Dit is weer die tyd van die jaar dat ons saam met die groter kerk in die land, en die wêreld, spesiaal ekstra tyd saam in gebed spandeer. Ek wil jou uitnooi om hierdie week elke dag ‘n paar oomblikke saam met ons in te fokus op hierdie gedagtes en saam te bid oor spesifieke sake.
Psalm 119 se 176 verse word selde in geheel gelees. Ons is partykeer bietjie bang vir die langste Psalm want hy is bietjie te veel om op een slag te hanteer. Dan fokus ons eerder op die mooi, bekende enkele verse. Maar kom ons gebruik hierdie week om weer diep in hierdie pragtige Psalm te gaan swem.
Dit vat ongeveer 17 minute om die hele Psalm deur te lees. So as ons oor die volgende vyf dae, elke dag ‘n gedeelte lees dan gaan dit slegs 3 en ‘n half minute per dag vat. So dit is wat ons hierdie week gaan doen, nadink oor wat ons lees en saam bid.
Lees vandag Ps 119:1-35. Dit is amper onmoontlik om een ding uit te sonder, want hier is so ‘n rykdom van wonderlike waarhede versamel. Maar kyk gerus watter vers(e) staan vir jou uit? Of dalk is dit net een woord wat vir jou uit spring. Wat val jou op? Dink na oor wat daardie spesifieke vers/woord/gedagte vir jou beteken en waarom dink jy staan daardie spesifieke ding nou juis vandag vir jou uit. Praat met die Here daaroor.
Hoe stem dit wat jy vandag in die psalm lees ooreen met jou eie belewenis van jou verhouding met die Here op die oomblik? Of dalk verskil dit? Hoe vergelyk dit met hoe die wêreld rondom ons vandag lyk?
Hoe sou ons lewens (en daarom ons wêreld) lyk as die woorde van vers 14 vir ons nie net ‘n idee was nie, maar 100% regtig is hoe ons elke dag lewe?
GEBED:
Kom ons bid vandag vir ons land. En vra vir die Here dat Hy sal ingryp in al die wetteloosheid en korrupsie wat ons land en ons mense en ons kragnetwerk bedreig. Maar kom ons vra ook die Here om ons ook te stuur en te wys waar ons ‘n verskil kan maak. Laat Hy in ons, sy kinders, ‘n onuitblusbare liefde vir sy Woord laat opvlam sodat ons ook daar waar ons elke dag beweeg sy Lig kan skyn.