Markus 8:34-9:1 – Die Deur na die Lewe

Jesus begin om vir sy dissipels te leer wat dit regtig beteken om agter Hom aan te kom, om Hom te volg. Net in die voorafgaande gedeelte het hulle bely dat Hy die Messias is, maar nou moet hulle leer wat dit beteken.

Jesus sê dat “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën”.  As ek die woord “verloën” dink ek dadelik aan Petrus wat Jesus verloën het.  Maar dit gaan hier oor meer as om net te ontken dat jy iemand ken.  As jy iemand verloën het dan het jy jouself van daardie persoon gedistansieer en so hul eer aangetas. Die gemeente in Rome moes hierdie woorde baie duidelik hoor.  Hulle lewens was daagliks in gevaar en hulle moes daarom geweet het wat dit beteken om jouself ter wille van Jesus te verloën.

So ook wanneer Jesus praat van kruisdra: Nero het Christene sommer vir niks gekruisig nie.   So die gesig van ‘n Christen wat in Rome se strate geloop het en die dwarsbalk van die kruis waaraan hul sou sterf op die skouers dra, was nie ‘n totaal en al ongewone gesig nie.  Vir hulle was hierdie woorde baie letterlik op hulle van toepassing.  In plaas daarvan om hul van Jesus te distansieer net om nog ‘n paar dae op aarde te kan leef, moes hul bereid wees om hulself te verloën vir die ewige lewe.

Vir Markus is die lewe meer as net die lewe hier op aarde.  Vir Hom is die ewige lewe ‘n realiteit en word die dood net die deur daarna.  Die rede waarom dit moontlik is, is omdat Jesus self vir ons die weggebaan het.  Deur sy dood aan die kruis en sy opstanding het Hy die weg oopgebreek vir ons om te kan lewe.

Markus sê vir ons dat daar niks in hierdie lewe is wat waardevol genoeg kan wees om die ewige lewe te oortref nie.  Niks waaraan ons hier sou wou vasklou wat sou kon maak dat ons die lewe by God sou wou prys gee nie.  Daarom sê Jesus: Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal ‘n mens kan gee in ruil vir sy lewe?”

Vir Markus breek die Koninkryk van God met krag aan met Jesus se opstanding.  Hy kyk terug daarna en weet dit is die waarheid.  Hy weet die dood loop op die lewe uit, omdat Jesus leef.  Die dissipels het op daardie stadium nog nie geweet wat hierdie woorde beteken het nie, maar het self ook die dood met dapperheid in die gesig gestaar omdat hulle ook daarna die opgestane Here gesien het.

Ons kan ook hierin hoop en moed skep en weet dat ongeag van ons omstandighede en of ons selfs die dood in die gesig staar, die dood is nie die einde nie, maar die deur na die Lewe.  Maar ons moet ook hoor dat dissipelskap iets van ons vra – ALLES van ons vra.  En dat ons nie net bereid moet wees om vir Jesus te sterf nie, maar ook bereid moet wees om vir Hom te LEEF!

 

Markus 8:22-33 – Om duidelik te kan sien

Die wonderbaarlike genesing van die blinde man in Markus 8:22-26 funksioneer amper soos ‘n lewende gelykenis.  Net soos met die genesing van die doofstom man in die vorige hoofstuk sien ons weer ‘n ander manier van genesing hier.  Jesus wys dat Hy groter is as al die wonderdoeners en sg. genesers van sy tyd en dat Hy werklike genesing bring.

Hy wys egter ook vir ons presies die pad wat Hy met sy dissipels loop.  Hy neem hulle aan die hand en leer vir hulle van die Koninkryk.  Maar eers kan hulle net ‘n bietjie daarvan sien en verstaan.  Nou begin die Here nie meer doekies omdraai en nie meer in gelykenisse praat nie, maar nou praat Hy reguit.  Nou begin hulle agterkom (soos wat ons die volgende teksgedeelte kan sien) dat Jesus die Messias is.

Vers 27-30 lees amper net mooi parallel aan vers 22-26.  In die gesprek sien ons hoedat die Here sy dissipels gelei het en hulle eers bietjie ‘n dowwe beeld gehad het, maar dat hulle nou duideliker sien en sien dat Hy die Messias, die Christus, is.  Maar dit is nog nodig dat Hy hulle moet leer wat dit beteken.

