Jesus begin om vir sy dissipels te leer wat dit regtig beteken om agter Hom aan te kom, om Hom te volg. Net in die voorafgaande gedeelte het hulle bely dat Hy die Messias is, maar nou moet hulle leer wat dit beteken.
Jesus sê dat “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën”. As ek die woord “verloën” dink ek dadelik aan Petrus wat Jesus verloën het. Maar dit gaan hier oor meer as om net te ontken dat jy iemand ken. As jy iemand verloën het dan het jy jouself van daardie persoon gedistansieer en so hul eer aangetas. Die gemeente in Rome moes hierdie woorde baie duidelik hoor. Hulle lewens was daagliks in gevaar en hulle moes daarom geweet het wat dit beteken om jouself ter wille van Jesus te verloën.
So ook wanneer Jesus praat van kruisdra: Nero het Christene sommer vir niks gekruisig nie. So die gesig van ‘n Christen wat in Rome se strate geloop het en die dwarsbalk van die kruis waaraan hul sou sterf op die skouers dra, was nie ‘n totaal en al ongewone gesig nie. Vir hulle was hierdie woorde baie letterlik op hulle van toepassing. In plaas daarvan om hul van Jesus te distansieer net om nog ‘n paar dae op aarde te kan leef, moes hul bereid wees om hulself te verloën vir die ewige lewe.
Vir Markus is die lewe meer as net die lewe hier op aarde. Vir Hom is die ewige lewe ‘n realiteit en word die dood net die deur daarna. Die rede waarom dit moontlik is, is omdat Jesus self vir ons die weggebaan het. Deur sy dood aan die kruis en sy opstanding het Hy die weg oopgebreek vir ons om te kan lewe.
Markus sê vir ons dat daar niks in hierdie lewe is wat waardevol genoeg kan wees om die ewige lewe te oortref nie. Niks waaraan ons hier sou wou vasklou wat sou kon maak dat ons die lewe by God sou wou prys gee nie. Daarom sê Jesus: “Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal ‘n mens kan gee in ruil vir sy lewe?”
Vir Markus breek die Koninkryk van God met krag aan met Jesus se opstanding. Hy kyk terug daarna en weet dit is die waarheid. Hy weet die dood loop op die lewe uit, omdat Jesus leef. Die dissipels het op daardie stadium nog nie geweet wat hierdie woorde beteken het nie, maar het self ook die dood met dapperheid in die gesig gestaar omdat hulle ook daarna die opgestane Here gesien het.
Ons kan ook hierin hoop en moed skep en weet dat ongeag van ons omstandighede en of ons selfs die dood in die gesig staar, die dood is nie die einde nie, maar die deur na die Lewe. Maar ons moet ook hoor dat dissipelskap iets van ons vra – ALLES van ons vra. En dat ons nie net bereid moet wees om vir Jesus te sterf nie, maar ook bereid moet wees om vir Hom te LEEF!
Die wonderbaarlike genesing van die blinde man in Markus 8:22-26 funksioneer amper soos ‘n lewende gelykenis. Net soos met die genesing van die doofstom man in die vorige hoofstuk sien ons weer ‘n ander manier van genesing hier. Jesus wys dat Hy groter is as al die wonderdoeners en sg. genesers van sy tyd en dat Hy werklike genesing bring.
Die Here Jesus gee vir sy dissipels ‘n hersieningstoets. Wéér vind daar die wonderwerk van die vermeerdering van die brood plaas. Hierdie keer 7 broodjies vir meer as 4000 mense. Hierdie rondte is dit die Here self wat dit inisieer, dit is Hy wat die mense innig jammer kry en wil seker maak hulle almal kry kos.
In die voorafgaande gedeelte het die Here Jesus die Fariseërs en die Skrifgeleerdes se monde weer stil gemaak met sy antwoord op hulle vraag. Daar het Hy gewys dat hulle eerder aan mensgemaakte godsdienstige reëls vashou ten koste van die nakoming van God se gebod van liefde. Nou voeg Hy daad by die woord en bewys sy eie woorde waar.
Die Fariseërs en die Skrifgeleerdes was baie ernstig oor die nakoming van die godsdienstige wette. Hulle was so ernstig daaroor dat hulle nog ekstra wette ingebou het, amper as ‘n soort buffer om seker te maak dat hulle nie per ongeluk, sonder dat hulle dit weet, een van God se wette oortree het nie. Hulle was bang dat die Here hulle weer straf soos met die Ballingskap en hulle wou dit ten alle koste vermy. Dit het egter daarop uitgeloop dat dit naderhand meer oor hulle eie vroomheid gegaan het as wat dit gegaan het daaroor om die die Here te dien. Hulle het hulle eerder daarmee besig gehou om te kyk hoeveel beter en heiliger hulle as ander mense kon voorkom en het hulle liefdeloos en magsugtig geword.
Die vraag oor Jesus se identiteit is een wat reg deur Markus op die agenda bly. Die mense wonder wie Jesus is, en kom, tot ná die kruisiging, nie lekker by die antwoord uit nie. Hulle dink Hy is ‘n profeet of Elia of Johannes die Doper wat uit die dood uit opgestaan het. Met die vermeerdering van die brood in die wildernis kom wys Jesus self Wie Hy is – Hy is God! Dieselfde God wat sy volk daar in die woestyn gevoed het met brood uit die hemel, is dieselfde God wat vir sy mense brood gee om te eet in die wildernis.
Gelukkig eindig die verhaal nie by die grusame gebeure rondom Herodes se tafel daar in Markus 6:17-29 nie. Maar ons moet ook nie daardie gebeure in isolasie sien nie. Markus vertel hierdie twee verhale opsetlik direk na mekaar. Hy wil weer vir ons die kontras tussen die koninkryke van die wêreld en die Koninkryk van God, wat Jesus kom aankondig, uitwys.
Direk ná Jesus se verduideliking van die Gelykenis van die Saaier kry ons nog 3 kort gelykenisse. Gewoonlik lees en bedink ons hulle in isolasie en probeer elkeen apart analiseer om uit te vind wat hulle vir ons sê. Maar as mens mooi kyk na die verloop van die gesprek in Markus (eintlik al van hoofstuk 3 af) dan kom mens agter dat hierdie 3 gelykenisse baie meer met mekaar in gemeen het, en ook met die voorafgaande gelykenis. Jesus brei uit op die boodskap van en sy verduideliking van die Gelykenis van die Saaier – dit gaan eintlik nog al die tyd oor “luister”.
Hier aan die begin van Markus 4 kondig ons skrywer aan dat hier nou ‘n klompie gelykenisse op mekaar gaan volg. Wanneer Jesus dan begin met die opdrag, “Luister hier!” dan geld dit ook vir die ander gelykenisse wat hierna volg.
Wanneer Markus hier in hoofstuk 3 na Jesus se familie verwys sluit dit lede van sy breër familie in. Hulle het gedink sy optrede is onvanpas omdat Hy te veel aandag trek in die openbaar. Deur hierdie skares van mense te trek het Jesus se familie beweer dat Hy hulle in die skande steek. Hulle het, volgens hulle oordeel, geen ander keuse gehad as om sy optrede in die openbaar af te keur. Hulle het gemeen Hy is buite Homself.