Dit is volbring!

Johannes 19:30 vertel vir ons dat Jesus toe Hy sy laaste asem aan die kruis uitgeblaas het gesê het: “Dit is volbring!”

In die Grieks is dit net een woord: “Tetelestai”.  Die vorm waarin ons hierdie woord hier aantref is so mooi.  Die werk is afgehandel, dis gedoen, finish en klaar.  Dit is reeds afgehandel, dit is nou afgehandel en dit sal altyd afgehandel bly.

Die slang se kop is vermorsel, die prys is betaal, die offer is gebring.  Jesus se genade is vir jou genoeg.  Punt.

Mag jy hierdie Goeie Vrydag opnuut (of dalk vir die eerste keer) ontdek dat Jesus die duurste prys betaal het om jou skoon te was van jou sonde en jou vrygemaak!

“So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” – Ps 103:12

Week van Gebed 2023 – Dag 5

Ons maak vandag klaar met die laaste deel van Psalm 119.  Lees vanaf vers 141 tot 176.  Vra die Here om vandag met jou deur sy Woord te praat en om jou deur sy Gees te wys watter Waarheid Hy graag vandag vir jou wil duidelik maak.  Wanneer iets uit die teks dan by jou vassteek, praat met die Here daaroor en vra Hom om vir jou te wys hoe om dit in jou lewe uit te leef.

Die frase aan die begin van vers 149 steek vandag by my vas:

Handel volgens u liefde, Here, luister tog na my.
Laat u bepalings geld, hou my in die lewe.

“Handel volgens u liefde…”  Dit is wonderlik dat ons ook dit vir die Here kan vra.  As God nie volgens sy liefde opgetree het nie, sou ons almal lankal vergaan het.  Dit is die storie van God met die mens.  Dat God oor en oor vanuit sy liefde met ons handel.  Psalm 103:8-13 som dit so mooi op:

Barmhartig en genadig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
Hy sal ons ons sonde nie bly toereken
en nie vir ewig toornig bly nie.
Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie,
vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,
want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is,
so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.
So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.
Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders,
so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

God IS Liefde! (Sien 1 Joh 4:7-10) Hy tree op vanuit sy aard, vanuit sy liefde.  Hy skep, herskep, red, verlos, stuur, seën, alles vanuit sy liefde.  Daarom kan niks maar niks maar niks ons van sy liefde skei nie! (Rom 8:37-39)  Aan sy liefde is daar geen einde nie!

GEBED:

Ons bid vandag vir ons dorp.  Vir elke mens, jonk en oud wat hier in Ellisras woon en werk.  Ons bid vir elke besigheid groot en klein dat die Here dit sal seën.  Vir elke ouer wat lang ure insit om vir hulle kinders te kan sorg.  Ons bid vir gesinne – dat die Here ons gesinne sal sterk maak. Verhoudings sal heel maak, sterk maak en laat groei.   Ons bid vir Herlewing in ons dorp.  Dat die mense van Ellisras God se Wil sal soek en sal liefhê en alles wat ons aanpak vir sy Eer en Glorie wil doen.  Dat die liefde wat die Psalmdigter vir die Woord van God gehad het ook waar kan word van elkeen in ons dorp.

Week van Gebed 2023 – Dag 4

Psalm 119:105-140 kom vandag aan die beurt.  Soos wat ons die res van die week gemaak het, wil ek jou ook vandag uitnooi om die teks luisterend en soekend te lees.  Lees die teks van die begin af met die doel in gedagte om te luister na wat dit is wat vir jou persoonlik op hierdie dag uitstaan.  Dit kan baie keer ‘n vers wees wat jy al ‘n 1000 keer in jou lewe gelees het, wat jou vandag net op ‘n nuwe manier tref en jou tussen die oë slaan.  Praat met die Here oor hierdie gedagtes en vra Hom om ook vir jou te wys hoe Hy wil hê jy daarop moet reageer tot sy Eer.

Vandag se gedeelte begin met die bekende woorde van vers 105: U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”  ‘n Inspirerende vers wat ons graag aanhaal.  Maar weereens moet ons nie die donker kant van die vers (en die Psalm) miskyk nie.  As mens na die trant van die Psalm luister kom ons agter dat die digter se lewe bedreig word, dat sy vyande op hom toesak, dat hy vals beskuldig word, ens.  Dit is juis binne in die duisternis dat hy beleef dat God se Woord vir hom die lig bring!

Dit val my vandag weer op dat die gedeelte gelaai is met ‘n klomp negatiewe dinge wat die digter beleef. Hy sê “ek ly swaar”, “my lewe is gedurig in gevaar”, “die goddeloses stel vir my ‘n strik”, ensovoorts.  Kyk of jy hulle almal kan identifiseer.

Maar by elkeen van hierdie negatiewe belewenisse is daar ‘n “maar”. Hy sê o.a. “maar u wet verontagsaam ek nie”, “maar van u bevele wyk ek nie af nie.”

Dit het my laat wonder oor ons eie verhoudings met die Here en oor hoe ons dink oor sy Woord…  Wat ons met die Bybel maak… Met die manier hoe God gekies het om Homself aan ons te openbaar…?  Is dit net ‘n “afterthought” in ons dag? Is dit iets wat ons net bestudeer met ‘n vergrootglas?  Is dit iets wat ons net lees om ons gewetens te sus of uit gewoonte of skuldgevoel?  Of is dit ons anker waaraan ons vashou, waardeur ons ons Vader se hart wil leer ken?  Smag ons daarna met ons hele wese, verlang ons daarna? (v. 131)

GEBED:

Ons dra vandag ons gemeente aan die Here op.  Ons bid dat die Here ons as gemeente sal lei om sy Wil te doen.  Dat Hy vir ons sal wys waar en hoe ons die grootste verskil kan maak hier in ons dorp waar Hy ons geroep het om sy Koninkryk te soek en te bou.  Mag die Here ons gewortel hou in sy Woord.  Mag Hy ons in liefde nader aan Hom en nader aan mekaar laat groei.  Mag Hy ons stuur en deur sy Gees in ons werk sodat sy vrugte sigbaar sal word oral waar ons beweeg.  Mag Hy ons help om skaduwee te gee vir mekaar en vir elkeen wat sy rus nodig het.  Mag Hy die eer en verheerliking ontvang in alles wat ons aanpak en alles wat ons sê en doen.  Mag Hy ons ook daagliks herinner dat ons sy Kerk IS en ons help om ons plek vol te staan in sy Liggaam.