Ons lees vandag weer verder in Psalm 119. Lees vandag vers 73-104. Ek hoop jy begin al so bietjie in die ritme inkom en lees met opgewondenheid om raak te sien wat dit is wat die Here vandag vir jou in die teks wil wys. Weereens is dit altyd ‘n goeie idee om die teks in meer as een vertaling te lees.
Kyk uit vir wat vandag vir jou uitstaan. ‘n Vers, ‘n enkele woord, of ‘n gedagte. Dalk is dit ‘n prentjie of ‘n emosie wat by jou opkom terwyl jy lees. Ondersoek jou gedagtes en probeer identifiseer waarom juis hierdie spesifieke ding vandag vir jou uitgestaan het en praat met die Here daaroor.
Vandag het die beeld van God se troon wat vasstaan my weer opgeval. Vers 89-91 sê:
En dan word ek sommer koud as die gedagte by my opkom van hoe betekenisloos die lewe, my lewe, sou wees as hierdie woorde nie waar was nie. Genadiglik aanbid ons die Groot “Ek is”. Die Een wat is en was en kom! Die Lewende God wat doen wat Hy sê Hy doen en is Wie Hy sê Hy is.
Stephanie het Sondag in die preek verwys na die liedjie “My Pa is die Koning” en dit sit nou in my kop vas:
My Pa is die Koning van die Heelal jy weetEn kom wat wil ek sal dit nooit vergeet nieDie wind kan waai die berge kan valHy’t gesê Hy voorsien en Hy sal
Die Woord van God staan vas! Sy troon staan vas! Hy regeer!
GEBED:
Ons bid vandag vir die vervolgde kerk wêreldwyd. Elke dag is daar miljoene mense wat hulle lewens moet waag ter wille van die Evangelie. Ons bid dat die Here hulle sal beskerm en vir hulle deure sal oopmaak om te kan getuig. Ons big ook vir die vervolgers. Dat die Here ook hulle harte sal verander en Homself aan hulle sal openbaar. Ons bid ook vir ons eie land waar ons nog openlik kan getuig. Maar waar die vervolging en verdrukking van gelowiges nog meer subtiel gebeur. Mag die Here ook vir ons die dapperheid en die moed gee om oral waar ons kom te getuig, getuig, getuig. Tydig en ontydig.
(Gaan lees ook gerus die artikel oor die vervolgde kerk wat vandag in Maroela Media verskyn het: Al meer Christene wêreldwyd vervolg | Maroela Media )