Markus 3:7-19 – Aanraking en Aanstelling

Gewoonlik het mense nie vreeslik baie rondgereis in Jesus se tyd nie.  Dit was ‘n duur en ‘n moeilike oefening.  Mense sou hul hulpbronne gespaar het om eerder die belangrikste reise aan te pak – soos die pelgrimsreise om tempel toe te gaan wanneer die Wet van die Here dit van hulle vereis het.  Maar nou hier in Markus 3 lees ons dat die mense van oral oor gereis het om na Jesus toe te kom.  Hier gebeur iets wonderliks – soos wat die mense gewoonlik Jerusalem toe gereis het om in God se teenwoordigheid te kan wees, so reis hulle nou ook na Jesus toe en bevind hulleself in Kapernaum in God se teenwoordigheid.

As gevolg van die ongelooflike onderdrukking deur die Romeinse owerhede was daar ernstige armoede, haaglike omstandighede, en wanvoeding onder die mense.  Dit het wyd verspreide siektes onder baie mense veroorsaak.  Daarom dat daar so menigte mense was wat na Jesus toe gekom het opsoek na genesing.  Wanneer Jesus hierdie mense gesond maak word die verskil tussen sy Koninkryk en die Romeinse Ryk baie duidelik sigbaar.

Die onrein geeste erken wie Jesus is.  Hulle besef dat Jesus bo-aan die gesagspiramiede staan, want Hy is God.  Maar op hierdie punt in die verhaal is dit vir Jesus belangrik dat mense nie nou die verkeerde idee moet kry nie.  Hy weet dat sy identiteit vir die Keiser en vir die Joodse Leiers ‘n probleem gaan wees, en op die ou end tot sy dood gaan lei, maar dit kan nie nou sy koers ontspoor nie.  Soos wat Markus vir ons gaan wys word Jesus se Ware Identiteit eers werklik openbaar wanneer Hy sterf aan die kruis.  Eers dan kan die mense verstaan juis hoe Hy die wêreld en die Romeine kom oorwin – met liefde en nie met die swaard nie.

Jesus kies dan ook 12 dissipels om Hom te help om sy Koninkryk aan te kondig.  Hierdie 12 is simbolies van God wat ‘n nuwe pad met mense kom stap.  Soos wat Hy met Jakob se 12 seuns, die 12 stamme van Israel, ‘n verbond gesluit het, begin Hy nou iets nuuts en sluit ons almal daarby in.  God sit sy pad voort my sy volk.

Hierdie 12 is nie spesiaal nie, hulle besit nie ‘n stel uitsondelike eienskappe wat hulle kwalifiseer om hierdie werk te doen nie. Dit is Jesus wat hulle MAAK wat hulle is.  Hy is die Een wat hulle toerus en kwalifiseer vir die werk.  So word ons ook ingetrek by die verhaal, word ons ook deel van God se pad met die mens, vorm ons deel van Jesus se span.  Kyk hoe mooi is sy verhouding met die 12.  Kyk wat gebeur met hulle wanneer hulle tyd met Hom spandeer.  Daarvoor roep die Here ons ook!

Markus 2:23-3:6 – Here oor die Sabbat

Markus weef die verhaal meesterlik aanmekaar.  Die vorige twee gedeeltes en die eerste perikoop in hierdie gedeelte word aan mekaar gebind met die tema van eet – Jesus eet saam met Levi (2:13-17), die vraag oor die vastyd (2:18-22), en nou die are pluk en eet (2:23-28).  Markus koppel dit aan mekaar wanneer die volgende  twee gedeeltes dan oorgaan na die tema van die sabbat.

Die Fariseërs daag vir Jesus uit oor sy interpretasie van die sabbatswette.  Hulle (en ons!) het egter so gefokus geraak op die reëls rondom die sabbat dat hulle die punt van die sabbat totaal en al begin mis het. In Genesis 2:3 en Eksodus 16 kry ons die oorspronklike doel van die sabbat – dat die Here dit vir die mens gemaak het sodat ons kan rus en juis rus vind in Hom.  Die Here Jesus bevestig dit in sy antwoord aan die Fariseërs in Markus 2:27  “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie.”

