediens Sondag, 24 November, reeds om 8:00 begin. Stel solank jou wekker!
Lofprysingsfees en Nagmaal 10 November 2024

Hierdie Sondag, 10 November, het ons nie oggenddiens nie, maar wel ‘n heerlike Lofprysingsgeleentheid die aand om 18:30. Dit is ook ‘n spesiale Nagmaal omdat dit ook ons jongmense, wat pas belydenis van geloof afgelê het, se eerste Nagmaal is as belydende lidmate.
Daar is blykbaar rugby Sondagaand maar die Bokke gaan jou stem nie mis voor die TV nie, terwyl ons jou stem wel gaan mis wanneer ons saam sing!
Hoop om jou daar te sien.
