Efesiërs Reeks skop af!

Ons begin hierdie Sondag 27 Julie 2025 met ons reis deur Efesiërs. Kom reis saam met ons deur hierdie besonderse brief. Hoop om jou Sondag daar te sien!

Gesamentlike Hemelvaartdiens 29 Mei 2025

Ons vier hierdie jaar Hemelvaart saam met ons buurgemeentes – NHK Onverwacht, NG Albertyn en NHK Ebenhaser. Dit gaan ‘n heerlike samekoms wees saam met medegelowiges. Donderdag 29 Mei om 18:30 by Hervormde Kerk Onverwacht.

Paasnaweek 2025

Ons Paasnaweek feesvieringe is om die draai.  Hierdie jaar kom ons weer, soos ons tradisie is, op die Donderdag 17 April vanaf 18:30 bymekaar vir Heilige Donderdagaand.  Ons gaan weer ‘n baie spesiale Nagmaal vier en daarna gaan ons snoek braai.  Bring asb. ‘n broodjie of broodgereg saam, jou eetgerei en drinkgoed en kom kuier saam.  Onthou asb om vir Selmari te laat hoeveel mense julle gaan wees – 076 238 7373.

Dan is ons hierdie jaar ook op Goeie Vrydag bymekaar.  Die diens begin Vrydag 18 April reeds om 8:00 die oggend.  Ons lees die ontsluiting van die Messias Geheim in Markus 15:33-47 op Goeie Vrydag.  Jy wil dit verseker nie misloop nie.

Op Paassondag 20 April is ons weer vroeg bymekaar vir ontbyt, en ons kyk weer saam hoe die son opkom.  Ons loop weer bietjie op die vroue daar by Jesus se graf se voetspore en vier die nuwe lewe wat die Here vir ons gee met die dag wat breek.  Bring vir jou en jou gesin ‘n maklike ontbyt saam en kom vier die opstanding saam met ons.  Om 7:00 die oggend begin ons erediens alreeds en ons maak klaar met ons Markus reeks as ons in hoofstuk 16 lees van Jesus se Opstanding.

Hierdie is die GROOTSTE naweek in ons kerklike jaar. Sien jou daar!

Aswoensdag 5 Maart 2025

Hierdie Woensdag 5 Maart om 18:30 vier ons weer Aswoensdag.

Lydenstyd strek vanaf Aswoensdag (sewende Woensdag voor Paassondag) tot en met Stille Saterdag (vanjaar op 19 April 2025), die dag voor Opstandingsondag. Indien die Sondae in hierdie tyd uitgesluit word, duur hierdie tydperk 40 dae, dieselfde aantal dae wat Jesus in die woestyn deurgebring het. Lydenstyd is noodsaaklike voorbereiding vir die viering van Paasfees.

Die Westerse kerk het in die tweede helfte van die vierde eeu in navolging van die Oosterse kerk begin om ter voorbereiding van Paasfees ‘n vastydperk van 40 dae in te stel. Dié vas het meestal beteken dat slegs een maaltyd sonder vleis per dag geëet is. Tradisioneel begin die vastydperk op Aswoensdag. Aanvanklik was die plaas van die as op die kop van ‘n sondaar ‘n soort tughandeling en boete-oplegging deur die kerk. Later het die as ‘n meer seremoniële funksie gekry waarin die as, gewoonlik van die vorige jaar se palmtakke van Palmsondag, op die voorkop van die lidmate in die vorm van ‘n kruis gesmeer word.

Die vroegste aanduiding van die viering van Aswoensdag en die gepaardgaande seremonie vind ‘n mens in die begin van die elfde eeu.  Die naam kom van die Latyn, ‘dies cinerum‘, wat “dag van asse” beteken.  Op Aswoensdag is die gebruik dat ons spesifiek nadink oor ons sterflikheid en ons sonde. Ons bely in alle ootmoed ons skuld voor die Here.

Lydenstyd is ‘n gereedmaak om vernuwing in ons lewens te ontvang. Die pynlikheid van die erkenning van ons eie sonde is hiervoor noodsaaklik. Verootmoediging, skuldbelydenis en boetedoening is in hierdie tyd prominent, maar dit staan alles in die teken van die nuwe lewe wat ons simbolies op Paassondag ontvang. Die as van Aswoensdag is ‘n simbool hiervan.

Die Aswoensdag diens bestaan, tradisioneel, uit stilte, voorlesings en ruim tyd vir refleksie, met rustige sang/musiek. En aan die einde van die diens ontvang ons elkeen een die kruisie van as op die voorkop.