Die Here weet dat ons rus nodig het.  Hy het ons so gemaak.  Hy weet dat ons tyd nodig het om by Hom te kom rus en onsself gereeld weer aan Hom te bind.  Ons het in ons pogings om “heilig” te wees, of om “die wet na te kom” dieselfde met Sondag gedoen as wat die Fariseërs met die sabbatdag gedoen het.  In die proses het ons dit ook reggekry om meer bekommerd te wees oor alles wat ons nie mag doen nie as wat ons die tyd spandeer het om te groei in ons verhouding met die Here en weer by Hom rus te vind.

Jesus bewys sy punt in die volgende gedeelte wanneer die Fariseërs probeer om bietjie eer terug te wen deur Hom weer te probeer uitvang met die sabbatswette.  Hulle wil sien of Hy iemand gaan gesond maak op die sabbatdag, maar Hy doen niks en maak nog steeds die man se hand gesond.  Hy sê net vir hom: “Steek jou hand uit” en toe is die man se hand reeds gesond.

Waar die Fariseërs gefokus was op die nakoming van die reël, was Jesus gefokus op die welstand van die mens.  Volgens hulle reëls mag Jesus nie iemand gesond maak op die Sabbatdag nie, maar hulle gaan direk daarna na die Herodiane om Jesus se dood te beplan. Hoe ironies!

Jesus, die Een wat die Sabbat ingestel het, loop saam met sy dissipels deur die gesaaides en maak seker hulle kry genoeg om te eet.  Jesus, God self by Wie ons rus kan vind, wil met ons in verhouding staan, wil vir ons genesing en herstel bring.  Hoe lyk ons weeklikse roetines?  Getuig dit nog van mense vir wie tyd saam met God belangrik is?  Getuig dit van ons vertroue op die Here wat vir ons sorg?  Hoe lyk ons nakoming van die Wet van die Here – hou dit méér in as die van die Fariseërs?  Groei ons nader aan God en nader aan mekaar in liefde?

Markus 2:13-22 – Jesus Gesentreerd

In Markus 2:13-14 lees ons dat Jesus vir Levi (dis nou Matteus) roep om Hom te volg.  Sonder enige vrae staan Levi op en begin om Jesus te volg.  Net daarna lees ons dat Jesus by Levi se huis gaan eet het, saam met ‘n klomp ander sondaars.  Hierdie situasie het die skrifgeleerdes vreeslik ontstel.

Hoe kan Jesus iemand soos Levi – ‘n tollenaar – roep om een van sy binnekring te word?  Tollenaars het alles verteenwoordig wat verkeerd is met die wêreld.  Hulle was die verpersoonliking van die Romeinse onderdrukking en hulle het boonop die belasting gehef wat die Jode so onderdruk het.  Hulle is gesien as korrupte verraaiers.  Nie naastenby, in hulle oë, iemand wat dit werd is om ‘n dissipel van ‘n Joodse Rabbi soos Jesus te word nie.  En boonop gaan Jesus nog by Levi tuis en eet saam met hom en sy sondaar vriende.

Dit is hoe die Fariseërs en die skrifgeleerdes die wêreld beskou het.  En ongelukkig hoe ons in die kerk ook baie keer maak.  Dat daar ‘n sekere lysie van standaard eienskappe is waaraan mense moet voldoen en solank as wat jy nie daaraan kan voldoen nie, is jy ‘n buitestaander en bly jy buite!  Jy is net ‘n Christen as jy aan al daardie vereistes voldoen.  Hierdie manier hang af van die mens se eie vermoë en wilskrag om dit reg te kry om aan al die vereistes te voldoen.

Jesus kom wys egter ‘n nuwe manier.  Hy kom vorm ‘n Jesus-gesentreerde gemeenskap rondom Hom.  Hier gaan dit nie oor wat jy al reggekry het of hoe goed of hoe sleg jy was nie, maar gaan dit oor Jesus wat jou nooi om Hom te volg.  Hy is in die middel.  Wat jou identiteit bepaal is nie jou vermoë nie, maar eerder die rigting waarin jy oppad is.  Is jy oppad nader aan Jesus, of verder van Hom af.  Levi was vêr van Jesus af toe hy geroep is, maar daarna is hy oppad na Jesus toe.  Judas was in die binnekring, naby aan Jesus, maar was duidelik oppad weg van Jesus af.

