In Markus 1:15 sê Jesus: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”
Wat gebeur wanneer die Koninkryk naby kom? Wanneer dit kom tot by beroepsvissermanne? Wanneer dit kom tot by iemand wat van ‘n bose gees besete is? Wanneer dit naby kom, tot by ‘n weduwee wat plat geslaan is met koors? Dit is wat ons sien gebeur in vers 16-31.
Jesus kom wys hoe anders sy Koninkryk en sy Koningskap is. Anders as die Romeinse ryk wat mense verstoot, vertrap, in die greep van skuld en belasting dompel, verdruk, en vervolg. Jesus sluit in, nooi in, genees en maak vry.
Dit wat Markus tot dusver vir ons oor Jesus gesê het, oor Wie Hy is, word nou sigbaar deur Jesus se dade bewys. Ons sien dit in die vissermanne se reaksie wanneer Hy hulle roep. Ons sien dit in die mense in die sinagoge se reaksie wanneer Hy hulle leer. Ons sien dit in die bose gees se reaksie waneer Hy dit beveel om stil te bly en die persoon te verlaat. Ons sien dit wanneer Hy Petrus se skoonma se hand vat en haar van haar siekte genees. Hy is GOD!
Net God praat en dit gebeur. Net God het die mag oor die bose. Net God, die Outeur self, kan meer doen as om die Skrif te lees en te interpreteer en met gesag mense leer. Dieselfde God wat die hemel en die aarde gemaak het, kom openbaar Homself wanneer Hy ook die weduwee wat niks van haarself oor het nie se hand kom vat en haar weer in ere herstel.
God se Koninkryk het ook naby aan ons gekom. Dink hoe anders is daardie Koninkryk as die “koninkryke” van die wêreld wat oor ons probeer oorheers. Ons maak God se Koninkryk sigbaar wanneer ons sy Koningskap oor ons lewens aannvaar en dit op so manier uitleef dat dit sigbaar word oral waar ons kom. Leef só dat mense kan sien Wie die Koning van jou lewe is.
PS. Gaan luister hierdie week se preek om te hoor waar die drake vandaan kom…