Voordat ons die Evangelie volgens Markus begin lees eers so bietjie agtergrond.
Die gemeente waarvoor Markus skryf het in Rome geleef toe Nero die keiser was. Markus is die oudste en eerste van die drie Sinoptiese Evangelies (Matteus, Markus en Lukas).
Volgens oorlewering was die skrywer die Johannes Markus, die neef van Barnabas waarvan ons in Handelinge leer (vgl. Handl 15:36-40). Markus was die seun van Maria by wie se huis die eerste gelowiges in Jerusalem bymekaargekom het (Handl 12:12). Markus skryf tussen 64 en 70 nC, net ná die vervolging deur Nero en net voor die vernietiging van die Tempel.
Markus het ‘n spesifieke groep mense waarvoor hy skryf en wil aan hulle ‘n spesifieke boodskap oordra. Hy skryf vir gelowiges wat ly omdat hulle in Jesus glo. Hulle lewens was konstant in gevaar a.g.v. die dinge wat Nero alles aangevang het. Is dit nog die moeite werd om Jesus te volg? Markus vertel vir hulle van Jesus se lyding, en dit gee vir hulle perspektief op hulle eie lyding. Binne in die Romeinse ryk vertel Markus vir hulle van ‘n ander Koning en ‘n ander Koninkryk. Die aard van hierdie nuwe Koning, die Een wat hulle volg bepaal die aard van hulle volgelingskap.
Ons kan Markus in drie hoofdele verdeel:
- Die Koninkryk is hier (1:1-15)
- Die stryd om die Koninkryk (1:16-14:2)
- Die oorwinning van die Koninkryk (14:3-16:8)