Volgens die godsdienstiges was dit wat Jesus gedoen het nie reg nie – om saam met sondaars en tollenaars te eet, en om nie te vas nie.  Maar Jesus verander mense se harte en daarom ook die rigting waarin hulle beweeg.  Hy eet nie saam met sondaars om vir hulle te sê hy keur hulle sonde goed nie, Hy doen dit sodat hulle kan weet dat Hy hulle liefhet en kan reageer op sy uitnodiging om Hom die sentrum van hulle lewens te maak.  Die sondaars en tollenaars weet dat Hy nie hulle sonde goedkeur nie, nie saam stem met hulle lewenstyl nie, maar tog wil hulle saam met Hom eet, naby aan Hom wees…

Die Fariseërs sê verander dan is jy in.  Jesus sê kom volg my, kom nader… en dan kan jy nie anders as om nuut te wil word nie.

Waarmee is ons besig?  Waarheen is ons oppad?  Is dit wat ons doen Jesus-gesentreerd?  Hoe is ons eie lewens en ons kerkwees ‘n weerspieëling van die manier hoe Jesus sy Koninkryk kom bou het?

Markus 2:1-12 – Vriende en Vergifnis

Terwyl Jesus (waarskynlik by Petrus se huis in Kapernaum) besig is om met die mense te praat oor die Koninkryk van God wat tot by hulle gekom het, word Hy van bo af onderbreek.  ‘n Verlamde man se vriende het besluit hulle MOET hom net by Jesus uitkry sodat hy genesing kan kry.  Die beste plan wat hulle kon maak om dit reg te kry is om ‘n gat in die huis se dak te breek en hul vriend deur die dak tot by Jesus te laat sak.  Wat ‘n konsternasie!

Deur hierdie desperate poging wys hulle dat hulle op Jesus vertrou.  Hulle sou nie so spektakel van hulleself gemaak het as hulle nie vir seker oortuig was dat Jesus hulle vriend sou kon genees het nie.

Maar Jesus reageer glad nie soos ons sou verwag nie.  Eerstens maak hy nie ‘n bohaai oor die choas wat hulle veroorsaak en die skade wat hulle aanrig nie.  Tweedens praat hy vir eers glad nie oor die verlamde se gebrek en daaropvolgende genesing nie.  Nee, Jesus se eerste reaksie is om vir die verlamde man te sê dat sy sonde vergewe is.  Dit laat mens wonder…

Maar deur by vergifnis te begin spreek Jesus nie net die verlamde man se groter nood aan nie, maar wys Hy ook Wie Hy werklik is.  Sonde hier gaan nie oor ‘n lysie van dinge wat die man verkeerd gedoen het nie, maar eerder oor ‘n breuk in sy verhouding met God.  Vir die mense daardie tyd was die feit dat hy verlam was nie net ‘n sigbare teken dat hy van God afgesny is nie, maar was dit ook in die praktyk so omdat hy nie by die tempel kon uitkom nie.

Wanneer Jesus dan sê dat sy sonde vergewe is, dan kom herstel Hy die verlamde man se verhouding met God.  Maar hoe sal ‘n mens kan sien dat daardie verhouding herstel is as hy dan nog steeds verlam is? Deur die verlamde man dan te genees, is dit presies wat Jesus dan sigbaar bewys – dat Hy die mag het om sonde te vergewe.

Jesus maak nie net praatjies nie.  Hy oortree nie op God se terrein deur mense te vergewe nie.  Hy is God self! Hy praat en dit gebeur!  Vêr van die tempel af, sonder ‘n priester, sonder ritueel, kom God self tot by mense en kom herstel die verhouding.

Dit bring ons by die vraag: wat GLO ons oor Jesus?  Ons sê maklik dat ons in Hom glo, maar kyk wat het hierdie verlamde man se vriende se geloof gedoen.  Dit wat hulle oor Jesus geglo het, het gemaak dat hulle oorgaan tot aksie.  Hulle vertroue in Hom het gemaak dat hulle iets doen!  Wat as ons geloof in Jesus, en dit wat ons glo oor Jesus ook meer as net persoonlike godsdienstigheid beteken, maar oorgaan tot AKSIE…

Markus 1:32-35 – Melaatsheid en Messiansheid

In Jesus se tyd was daar ander wonderdoeners in die omtrek.  Hulle het hulself op spesifieke plekke gevestig sodat die mense kon weet waar om hulle op te soek.  Vir ‘n oomblik het dit gelyk asof die dissipels vir hulself uitgewerk het dat Jesus ook so ‘n wonderdoener is en dit die rede is waarom die mense Hom die heeltyd opsoek.  Jesus is egter anders, en méér as ‘n wonderdoener – Hy is God!

