Hierdie Sondag, 19 Januarie, skop ons jaar behoorlik af met ‘n heerlike byeenkoms. Ons wil vir jou spesiaal uitnooi om Sondag ná die erediens saam familie vergadering te hou. Ons wil graag so bietjie met jou al die opwindende planne vir 2025 deel. Dan deel ons ook ‘n paar groter drome waaroor ons hoop jy saam met ons kan opgewonde raak, en graag saam sal wil inspring om te help om dit ‘n realiteit te maak.
Weskerk wil hierdie jaar GROEI. Nader aan God, nader aan mekaar, nader aan ons gemeenskap, in ons impak vir die Koninkryk. Kom groei saam!
Wanneer ons vergadering klaar is verdaag ons na buite waar ons gaan saam smul aan heerlike boereworsrolle. Ons sal maar sien hoe lank ons dit binne kan uithou met die reuk van boerewors wat in die lug hang! Maar jy hoef met ander woorde ook nie te bekommer oor die skaapboud in die oond nie, want daar is iets te ete.
Dit is ook natuurlik Sondag tyd vir Sondagskool inskrywings, so bring die jonges saam dat hulle kan inskryf vir hierdie jaar se kinderkerk, TakTiek en Belydenisklas.
Mag hierdie jaar vir jou ook ‘n jaar van groei wees en mag jy die Here se teenwoordigheid tree vir tree beleef. Hoop om jou Sondag te sien!