Familie Vergadering en Boerewors Braai 19 Januarie 2025

Hierdie Sondag, 19 Januarie, skop ons jaar behoorlik af met ‘n heerlike byeenkoms.  Ons wil vir jou spesiaal uitnooi om Sondag ná die erediens saam familie vergadering te hou. Ons wil graag so bietjie met jou al die opwindende planne vir 2025 deel.  Dan deel ons ook ‘n paar groter drome waaroor ons hoop jy saam met ons kan opgewonde raak, en graag saam sal wil inspring om te help om dit ‘n realiteit te maak.

Weskerk wil hierdie jaar GROEI.  Nader aan God, nader aan mekaar, nader aan ons gemeenskap, in ons impak vir die Koninkryk.  Kom groei saam!

Wanneer ons vergadering klaar is verdaag ons na buite waar ons gaan saam smul aan heerlike boereworsrolle.  Ons sal maar sien hoe lank ons dit binne kan uithou met die reuk van boerewors wat in die lug hang!  Maar jy hoef met ander woorde ook nie te bekommer oor die skaapboud in die oond nie, want daar is iets te ete.

Dit is ook natuurlik Sondag tyd vir Sondagskool inskrywings, so bring die jonges saam dat hulle kan inskryf vir hierdie jaar se kinderkerk, TakTiek en Belydenisklas.

Mag hierdie jaar vir jou ook ‘n jaar van groei wees en mag jy die Here se teenwoordigheid tree vir tree beleef.  Hoop om jou Sondag te sien!

Desember 2024 Eredienste

Hierdie Desember sluit ons aan by ons buurgemeentes in die dorp.  Tussen die vier gemeentes nl. NG Wes, NG Albertyn, NHK Onverwacht, en NHK Ebenhaeser is daar elke Sondag een gesamentlike diens.  Ook met Geloftedag, Kersdag en Oujaarsdag is daar ‘n gesamentlike diens.  Bêre vir jou die prentjie iewers naby sodat jy elke week presies weet waar én hoelaat die dienste gaan wees.

Mag hierdie Christusfees vir jou en jou familie werklik geseënd wees en mag jy die Here se nabye teenwoordigheid tasbaar beleef in elke byeenkoms saam met medegelowiges in hierdie feestyd.

Kerssangdiens 1 Desember 2024 om 18:30

Jy word hartlik uitgenooi na ons Kerssangdiens hierdie Sondag, 1 Desember 2024 om 18:30. Ons gaan heerlik saam sing tot eer van ons Koning!
ONTHOU: Geen oggenddiens Sondag nie, slegs aanddiens.

Wie soek Potjie vir Kersfees – Kersete 30 November 2024

Ons jaarlikse Gemeente Kersete is om die draai. En hierdie jaar gaan dit lekker interessant raak.  Ons maak Potjie!  So dit werk soos gewoonlik dat jy bring jou gunsteling gereg en ons pak al die geregte uit op die lang tafel en almal eet van almal se kos.  Maar hierdie jaar met een verskil – dit moet in ‘n potjie gemaak word (of voorgesit word!).

Jy kan natuurlik lekker kreatief raak.  Dit hoef nie net ‘n tradisionele potjie te wees nie, dit kan enige iets lekker wees.  Jy kan mos brood en slaai en poeding ook in ‘n potjie bou.

Die groot gedagte gaan daaroor dat ons bietjie langer wil saam kuier.  Daarom gaan ons Saterdag 30 November reeds van 13:00 af begin kuier by die kerk.  Ons gaan 18:30 in die saal opskep en eet.  So jy kan enige tyd van 13:00 af kom aansluit.  Jy weet mos hoe lank jou pot vat om gaar te word.

Die vuur en die eetgerei gaan daar wees, en die tafels word pratig deur ons Gemeente Sussies versier.  So bring net jou drinkgoed (en jou potjie benodighede), en as jy buite by die vuur gemakliker wil sit, dalk jou gunsteling kampstoel.

Laat weet asb. teen Woensdag 27 November vir Selmari by die kerkkantoor hoeveel mense jy saambring en watse gereg jy gaan maak. Haar nr is 076 238 7373. Dan kan ons seker maak ons dek genoeg plekke en seker maak daar is genoeg kos vir almal.

Onthou die Kersete is eintlik die opwarming vir die Kerssangdiens van Sondag 1 Desember om 18:30.  Moet dit nie misloop nie.

Hoop om jou daar te sien!

Lofprysingsfees en Nagmaal 10 November 2024

 

Hierdie Sondag, 10 November, het ons nie oggenddiens nie, maar wel ‘n heerlike Lofprysingsgeleentheid die aand om 18:30.  Dit is ook ‘n spesiale Nagmaal omdat dit ook ons jongmense, wat pas belydenis van geloof afgelê het, se eerste Nagmaal is as belydende lidmate.

Daar is blykbaar rugby Sondagaand maar die Bokke gaan jou stem nie mis voor die TV nie, terwyl ons jou stem wel gaan mis wanneer ons saam sing!

Hoop om jou daar te sien.