Meer as 400 jaar vóór die koms van Jesus sê die profeet Maleagi dat die volgende gebeurtenis in die ontvouing van God se plan is nie die koms van die Messias self nie, maar die boodskapper wat sy koms sou aankondig:
“Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom.” – Maleagi 3:1
Met hierdie aanhaling uit Maleagi saamgevoeg met Jesaja 40:3 bevestig Markus die geloofwaardigheid van sy boodskap, maar tegelyke tyd ook die geloofwaardigheid (en belangrikheid!) van Johannes wat nou op die toneel verskyn. Ook met sy beskrywing van Johannes se vreemde voorkoms (v. 6) wil hy wys dat daar geen twyfel is dat Johannes die profeet van God is wat wel die koms van die Messias kom aankondig het nie. Sy voorkoms kom duidelik ooreen met die van Elia (2 Kon 1:8) en sy koms word ook só die Maleagi 4:5 voorspel.
Johannes het in die woestyn opgetree, vêr van Jerusalem en die tempel af. Daar in die wildernis begin God weer ‘n nuwe pad met sy kinders. Hy kom wys dat Hy nie net agter die voorhangsel in die tempel is nie, en dat Hy ook nie net met die godsdienstige elite werk nie, maar kom openbaar Hy homself aan gewone mense, buitestaanders en uitgeworpenes.
Vergifnis was ‘n skaars verskynsel in die Romeinse Ryk. Daar is alles teen jou gehou en jy moes altyd op een of ander manier daarvoor boet. Die Here en sy Koninkryk is anders as die keiser en sy selfbehepte ryk. Johannes roep mense om hul rûe te draai op die weg van die Romeinse Ryk en op ‘n nuwe pad te loop, en hulle te vereenselwig met God se Koninkryk.
Dit is presies wat gebeur wanneer Johannes hulle dan doop. Hulle word ingelyf in God se Koninkryk. God maak hulle deel van sy groep. Hulle is nie meer buitestaanders nie, maar deel van Sy binnekring. In omstandighede waar mense die heeltyd deur die Romeine verstoot en verdruk word is daar ongelooflike troos omdat God juis die teenoorgestelde doen.
Johannes sê dat Jesus ons met die Heilige Gees doop. God kom blaas sy Heilige Asem, sy lewegewende Asem in ons in. In Hom is daar lewe, selfs al staar ons die dood in die gesig! Om volgens die waardes van sy Koninkryk te leef bring ook nuwe lewe in ‘n verottende wêreld.
In hierdie paar verse kom wys Markus vir ons Wie Jesus werklik is. Hy is waarlik God met ons! God self, wat gesê het Hy gaan kom, wat aan die woord was deur sy profete. God wat lewe gee deur sy asem in ons in te blaas. Jesus is God wat die straf wat ons moes dra, ons skuld, op Homself neem en vir ons die lewe bring.