Uitgestel Dag 4 – Hoop op my Veilige Vesting

In aansluiting by wat ons gister vir mekaar gesê het oor Psalm 13 kan ons vandag, dalk met nuwe oë, die ander psalms lees.  Lees vandag bv. Psalm 59.  Hierdie is nie net ‘n mooi gediggie met mooi woordjies nie.  Hier word gepraat in wesenlike gevaar en groot nood!  Vers 1 vertel vir ons wat die situasie is:

“Vir die koorleier: op die wysie van “Moet dit nie verwoes nie!” Van Dawid. ‘n Gedig, na aanleiding daarvan dat hulle, in opdrag van Saul, Dawid se huis omsingel het om hom dood te maak.”

Dawid gaan dan verder om beeldryke taal te beskryf hoe hierdie vreesaanjaende teëstanders lyk en presies wat hy graag wil hê met hulle moet gebeur en nie met hom self moet gebeur nie. Hy praat weer baie persoonlik MET die Here sy God.

En dan lees ons in vers 10:

“Ek wil my hoop op U gevestig hou, U, my Sterkte,
want U is my veilige vesting!”

Waar sy huis, sy “veilige vesting” bedreig word en nie meer veilig is nie, stel hy sy vertroue nou op die HERE, die enigste Veilige Vesting. En in vers 17 eindig hy dan weer, soos in Psalm 13, met ‘n “Maar ék”:

“Maar ék sal sing van u mag,
elke môre sal ek jubel oor u trou,
want U is vir my ‘n veilige vesting,
‘n skuilplek in tyd van nood.
Tot u eer wil ek sing, U, my Sterkte,
want U is my veilige vesting,
U is my troue God.”

Mag jy ook jou hoop stel op jou Sterkte, jou veilige vesting, jou troue God wat by jou is!