Die dissipels, soos meeste ander Jode, se Messias verwagting was baie sterk gekoppel aan hulle lyding onder die Romeinse owerhede.  Hulle het ‘n politieke en millitêre figuur verwag wat hulle van die Romeinse onderdrukking sou kom red.  Geen wonder dat Petrus so ontstig was toe die Here begin om hulle te leer dat Hy gaan moet ly en sterwe nie.  Dan wys die Here presies uit en slaan die spyker op die kop van waaroor dit gaan: “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Dit is ongelukkig ons probleem (en die gemeente in Rome wat gely het onder Nero ook) dat ons ons eie persoonlike en selfsugtige idee van Jesus wil aanhang.  Ons hou van ‘n Jesus waarmee ons gemaklik is en wat doen wat ons wil hê Hy moet doen.

Ons kan egter nie die vraag wat Jesus aan sy dissipels in vers 29 vra: “wie, sê julle, is Ek?”, probeer antwoord sonder om ook te worstel met die vraag oor wat God wil hê nie (v. 33).

Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle nie moet gaan vertel dat Hy die Messias is nie.  Dit is omdat Hy nie wou gehad het dat die verkeerde boodskap moet uitgaan en verwarring en oproer moes veroorsaak nie.  Die dissipels moes eers leer wat sy Messiasskap werklik beteken het en dat dit anders was as wat hulle gedink het dit moet wees, voordat hulle vir mense kon vertel dat Hy waarlik die Messias was.  Hulle moes die gevolge van sy Messiaskap vir hulle dissipelskap verstaan.  Hulle moes verstaan dat Hy gekom het om te ly en te sterf vir ons sondes.

Ons moet dit ook verstaan en leerken en navolg.  Wanneer ons sy voorbeeld van lyding en diens en selfopofferende liefde navolg kan ons sy Messiaskap verkondig.

Markus 8:1-21 – ‘n Wonderteken uit die hemel

Die Here Jesus gee vir sy dissipels ‘n hersieningstoets.  Wéér vind daar die wonderwerk van die vermeerdering van die brood plaas.  Hierdie keer 7 broodjies vir meer as 4000 mense.  Hierdie rondte is dit die Here self wat dit inisieer, dit is Hy wat die mense innig jammer kry en wil seker maak hulle almal kry kos.

Mens sou dink dat die dissipels ná hulle die vorige keer gesien het wat die Here met die 5 broodjies en die 2 vissies gedoen het, hulle hierdie keer nie bekommerd sou wees oor hulle gebrek aan voorraad nie.  Maar ons sien in vers 4 dat die gedagte dat dit wat hulle het genoeg kan wees, nie by hulle opkom nie: “Waar sal ‘n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry?”

Weer wil Markus duidelik vir ons wys dat dit God is wat hier aan die werk is en weer wys die Here Jesus hoedat Hy dit wat die dissipels het gebruik en dit oorgenoeg maak om sy doel te bereik.  Dit is ook weereens opvallend dat Jesus hierdie wonderwerk DEUR sy dissipels doen – hy gee dit vir sy dissipels om aan die mense voor te sit.  Net soos die eerste vermeerdering van die brood is dit so ‘n mooi teken van hoe die Here in ons en deur ons werk om sy liefde en omgee aan die wêreld te wys.

Net hierna in Dalmanuta vra die Fariseërs vir Jesus vir ‘n wonderteken.  Jesus weet egter dat geen wonderteken hierdie groepie sal kan oortuig om Hom te volg nie.  Hy weet dat as sy dissipels wat naby Hom is nie eers kan verstaan Wie Hy is ná alles wat hulle gesien het nie, sal die Fariseërs dit tog ook nie sien nie.  Daarom weier Hy hulle versoek om ‘n wonderteken.  Hulle doel waarom hulle vir ‘n wonderteken is in elk geval verdag – hulle is opsoek na nog ‘n manier om Jesus uit te vang en vir hulleself te regverdig waarom hulle nie in Hom hoef te glo nie.  Net die wondertekens van die kruis en die opstanding kan maak dat Jesus se ware identiteit vir almal sigbaar word.

