Uitgestel Dag 2 – Nuwe Krag

Jesaja 40 is een van daardie hoofstukke in die Bybel wat mens oor en oor kan lees en elke keer iets nuut oor die grootheid van God kan ontdek. Lees gerus die hele hoofstuk deur. Die manier hoe Hy eintlik met die ander “gemaakte godjies” spot laat my altyd lag en net weer laat besef hoe belaglik dit eintlik is om op enige iets of iemand anders te vertrou.

Hy is nie net die God bo al die gode, die Skepper van die hemel en aarde, die Onvergelykbare, Almagtige en groot God wat in beheer van alles is nie – Hy is ook ons Vader wat vir ons sorg, ons help en ons versterk.  Die beeld van die arend wat vlieg (vers 31) is so treffend.  Vry, met ongekende krag en stamina kan die arend vlieg.  So is die nuwe krag wat die Here gee!  Vertrou op Hom.  Hy gee nuwe krag!

Weet jy dan nie,
het jy nog nie gehoor nie?
Die Here is die ewige God,
Skepper van die hele aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie
en sy insig is ondeurgrondelik.
Hy gee die vermoeides krag,
Hy versterk dié wat nie meer kan nie.
Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat,
selfs manne in hulle fleur struikel en val,
maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.
Hulle vlieg met arendsvlerke,
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle loop en raak nie afgemat nie. – Jesaja 40:28-31