Ons sien ook dat Jesus nie op een plek bly sodat die mense weet waar om Hom te soek nie.  Hy beweeg rond. Hy is God wat mense kom opsoek.  So sien ons hoedat Jesus ook op ‘n afgeleë plek gaan bid het. Die mense moes op spesifieke, spesiale plekke bid om kontak met God te maak.  Jesus is God wat kontak met mense kom maak.

Markus bewys weereens vir ons sy vorige stellings oor Jesus se identiteit. Jesus is waarlik God self wat onder ons kom woon het.  Dit word verder bewys deur die daaropvolgende gebeure met die genesing van die melaatse man.

Om melaats te wees het beteken dat jy werklik van alles afgesny is.  Ons ken die uitdrukking van om “melaats te wees/voel”.  Maar dit kom van ‘n letterlike situasie af omdat mense met die siekte regtig uitgeworpenes was.  Hulle was sosiaal en godsdienstig geisoleer.  Hulle is as onrein gesien en enige kontak moes daarom streng vermy word.  Hulle kon ook nie die tempel besoek nie en was daarom ook van God af afgesny.

Hierdie godsverlate, eensame mens kom kniel voor Jesus en smeek om genesing.  En wat doen Jesus?  Hy steek sy hand uit, raak aan hom en maak Hom gesond.  Boonop herstel Jesus hom ook in die samelewing sodat niemand kan twyfel of hy werklik gesond is nie deurdat Hy hom stuur om die nodige offers te bring en almal kan sien dat hy nie meer van God afgesny is nie.

Ver van die tempel af en ver van God af (so het hy gedink!), staan God reg voor hom, raak hom aan en genees hom.  Nie net van sy siekte nie, maar van sy onreinheid en sosiale en godsdienstige onaanvaarbaarheid.

Jesus is meer as net ‘n wonderdoener. Hy is God self wat kom genees, aanraak, herstel.

Markus 1:16-31 – Dissipels, demone en drake

In Markus 1:15 sê Jesus: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Wat gebeur wanneer die Koninkryk naby kom? Wanneer dit kom tot by beroepsvissermanne?  Wanneer dit kom tot by iemand wat van ‘n bose gees besete is?  Wanneer dit naby kom, tot by ‘n weduwee wat plat geslaan is met koors?  Dit is wat ons sien gebeur in vers 16-31.

Jesus kom wys hoe anders sy Koninkryk en sy Koningskap is.  Anders as die Romeinse ryk wat mense verstoot, vertrap, in die greep van skuld en belasting dompel, verdruk, en vervolg.  Jesus sluit in, nooi in, genees en maak vry.

Dit wat Markus tot dusver vir ons oor Jesus gesê het, oor Wie Hy is, word nou sigbaar deur Jesus se dade bewys.  Ons sien dit in die vissermanne se reaksie wanneer Hy hulle roep.  Ons sien dit in die mense in die sinagoge se reaksie wanneer Hy hulle leer.  Ons sien dit in die bose gees se reaksie waneer Hy dit beveel om stil te bly en die persoon te verlaat.  Ons sien dit wanneer Hy Petrus se skoonma se hand vat en haar van haar siekte genees.  Hy is GOD!

Net God praat en dit gebeur.  Net God het die mag oor die bose.  Net God, die Outeur self, kan meer doen as om die Skrif te lees en te interpreteer en met gesag mense leer.  Dieselfde God wat die hemel en die aarde gemaak het, kom openbaar Homself wanneer Hy ook die weduwee wat niks van haarself oor het nie se hand kom vat en haar weer in ere herstel.

