Week van Gebed 2023 – Dag 4

Psalm 119:105-140 kom vandag aan die beurt.  Soos wat ons die res van die week gemaak het, wil ek jou ook vandag uitnooi om die teks luisterend en soekend te lees.  Lees die teks van die begin af met die doel in gedagte om te luister na wat dit is wat vir jou persoonlik op hierdie dag uitstaan.  Dit kan baie keer ‘n vers wees wat jy al ‘n 1000 keer in jou lewe gelees het, wat jou vandag net op ‘n nuwe manier tref en jou tussen die oë slaan.  Praat met die Here oor hierdie gedagtes en vra Hom om ook vir jou te wys hoe Hy wil hê jy daarop moet reageer tot sy Eer.

Vandag se gedeelte begin met die bekende woorde van vers 105: U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”  ‘n Inspirerende vers wat ons graag aanhaal.  Maar weereens moet ons nie die donker kant van die vers (en die Psalm) miskyk nie.  As mens na die trant van die Psalm luister kom ons agter dat die digter se lewe bedreig word, dat sy vyande op hom toesak, dat hy vals beskuldig word, ens.  Dit is juis binne in die duisternis dat hy beleef dat God se Woord vir hom die lig bring!

Dit val my vandag weer op dat die gedeelte gelaai is met ‘n klomp negatiewe dinge wat die digter beleef. Hy sê “ek ly swaar”, “my lewe is gedurig in gevaar”, “die goddeloses stel vir my ‘n strik”, ensovoorts.  Kyk of jy hulle almal kan identifiseer.

Maar by elkeen van hierdie negatiewe belewenisse is daar ‘n “maar”. Hy sê o.a. “maar u wet verontagsaam ek nie”, “maar van u bevele wyk ek nie af nie.”

Dit het my laat wonder oor ons eie verhoudings met die Here en oor hoe ons dink oor sy Woord…  Wat ons met die Bybel maak… Met die manier hoe God gekies het om Homself aan ons te openbaar…?  Is dit net ‘n “afterthought” in ons dag? Is dit iets wat ons net bestudeer met ‘n vergrootglas?  Is dit iets wat ons net lees om ons gewetens te sus of uit gewoonte of skuldgevoel?  Of is dit ons anker waaraan ons vashou, waardeur ons ons Vader se hart wil leer ken?  Smag ons daarna met ons hele wese, verlang ons daarna? (v. 131)

GEBED:

Ons dra vandag ons gemeente aan die Here op.  Ons bid dat die Here ons as gemeente sal lei om sy Wil te doen.  Dat Hy vir ons sal wys waar en hoe ons die grootste verskil kan maak hier in ons dorp waar Hy ons geroep het om sy Koninkryk te soek en te bou.  Mag die Here ons gewortel hou in sy Woord.  Mag Hy ons in liefde nader aan Hom en nader aan mekaar laat groei.  Mag Hy ons stuur en deur sy Gees in ons werk sodat sy vrugte sigbaar sal word oral waar ons beweeg.  Mag Hy ons help om skaduwee te gee vir mekaar en vir elkeen wat sy rus nodig het.  Mag Hy die eer en verheerliking ontvang in alles wat ons aanpak en alles wat ons sê en doen.  Mag Hy ons ook daagliks herinner dat ons sy Kerk IS en ons help om ons plek vol te staan in sy Liggaam.