Daarna sien ons dit weer in die optrede van die dissipels.  Hulle vaar weer na die oorkant van die see, maar hulle het bietjie vergeet om kos saam te vat en het net een brood ingepak.  Weereens sou mens dink dat hulle nou teen die tyd nie bekommerd sou wees daaroor nie, want hulle het mos nou net weer gesien hoedat die Here in oorvloed vir sy mense sorg.  Maar tog wanneer die Here hulle waarsku teen die invloed van die Fariseërs en van Herodes, dan dink hulle dit is omdat hulle te min brood gebring het.

Die Here Jesus vat hulle dan weer terug na die twee wonderwerke van die vermeerdering van die brood en help hulle om weer te onthou wat daar gebeur het. En dan vra Hy vir hulle: “Verstaan julle dan nog nie?”  Ons kan ook baie keer, net soos die dissipels, in die wonderwerk self vaskyk en miskyk wat dit is wat die Here oor Homself daardeur openbaar.  Die Here Jesus kom wys hierdeur nie net WIE Hy is nie, maar ook HOE Hy is.  Hy is God wat vir sy mense omgee.  Hy het sy mense innig lief en gebruik dit wat ons bring en maak dit oorgenoeg om in ons en deur ons en vir ons met omgee te sorg!

Markus 7:24-37 – Elke “hondje” kry sy dag

In die voorafgaande gedeelte het die Here Jesus die Fariseërs en die Skrifgeleerdes se monde weer stil gemaak met sy antwoord op hulle vraag.  Daar het Hy gewys dat hulle eerder aan mensgemaakte godsdienstige reëls vashou ten koste van die nakoming van God se gebod van liefde.  Nou voeg Hy daad by die woord en bewys sy eie woorde waar.

Jesus reis van Galilea na Tirus toe.  Tirus was ver van Jerusalem af en daarom alklaar onrein, maar dit was ook ‘n hawestad waar verskillende mense van verskillende gelowe en kulture bymekaar was en daarom nog meer onrein.  Daar ontmoet Jesus ook iemand wat volgens die godsdienstige standaarde van daardie tyd BAIE onrein was – ‘n Griekse vrou wat in Siro-Finesië gebore is.  Sy vra Hom om haar dogtertjie van ‘n onrein gees te bevry.  Alles van hierdie situasie skree: “ONREIN, bly eerder weg!”  Alles van hierdie vrou, alles wat haar identiteit sou bepaal in daardie tyd, het gemaak dat geen geestelike leier by wie sy sou kon gaan hulp soek, eers in haar rigting sou kyk nie.

Maar Jesus kyk nie dieselfde na haar as die godsdienstiges van sy tyd nie.  Dit is nie waar jy vandaan kom, of waar jy is wat jou aanvaarbaar maak vir God nie.  Hy, en sy liefde en genade maak jou aanvaarbaar vir God!  AS ons soos die skrifgeleerdes na mense kyk, dan besluit ons wie aanvaarbaar genoeg is om welkom te wees en aanvaarbaar genoeg is om God se liefde by ons te kan ontvang.  Jesus daag ons grense en kriteria uit en daag ons uit om met sy oë na mense te kyk.

In die gesprek met haar, en die beeld van die kindertjies aan tafel en die hondjies wat die krummeltjies eet, wys Jesus ook dat Hy gekom het vir en deur die Jode as die Messias, maar dat Hy ook vir die hele wêreld gekom het. Sy genade is genoeg vir almal om in te kan deel.  Die vrou waag dit ook met Jesus, plaas haar hoop en geloof in Hom en Jesus genees haar dogtertjie – sonder dat Hy eers naby die dogtertjie gekom het.

Die Here reis van daar af na Dekapolis.  Jy sal onthou dat Hy vroeër ook daar was – toe Hy die bose geeste in die varke in gejaag het.  Intussen het die woord oor Hom ook in hierdie gebied versprei en bring die mense ook daar met sy aankoms siekes na Hom toe om te genees.  Jesus genees ‘n doofstom man van sy gebrek.  Hierdie keer deur aan hom te raak en spoeg aan sy tong te smeer.  Jesus wys dat Hy die mag ook oor siekte het en dat Hy op enige manier wat die sg. geneesheers van daardie tyd probeer het, mense se siektes kan genees.

