Ons maak vandag klaar met die laaste deel van Psalm 119. Lees vanaf vers 141 tot 176. Vra die Here om vandag met jou deur sy Woord te praat en om jou deur sy Gees te wys watter Waarheid Hy graag vandag vir jou wil duidelik maak. Wanneer iets uit die teks dan by jou vassteek, praat met die Here daaroor en vra Hom om vir jou te wys hoe om dit in jou lewe uit te leef.
Die frase aan die begin van vers 149 steek vandag by my vas:
“Handel volgens u liefde…” Dit is wonderlik dat ons ook dit vir die Here kan vra. As God nie volgens sy liefde opgetree het nie, sou ons almal lankal vergaan het. Dit is die storie van God met die mens. Dat God oor en oor vanuit sy liefde met ons handel. Psalm 103:8-13 som dit so mooi op:
God IS Liefde! (Sien 1 Joh 4:7-10) Hy tree op vanuit sy aard, vanuit sy liefde. Hy skep, herskep, red, verlos, stuur, seën, alles vanuit sy liefde. Daarom kan niks maar niks maar niks ons van sy liefde skei nie! (Rom 8:37-39) Aan sy liefde is daar geen einde nie!
GEBED:
Ons bid vandag vir ons dorp. Vir elke mens, jonk en oud wat hier in Ellisras woon en werk. Ons bid vir elke besigheid groot en klein dat die Here dit sal seën. Vir elke ouer wat lang ure insit om vir hulle kinders te kan sorg. Ons bid vir gesinne – dat die Here ons gesinne sal sterk maak. Verhoudings sal heel maak, sterk maak en laat groei. Ons bid vir Herlewing in ons dorp. Dat die mense van Ellisras God se Wil sal soek en sal liefhê en alles wat ons aanpak vir sy Eer en Glorie wil doen. Dat die liefde wat die Psalmdigter vir die Woord van God gehad het ook waar kan word van elkeen in ons dorp.
Psalm 119:105-140 kom vandag aan die beurt. Soos wat ons die res van die week gemaak het, wil ek jou ook vandag uitnooi om die teks luisterend en soekend te lees. Lees die teks van die begin af met die doel in gedagte om te luister na wat dit is wat vir jou persoonlik op hierdie dag uitstaan. Dit kan baie keer ‘n vers wees wat jy al ‘n 1000 keer in jou lewe gelees het, wat jou vandag net op ‘n nuwe manier tref en jou tussen die oë slaan. Praat met die Here oor hierdie gedagtes en vra Hom om ook vir jou te wys hoe Hy wil hê jy daarop moet reageer tot sy Eer.
Ons lees vandag weer verder in Psalm 119. Lees vandag vers 73-104. Ek hoop jy begin al so bietjie in die ritme inkom en lees met opgewondenheid om raak te sien wat dit is wat die Here vandag vir jou in die teks wil wys. Weereens is dit altyd ‘n goeie idee om die teks in meer as een vertaling te lees.
Lees vandag Psalm 119:36-72. Doen dieselfde oefening as gister. Kyk na watter vers/woord/gedagte vir jou persoonlik vandag uitstaan en dink daaroor na. As jy tyd het sal dit goed wees om die gedeelte in ‘n ander vertaling ook te lees. Praat met die Here oor wat dit is wat vir jou uitstaan.
Dit is weer die tyd van die jaar dat ons saam met die groter kerk in die land, en die wêreld, spesiaal ekstra tyd saam in gebed spandeer. Ek wil jou uitnooi om hierdie week elke dag ‘n paar oomblikke saam met ons in te fokus op hierdie gedagtes en saam te bid oor spesifieke sake.