God se Koninkryk het ook naby aan ons gekom.  Dink hoe anders is daardie Koninkryk as die “koninkryke” van die wêreld wat oor ons probeer oorheers. Ons maak God se Koninkryk sigbaar wanneer ons sy Koningskap oor ons lewens aannvaar en dit op so manier uitleef dat dit sigbaar word oral waar ons kom.  Leef só dat mense kan sien Wie die Koning van jou lewe is.

PS. Gaan luister hierdie week se preek om te hoor waar die drake vandaan kom…

Markus 1:9-15 – Die Koning wat Hom met ons kom vereenselwig

Ons kry ‘n dringendheid by Markus wat anders is as die ander evangelieskrywers.  Markus mors nie tyd of woorde nie – hy wil by die punt uitkom.  Daar is nie ‘n lang inleiding met baie agtergrond nie, nie lang redenasies en verduidelikings nie.  Hy sê reg van die begin af waaroor en oor Wie dit gaan, sê waarom hierdie boodskap geloofwaardig is en dan is Jesus dadelik aan die woord.  Die woord wat ons met “net daarna, dadelik, onmiddelik” sou vertaal kom 11 keer net in hoofstuk 1 voor en 42 keer in totaal in Markus se evangelie.

Markus wil vir ons iets sê oor die dringendheid van hierdie boodskap – Jesus is doelgerig op pad. God is doelbewus besig om sy verlossingsplan uit te voer.

Anders as aardse konings en anders as Romeinse Keisers is ons Koning nie vêr af en hoog op in sy paleis nie.  Hy kom vereenselwig Hom met ons.  Hy doen dit deur ook gedoop te word en daardeur te wys dat Hy deel is van hierdie Koninkryk wat in Hom en deur Hom kom.  Vir mense wat uitgestoot is en buitestanders geword het kom Hy en trek nuwe lyne – Hy maak ons deel van sy nuwe binne-kring.

Hy vereenselwig Hom ook met ons deur self ook versoeking deur te gaan.  Hy gaan alles deur wat ons ook deurgaan.  Soos wat Job se lojaliteit teenoor God destyds getoets is, so word God se lojaliteit teenoor die mens getoets wanneer die Satan vir Jesus versoek.   Maar God se liefde vir sy kinders kan nie uitgedoof word nie.

Hierdie Teenstander (die Satan) en elke teenstander van Jesus wat ons in die res van die evangelie gaan leer ken, kan nie vir Jesus onderkry nie.  Niks kan Hom van sy Missie lat afwyk nie.  Hy kom kondig die goeie nuus dekreet aan: God se Koninkryk is hier!  Daar is vrylating vir gevangenes, daar is vergifnis, daar is nuwe lewe.

Wat beteken Jesus se boodskap in Markus 1:15 vir jou vandag?

“Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Hoe wonderlik is dit nie dat ons ook hierdie woorde ons eie kan maak nie!  Ook ons kan bly wees want die Koning wat Hom ook met ons kom vereenslewig is by ons.  Sy Koninkryk is anders as hierdie stukkende wêreld.  By Hom is daar lewe, vergifnis, bevryding!  Hoe sou dit lyk as jy jou vandag bekeer en die evangelie glo?

Markus 1:2-8 – Iemand roep in die woestyn

Meer as 400 jaar vóór die koms van Jesus sê die profeet Maleagi dat die volgende gebeurtenis in die ontvouing van God se plan is nie die koms van die Messias self nie, maar die boodskapper wat sy koms sou aankondig:

“Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom.” – Maleagi 3:1

Met hierdie aanhaling uit Maleagi saamgevoeg met Jesaja 40:3 bevestig Markus die geloofwaardigheid van sy boodskap, maar tegelyke tyd ook die geloofwaardigheid (en belangrikheid!) van Johannes wat nou op die toneel verskyn.  Ook met sy beskrywing van Johannes se vreemde voorkoms (v. 6) wil hy wys dat daar geen twyfel is dat Johannes die profeet van God is wat wel die koms van die Messias kom aankondig het nie. Sy voorkoms kom duidelik ooreen met die van Elia (2 Kon 1:8) en sy koms word ook só die Maleagi 4:5 voorspel.