Jesus het nie towerspreuke nodig om wonderwerke te doen nie.  Hy praat en dit gebeur.  In sy eie spreektaal sê Hy net “Effata” (Gaan oop!) en dit gebeur.

Die mense wat dit aanskou staan in verwondering en spreek hulle verwondering uit met woorde wat ons herinner daaraan dat Jesus God is: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.” (v. 37)  Hoe wonderlik is dit nie dat die Lewende God gekom het om onrein mense soos ek en jy te kom aanraak met sy liefde nie!

Markus 6:53-7:23 – Rein of Onrein

Die Fariseërs en die Skrifgeleerdes was baie ernstig oor die nakoming van die godsdienstige wette.  Hulle was so ernstig daaroor dat hulle nog ekstra wette ingebou het, amper as ‘n soort buffer om seker te maak dat hulle nie per ongeluk, sonder dat hulle dit weet, een van God se wette oortree het nie.  Hulle was bang dat die Here hulle weer straf soos met die Ballingskap en hulle wou dit ten alle koste vermy.  Dit het egter daarop uitgeloop dat dit naderhand meer oor hulle eie vroomheid gegaan het as wat dit gegaan het daaroor om die die Here te dien.  Hulle het hulle eerder daarmee besig gehou om te kyk hoeveel beter en heiliger hulle as ander mense kon voorkom en het hulle liefdeloos en magsugtig geword.

Wanneer hulle dan die Here Jesus uitdaag met ‘n vraag oor sy dissipels se versuim om die reinigingswette na te kom, vat Hy hulle hieroor aan.  Dit is ‘n omvattende, maar tog direkte en harde antwoord wat die Here vir hulle gee.  Hy haal uit Jesaja aan en beskuldig hulle daarvan dat hulle skynheilig is en sê dat hulle “laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.” (7:8)

Jesus gaan dan verder en bewys sy punt deur ‘n voorbeeld te gebruik van hoe die Fariseërs die reëls misbruik het.  Hulle het dit nagelaat om hulle ouers te versorg of te help en dan as ‘n verskoning (verontskuldiging) gesê dat hulle reeds dit wat hulle mee sou kon help aan die Here gewy het (korban – 7:11) en daarom niks meer oor het om te kan gee nie.

Dan vat die Here dit nog bietjie verder en praat oor die mense se idees oor kos.  Sien, hulle was meer gepla oor wat mens mag eet en nie mag eet nie, as wat hulle gepla was daaroor of hulle optrede mense rondom hulle seermaak of nie.  Daarom sê die Here vir hulle dat dit wat in die liggaam ingaan jou nie kan onrein maak nie, maar dit wat uit jou uitgaan, uit jou hart uit – dit maak jou onrein.  M.a.w. die dinge wat jy doen wat ‘n invloed op die mense rondom jou het, op die verhoudings waarin jy beweeg.  Kyk maar na die lysie wat Hy maak in 7:21-22.  As ons onsself skuldig maak aan daardie dinge, dán is ons besig om mense en verhoudings skade aan te rig, dán is ons onrein.

Dit help nie jy is trots op jouself omdat jy nie spek eet nie, maar jy afgunstig teenoor jou naaste nie.

Ons kan maklik na die Fariseërs se mensgemaakte voorskrifte kyk en dink dit is belaglik, maar as ons mooi dink dan moet ons besef dat daar baie sulke mensgemaakte voorskrifte is wat ons oor baie jare in die kerk ook as wette begin voorskryf het.  Daar het al soveel tyd, energie, mannekrag en bloed en trane daarin gegaan om hierdie tipe reëls te probeer nakom en te verdedig.  Ongelukkig moet ons erken dat ons baie maklik in ons eie weergawe van hierdie gat waarin die Fariseërs trap ook vasgevang raak.  Wanneer dit begin gaan oor ons eie vroomheid ten koste van verhoudings, ten koste van liefde.

