Markus 1:1 – Evangelie

Markus se “ooggetuie verslag” oor Jesus se lewe begin eenvoudig:

“Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:” – Mark 1:1

Dit klink soos ‘n baie eenvoudige inleidende sin met woorde wat vir ons baie bekend klink.  Vir die eerste lesers/hoorders van hierdie vers was die woorde ook bekend, maar dit was vir hulle woorde wat hulle oë moes laat rek het, hulle ore laat spits het, en hulle harte vinniger laat klop het.

Evangelies was deur die Keiser afgekondig – dit was koninklike dekrete wat goeie nuus aangekondig het.  In daardie tyd was Nero die keiser en was sulke goeie nuus dekrete maar skaars. Verder het Nero (en ander keisers) ook homself as “die seun van god” en god self gesien.

So wanneer Markus hier sê dat Jesus die Seun van God is en dat Hy ‘n dekreet uitvaardig, maak hy ‘n baie sterk politieke stelling teen Rome en teen die keiser.  Hy sê daardeur nie net dat hier kom goeie nuus nie, maar dat hierdie goeie nuus van die WARE Koning af kom.  Die Koning wie se Koninkryk anders lyk as die Romeinse Ryk.

Dit moet ons laat besef dat die Evangelie werklik uitdagend is.  Dit is uitdagend vir hulle wat dit hoor, omdat dit vir elkeen vra: wie is jou koning?  Maar ook vir elkeen wat die Evangelie glo is dit ‘n uitdaging om met woord en daad te verkondig dat Jesus Koning is.

Die Goeie Nuus wat Jesus bring is van ‘n Koninkryk wat anders werk as aardse koninkryke en Hy roep ons om ons lewens te leef in sy Koninkryk onder sy Heerskappy.

Dink na oor jou eie verstaan van die konsepte van “evangelie”, “Seun van God” en “Koningskap”.  Ons verstaan van Markus 1:1 en van hierdie konsepte gaan ‘n bepalende rol speel in hoe ons die res van die boek verstaan.

Luister ook gerus na hierdie week se preek [HIER].

Agtergrond oor Markus

Voordat ons die Evangelie volgens Markus begin lees eers so bietjie agtergrond.

Die gemeente waarvoor Markus skryf het in Rome geleef toe Nero die keiser was. Markus is die oudste en eerste van die drie Sinoptiese Evangelies (Matteus, Markus en Lukas).

Volgens oorlewering was die skrywer die Johannes Markus, die neef van Barnabas waarvan ons in Handelinge leer (vgl. Handl 15:36-40). Markus was die seun van Maria by wie se huis die eerste gelowiges in Jerusalem bymekaargekom het (Handl 12:12).  Markus skryf tussen 64 en 70 nC, net ná die vervolging deur Nero en net voor die vernietiging  van die Tempel.

Markus het ‘n spesifieke groep mense waarvoor hy skryf en wil aan hulle ‘n spesifieke boodskap oordra.  Hy skryf vir gelowiges wat ly omdat hulle in Jesus glo.  Hulle lewens was konstant in gevaar a.g.v. die dinge wat Nero alles aangevang het.  Is dit nog die moeite werd om Jesus te volg?  Markus vertel vir hulle van Jesus se lyding, en dit gee vir hulle perspektief op hulle eie lyding.  Binne in die Romeinse ryk vertel Markus vir hulle van ‘n ander Koning en ‘n ander Koninkryk.  Die aard van hierdie nuwe Koning, die Een wat hulle volg bepaal die aard van hulle volgelingskap.

Ons kan Markus in drie hoofdele verdeel:

  • Die Koninkryk is hier (1:1-15)
  • Die stryd om die Koninkryk (1:16-14:2)
  • Die oorwinning van die Koninkryk (14:3-16:8)