Week van Gebed 2023 – Dag 5

Ons maak vandag klaar met die laaste deel van Psalm 119.  Lees vanaf vers 141 tot 176.  Vra die Here om vandag met jou deur sy Woord te praat en om jou deur sy Gees te wys watter Waarheid Hy graag vandag vir jou wil duidelik maak.  Wanneer iets uit die teks dan by jou vassteek, praat met die Here daaroor en vra Hom om vir jou te wys hoe om dit in jou lewe uit te leef.

Die frase aan die begin van vers 149 steek vandag by my vas:

Handel volgens u liefde, Here, luister tog na my.
Laat u bepalings geld, hou my in die lewe.

“Handel volgens u liefde…”  Dit is wonderlik dat ons ook dit vir die Here kan vra.  As God nie volgens sy liefde opgetree het nie, sou ons almal lankal vergaan het.  Dit is die storie van God met die mens.  Dat God oor en oor vanuit sy liefde met ons handel.  Psalm 103:8-13 som dit so mooi op:

Barmhartig en genadig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
Hy sal ons ons sonde nie bly toereken
en nie vir ewig toornig bly nie.
Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie,
vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,
want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is,
so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.
So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.
Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders,
so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

God IS Liefde! (Sien 1 Joh 4:7-10) Hy tree op vanuit sy aard, vanuit sy liefde.  Hy skep, herskep, red, verlos, stuur, seën, alles vanuit sy liefde.  Daarom kan niks maar niks maar niks ons van sy liefde skei nie! (Rom 8:37-39)  Aan sy liefde is daar geen einde nie!

GEBED:

Ons bid vandag vir ons dorp.  Vir elke mens, jonk en oud wat hier in Ellisras woon en werk.  Ons bid vir elke besigheid groot en klein dat die Here dit sal seën.  Vir elke ouer wat lang ure insit om vir hulle kinders te kan sorg.  Ons bid vir gesinne – dat die Here ons gesinne sal sterk maak. Verhoudings sal heel maak, sterk maak en laat groei.   Ons bid vir Herlewing in ons dorp.  Dat die mense van Ellisras God se Wil sal soek en sal liefhê en alles wat ons aanpak vir sy Eer en Glorie wil doen.  Dat die liefde wat die Psalmdigter vir die Woord van God gehad het ook waar kan word van elkeen in ons dorp.