Die Here roep ons vir méér!  Om meer aan Hom gehoorsaam te wees.  Hoe doen ons dit? Nie met mensgemaakte reëls wat misbruik word en gebuig word soos wat dit ons pas vir ons eie eer en aansien nie. Nee, met liefde – liefde vir God en vir ons naastes.  Dit is moeiliker, want dit beteken en moet myself gee, maar dit is die pad wat die Here self vir ons kom wys het.

Markus 6:45-52 – God loop op water

Die vraag oor Jesus se identiteit is een wat reg deur Markus op die agenda bly.  Die mense wonder wie Jesus is, en kom, tot ná die kruisiging, nie lekker by die antwoord uit nie.  Hulle dink Hy is ‘n profeet of Elia of Johannes die Doper wat uit die dood uit opgestaan het.  Met die vermeerdering van die brood in die wildernis kom wys Jesus self Wie Hy is – Hy is God!  Dieselfde God wat sy volk daar in die woestyn gevoed het met brood uit die hemel, is dieselfde God wat vir sy mense brood gee om te eet in die wildernis.

In die daaropvolgende gedeelte lees ons dat Jesus alleen by die berg opgaan en daarna alleen in die aand op die strand stap.  Dit was ongehoord vir mense van daardie tyd.  Dit was doodeenvoudig te gevaarlik.  Behalwe vir die rowers wat jou kon oorval in die nag of die besetenes wat in die grotte langs die see gebly het, het hulle ook geglo dat die bose geeste en demone in die aand in jou kon invaar en dat hulle in die water gebly het.

Waarom is Jesus nie bang nie?  Weereens kies Markus sy woorde baie mooi om vir ons te wys dat ons hier met die Skepper God te doen het.  Jesus op die berg is God op die berg, en Jesus daar alleen op die strand, is God op die strand.  Dieselfde God wat die waters en die berge geskep het staan hier langs die see en kyk uit oor die water.  Waarom sal Hy wat die waters van die aarde in die holtes van sy Hand afgemeet het bang wees vir die water?

Dan vat Hy dit nog ‘n stappie verder – Hy loop op die water!  Hoe weet ons nie, ons kan dit nie verduidelik nie, dis te groot vir ons begrip.  Maar Hy doen wat God doen.  God wat skep met net ‘n woord.  God wat die Rooi See oop kloof. God wat brood uit die hemel gee.  God wat water uit ‘n rots laat kom.  God wat op water loop…

Die dissipels skrik hulle boeglam, maar dan maak Jesus hulle gerus met ‘n groot stelling: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”  Hierdie ‘dit is Ek’ is in die Grieks: “Ek is”.  Dieselfde woorde waarmee God Homself identifiseer aan Moses in Eksodus 3:14 is die woorde wat Jesus hier gebruik: Ek is.  Die rede waarom die dissipels nie hoef bang te wees nie is omdat Jesus, God, Ek is, by hulle is.

Wat ‘n wonderlike vertroosting.  Nie net vir die dissipels daar in die boot nie, maar ook vir die gemeente in Rome en vandag vir ons.  Jesus is God.  God self het onder ons kom woon.  God self het gekom om in ons plek te kom sterf.  God self is by ons.  God is by jou!

Markus 6:30-44 – Fees van die Lewe

Gelukkig eindig die verhaal nie by die grusame gebeure rondom Herodes se tafel daar in Markus 6:17-29 nie.  Maar ons moet ook nie daardie gebeure in isolasie sien nie.  Markus vertel hierdie twee verhale opsetlik direk na mekaar.   Hy wil weer vir ons die kontras tussen die koninkryke van die wêreld en die Koninkryk van God, wat Jesus kom aankondig, uitwys.

By Herodes se fees is daar selfsug en magsug en uitbuiting en moord aan die orde.  Jesus vier fees saam met duisende mense in die wildernis, maar daar is rus en versorging, liefde en aanvaarding aan die orde.

Die gesprek begin eintlik by vers 14-16 waar die vraag oor wie Jesus dan nou eintlik is op die tafel kom.  Ook Herodes het gewonder wie Jesus kan wees, en kom tot die gevolgtrekking dat Hy moet Johannes die Doper wees wat uit die dood opgestaan het.  Maar Jesus kom wys daar op die afgeleë plek dat Hy nie ‘n profeet is wat terugkeer nie, maar dat Hy God self is wat vir sy mense sorg.

