Markus se “ooggetuie verslag” oor Jesus se lewe begin eenvoudig:
“Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:” – Mark 1:1
Dit klink soos ‘n baie eenvoudige inleidende sin met woorde wat vir ons baie bekend klink. Vir die eerste lesers/hoorders van hierdie vers was die woorde ook bekend, maar dit was vir hulle woorde wat hulle oë moes laat rek het, hulle ore laat spits het, en hulle harte vinniger laat klop het.
Evangelies was deur die Keiser afgekondig – dit was koninklike dekrete wat goeie nuus aangekondig het. In daardie tyd was Nero die keiser en was sulke goeie nuus dekrete maar skaars. Verder het Nero (en ander keisers) ook homself as “die seun van god” en god self gesien.
So wanneer Markus hier sê dat Jesus die Seun van God is en dat Hy ‘n dekreet uitvaardig, maak hy ‘n baie sterk politieke stelling teen Rome en teen die keiser. Hy sê daardeur nie net dat hier kom goeie nuus nie, maar dat hierdie goeie nuus van die WARE Koning af kom. Die Koning wie se Koninkryk anders lyk as die Romeinse Ryk.
Dit moet ons laat besef dat die Evangelie werklik uitdagend is. Dit is uitdagend vir hulle wat dit hoor, omdat dit vir elkeen vra: wie is jou koning? Maar ook vir elkeen wat die Evangelie glo is dit ‘n uitdaging om met woord en daad te verkondig dat Jesus Koning is.
Die Goeie Nuus wat Jesus bring is van ‘n Koninkryk wat anders werk as aardse koninkryke en Hy roep ons om ons lewens te leef in sy Koninkryk onder sy Heerskappy.
Dink na oor jou eie verstaan van die konsepte van “evangelie”, “Seun van God” en “Koningskap”. Ons verstaan van Markus 1:1 en van hierdie konsepte gaan ‘n bepalende rol speel in hoe ons die res van die boek verstaan.
Luister ook gerus na hierdie week se preek [HIER].
Voordat ons die Evangelie volgens Markus begin lees eers so bietjie agtergrond.