Johannes het in die woestyn opgetree, vêr van Jerusalem en die tempel af.  Daar in die wildernis begin God weer ‘n nuwe pad met sy kinders.  Hy kom wys dat Hy nie net agter die voorhangsel in die tempel is nie, en dat Hy ook nie net met die godsdienstige elite werk nie, maar kom openbaar Hy homself aan gewone mense, buitestaanders en uitgeworpenes.

Vergifnis was ‘n skaars verskynsel in die Romeinse Ryk.  Daar is alles teen jou gehou en jy moes altyd op een of ander manier daarvoor boet.  Die Here en sy Koninkryk is anders as die keiser en sy selfbehepte ryk.  Johannes roep mense om hul rûe te draai op die weg van die Romeinse Ryk en op ‘n nuwe pad te loop, en hulle te vereenselwig met God se Koninkryk.

Dit is presies wat gebeur wanneer Johannes hulle dan doop.  Hulle word ingelyf in God se Koninkryk.  God maak hulle deel van sy groep.  Hulle is nie meer buitestaanders nie, maar deel van Sy binnekring.  In omstandighede waar mense die heeltyd deur die Romeine verstoot en verdruk word is daar ongelooflike troos omdat God juis die teenoorgestelde doen.

Johannes sê dat Jesus ons met die Heilige Gees doop.  God kom blaas sy Heilige Asem, sy lewegewende Asem in ons in.  In Hom is daar lewe, selfs al staar ons die dood in die gesig!  Om volgens die waardes van sy Koninkryk te leef bring ook nuwe lewe in ‘n verottende wêreld.

In hierdie paar verse kom wys Markus vir ons Wie Jesus werklik is.  Hy is waarlik God met ons!  God self, wat gesê het Hy gaan kom, wat aan die woord was deur sy profete.  God wat lewe gee deur sy asem in ons in te blaas.  Jesus is God wat die straf wat ons moes dra, ons skuld, op Homself neem en vir ons die lewe bring.

Taktiek Kamp 2-3 Februarie 2024

TakTiek maats!

Ek hoop jy is reg vir aksie, want die kamp is om die draai!  Hier kom ‘n ding!
Lees die volgende info alles mooi, noukeurig deur dat jy nie êrens iets mis nie:

PLEK:  Ons kamp by Komunati Lodge. Dis net buite die dorp, om die draai!

TYD & VERVOER:  Almal moet groot asseblief alreeds 15:00 (3 uur) Vrydagmiddag 2 Februarie, by die kerk wees.  Ons ry van daar af saam.  As pa of ma kan help om ‘n maatjie of 3 saam in die kar te laai sal dit great wees. So reël asb. saamry onder mekaar. Die kamp hou aan tot Saterdag 3 Februarie tot 11:30 wanneer ons weer by die kamp vertrek.

KOSTE:  Die hele naweek met al die pret en al die lekker kos wat ons gaan vreet (en glo my ons gaan VREET!) gaan jou net R150.00 kos.  What a bargain!

INSKRYWINGS:  Maak asseblief seker dat jou vorm en jou kampgeld teen Woensdag 31 Januarie 2024 reeds ingegee is.  Dit gaan al die reëlings darem baie makliker maak. Nou-nou koop ons te min kos en dan ly jy honger, so maak seker jou plek is geboek!

[DOWNLOAD DIE INSKRYWINGSVORM HIER]

Jy kan jou kampgeld in die Kerk se rekening inbetaal met verwysing [JOU NAAM] Kamp.  Jou vorm kan jy email na kamp@weskerk.co.za of sommer WhatsApp vir Stephanie by 076 718 8348.

Bankbesonderhede:

NG Gemeente Ellisras-Wes
ABSA Tjekrekening
Nommer: 1470 590 145

Hier is ‘n lysie van als wat jy moet saambring:

  1. Bybel, papier en pen
  2. Gemaklike klere
  3. Iets warms (dit is Ellisras, maar net vir ingeval dit koud is!)
  4. Gemaklike skoene en tekkies
  5. Toiletware en ‘n handdoek
  6. Kussings, kombers, slaapsak
  7. Eetgerei
  8. Flits
  9. Een pakkie koekies/beskuit (dit is vir ons almal se coffee breaks)
  10. Biltong vir die dominee  😉

Hoop jy is net so opgewonde oor die kamp soos ek.  Moenie vergeet om jou inskrywingsvorm betyds in te handig nie!

Sien jou daar!