Jesus en sy dissipels gaan na ‘n “afgeleë plek” toe.  Woorde wat Markus baie mooi kies.  Dit kan ook vertaal word met wildernis of woestyn.  Daar in die wildernis is dit egter nie so stil soos wat hulle gehoop het nie, omdat duisende mense hulle ingewag het.  Maar die Here Jesus is besig om hierdie toneel op te stel om iets groots oor Homself te openbaar.  Hierdie duisende mense is, net soos die wat moes toekyk hoe daar met kos gemors word aan Herodes se tafel, ook randfigure, uitgelewerdes.  Jesus self beskryf hulle as “skape sonder ‘n wagter” en Hy het hulle innig jammer gekry.

Hierdie woorde herinner dadelik aan Numeri 27:16-17 waar Moses vir die Here sê: “Dan moet U, Here, God wat aan alle mense die lewe gee, iemand oor hierdie volk aanstel wat vir hulle ‘n leier en aanvoerder kan wees sodat die volk van die Here nie soos skape sonder wagter sal wees nie.”

Jy sien, Jesus is besig om die stukke op die bord te plaas… Nou kom die dissipels na Jesus toe en hulle is (in hulle onkunde) bekommerd oor hoe hulle vir al hierdie mense gaan kos gee.  Dan doen die Here die wonderwerk van die vermeerdering van die brood en is daar genoeg vir almal om te eet en nog wat oorgebly het.  ‘n Spesifieke getal word oorvloed.  Vyf brode en twee visse. Vyf plus twee is 7 – die getal van God.  Markus wil vir ons wys dat dit God is wat hier aan die werk is.  Twaalf mandjies vol bly oor – 12 is die getal van God se mense.  Twaalf dissipels deel dit uit en maak dit bymekaar.

Sien jy wat hier aan die gang is?  Dieselfde God wat in Eksodus daar in die woestyn sy mense met brood uit die hemel gevoed het, is dieselfde God wat nou sy mense hier in die wildernis voed met genoeg om te eet.  Jesus is God!  Dit is sy antwoord op die vraag oor sy identiteit in 6:14-16!  Ons Koning is nie soos die konings van die wêreld nie, en juis daarom verdien Hy al die lof en al die eer tot in ewigheid.

Wat ons ook nie moet miskyk nie, is hoe die Here hierdie wonderwerk deur sy dissipels se hande doen.  Jesus se sorg vir sy mense gebeur deur sy dissipels. Hy neem dit wat hulle het en maak dit meer as genoeg.  Dit is hoe die Here ook met sy Kerk werk, met jou en my, in ons en deur ons werk.  Bring wat jy het, en God maak dit meer as genoeg vir sy Koninkryk!

Markus 4:21-34 – Wie ore het moet luister

Direk ná Jesus se verduideliking van die Gelykenis van die Saaier kry ons nog 3 kort gelykenisse.  Gewoonlik lees en bedink ons hulle in isolasie en probeer elkeen apart analiseer om uit te vind wat hulle vir ons sê.  Maar as mens mooi kyk na die verloop van die gesprek in Markus (eintlik al van hoofstuk 3 af) dan kom mens agter dat hierdie 3 gelykenisse baie meer met mekaar in gemeen het, en ook met die voorafgaande gelykenis.  Jesus brei uit op die boodskap van en sy verduideliking van die Gelykenis van die Saaier – dit gaan eintlik nog al die tyd oor “luister”.

Die eerste gelykenis stel Jesus ‘n vraag oor die opsteek van ‘n lamp.  Dit was redelike moeite om ‘n lamp aan te steek in daardie tyd.  Daar was nie vuurhoutjies om te trek nie.  Daarom is die antwoord op Jesus se vraag voor die hand liggend – niemand sou al daai moeite doen en dan ‘n erdekruik omdop om die lig weg te steek nie.  Jesus brei uit op hierdie idee en sê dat dit wat geheim is moet aan die lig kom en openbaar word.  Jesus en sy Boodskap kan nie uitgedoof word nie.  Hierdie geheim van die Koninkryk word geopenbaar aan die wat vra na meer, aan die wat moeite doen om na Hom te luister.  Daarom sê Jesus “As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!” in vers 23.

Die volgende vers begin dan weer met: “Gee aandag aan wat julle hoor!”  Dit gaan nog heeltyd oor luister! Dan hoor ons Jesus se woorde dat vir die wat het sal meer gegee word en die wat nie het nie, van hom sal die bietjie wat hy het weggevat word.  En as ons dit buite konteks lees, dan kan dit ons vreeslik bang en deurmekaar maak.  Maar as ons besef dit gaan oor die maat waarmee ons luister dan besef ons dat vir hulle wat aanhou om die moeite te doen om na God te luister sal Hy sorg dat ons meer kan verstaan Wie Hy is en wat Hy doen – toegevoeg word.  Hulle wat kies om nie te luister nie, sal al minder verstaan wat God doen – wegvat.

Jesus gaan dan verder om te verduidelik wat gebeur wanneer ons uit die vrug van hierdie luister leef (soos wanneer die saad op die goeie grond val) – daar is vrug, en dit is God wat die wat luister laat groei.  Bo verwagting en selfs teen die oormag wat hulle wil onder kry kan die gemeente daar in Rome aanhou groei as hulle aanhou om te luister na die Here.

Dan vergelyk Jesus sy Koninkryk met ‘n mosterdsaadjie – met onkruid wat alles oorneem.  Ook daar waar die gemeente in Rome klein en bedreig is en onwelkom is kan hulle weet dat God hulle laat groei.  Sy Koninkryk is onkeerbaar!

Met hierdie gelykenisse vertel Jesus vir ons wat die vrug daarvan is wanneer ons na Hom luister, vra na sy Wil, meer van Hom soek.  Mens kan amper nie anders nie as om te dink aan die liedjie “Lees jou Bybel, bid elke dag, en jy sal groei, groei, groei!”  Wanneer ons begin om te leef uit dit wat ons by die Here hoor dan begin ons groei in ons verhouiding met Hom.  Wanneer ons groei, groei sy Koninkryk.

Markus 4:1-20 – Die Gelykenis van die Saaier

Hier aan die begin van Markus 4 kondig ons skrywer aan dat hier nou ‘n klompie gelykenisse op mekaar gaan volg.  Wanneer Jesus dan begin met die opdrag, “Luister hier!” dan geld dit ook vir die ander gelykenisse wat hierna volg.

Die saad wat die saaier in die gelykenis saai val op verskillende plekke, wat vir ons vreemd klink.  ‘n Mens ploeg mos die land, berei die grond voor en saai daar waar jy bedoel het om te saai.  In daardie tyd het die boere egter meestal dit anders om gedoen – hulle het eers gesaai en daarna die saad in die grond ingewerk.

Op die harde pad kry die voëls die saad voor dit kan ontkiem.  Op die klipbanke is daar ‘n dun lagie grond, maar die wortels kan nie by die water uitkom nie en verdroog.  Tussen die onkruid is daar wel groei, maar geen vrug nie.  Op die goeie grond is daar vermenigvuldige groei – veel meer as wat die mense in daardie tyd aan gewoond was.

Markus vertel vir ons dat daar ‘n klein groepie was wat gehoor gegee het aan Jesus se oproep om te luister (v. 9) – hulle wou méér weet, meer hoor, meer luister.  Dit is die mense in sy binnekring, wat meer begin leer van God se Koninkryk.  Vir die wat buite staan haal Jesus aan uit Jesaja 6 – hulle wat die Woord hoor maar kies om nie te luister nie.  Kies om nie hul rug te draai op die Romeinse ryk en in ‘n herstelde verhouding met God in sy Koninkryk te wil leef nie.  Maar nietemin word die saad dáár ook gesaai.

Die een wat saai is elkeen wat die boodskap van die koms van die Koninkryk verkondig.  Jesus verduidelik dat dit sy teenstanders is wat die woord by mense wegvat.  Markus sê duidelik wie Jesus se teenstanders is, o.a. die Skrifgeleerdes wat Jesus se werk ongedaan probeer maak.  Dan sê Jesus is daar ook mense wat baie opgewonde raak oor die woord, solank dit nie moeite is nie.  Sodra hulle swaarkry gee hulle moed op.  Ook is daar mense wat doodeenvoudig nie tyd het vir die woord nie.  Daar is net te veel ander dinge wat belangrik is, so om tyd in te sit om te groei in ‘n verhouding met God is net nie op die kaarte nie.

Daar is gelukkig ook goeie grond – mense wat graag in ‘n verhouding met God wil leef en vanuit daardie verhouding groei en leer wat dit is wat vir God belangrik is.  Mense groei verskillend en dra verskillende vrugte, en dit is harde werk, maar in ‘n verhouding met God is die vrug nog steed bo verwagting.

Markus wil vir sy lesers – die vervolgde gemeente in Rome – sê dat hulle ook deel van die goeie grond kan wees.  Al is daar soveel uitdagings en dinge wat teen hulle tel, hulle kan groei in hul verhouding met God.  Dat hulle deel is van God se binnekring en dat hulle ook, soos die mense by Jesus, kan vrae vra en dat hulle by Hom antwoorde sal kry.

Dit roep ons ook op nie, nie net om ook saaiers van die woord te wees nie, maar ook om die goeie grond te wees en te groei in ons verhouding met God.

Markus 3:20-35 – Die Ware Familie

Wanneer Markus hier in hoofstuk 3 na Jesus se familie verwys sluit dit lede van sy breër familie in.  Hulle het gedink sy optrede is onvanpas omdat Hy te veel aandag trek in die openbaar.  Deur hierdie skares van mense te trek het Jesus se familie beweer dat Hy hulle in die skande steek.  Hulle het, volgens hulle oordeel, geen ander keuse gehad as om sy optrede in die openbaar af te keur.  Hulle het gemeen Hy is buite Homself.

Die Skrifgeleerdes se verduideliking is dat Jesus eerder Beëlsebul se handlanger is en dat dit met sy krag is wat Jesus wonders doen.  Daarmee verlaag hulle sy posisie op die gesagspiramide.  Hulle kan nie sien dat Hy God is wat heelbo aan die piramiede staan nie.  Hulle dink Hy is maar net een van die heilige manne wat onder die demone en engele staan.  Hulle tas Jesus se eer aan.

Jesus verdedig egter sy eer deur vir hulle te wys dat hulle redenasie onlogies is.  Die bekende uitdrukking in vers 24-25 help ons: As ‘n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as ‘n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie.”   Hoe kan die demone met die hulp van die aanvoerder van die demone uitgedryf word?  Nee, Een wat sterker is as hy, is die een wat die mag het om af te reken met die demone.  Hy bind die bose vas (v. 27).

Dan hoor ons hierdie harde woorde van Jesus in vers 29: Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.”  Om teen die Heilige Gees te laster is soos om te maak soos die Skrifgeleerdes hier wanneer hulle Jesus as Baäl se handlanger uit te kryt – om God nie as God te erken nie.  Dit is om intensioneel, aanhoudend, doelbewus teen God te draai.

In vers 31 verskyn Jesus se naby familie op die toneel.  Mens kan sien dat die uitgebreide familie druk sit op hulle om iets aan die situasie te kom doen.  Dan teken Markus vir ons ‘n baie duidelike prentjie van wie Jesus se ware familie is en wie sy teenstaanders is.  Hulle wat by Jesus sit en meer van Hom wil weet en meer by Hom wil leer, húlle is Jesus se naby familie.  Die wat gedink het hulle is familie, maar Jesus teenstaan, hulle staan buite.  Vers 35 stel dit duidelik: “Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

Die gemeente in Rome het al te goed geweet wat dit beteken om buite te staan.  Om as teenstaanders gesien te word.  Hulle is ook deur hulle familie verwerp omdat hulle in Jesus glo en, soos Jesus, daarvan beskuldig dat hulle van hulle koppe af geraak het. Maar Jesus kom herdefinieer wat dit beteken om in God se familie te wees.  Die gemeente in Rome vir wie Markus skryf (en ons!) kan troos vind in die feit dat ons deel is van God se familie.  Dit roep ons ook op om by Hom te kom sit, om meer van Hom te leer, meer soos Hy te wil word, en meer besig te raak met dit waarmee HY besig is.