So hier is ons nou… Dag 21… en dit is nog nie verby nie… Nou wat nou?
Ek is seker meeste van ons het nou al in die afgelope paar dae reeds die feit dat ons nou langer in afsondering is begin verwerk en reeds begin om aan te pas by die nuwe omstandighede. Maar vandag kan mens tog nie anders nie as om diep bewus te wees van die feit dat ons “veronderstel” was om vandag weer vry te wees. Dat alles vandag sou moes terugkeer na normaal toe en ons weer kan werk en skoolgaan en braai soos gewoonlik…
Nou raak ons gewoond aan die idee dat die “normaal” waarna ons sou terugkeer ook nie meer dieselfde gaan wees as wat dit was nie. En raak ons gewoond aan die idee dat ons dalk nog ‘n rukkie gaan onseker wees oor presies wanneer en hoe die lockdown gaan eindig. Dan voel dit asof mens wil uitroep “Hoe lank nog, Here?!”
Maar dit voel amper nie reg nie en blaai ons vinnig na iets inspirerend soos Psalm 23 om bietjie beter te voel. Maar ons vergeet tog so gou van die oop en eerlike broosheid van die Psalms. Selfs in Psalm 23 kyk ons maklik die realiteit en die bedreiging en die vrees van die donker dieptes mis.
Die Psalmbundel is egter vol voorbeelde van mense wat hulle harte uitstort voor die Here en vrae vra en hul wanhoop uitspreek. Dit is nie net mooi woorde, digterlike meesterstukke, beelde en woorde wat presies reg gerangskik is om net mooi te klink nie. Dit is regte mense wat iets probeer verwoord van regte belewenisse en regte emosies. Dis real! Een so voorbeeld is Psalm 13 in vers 1 to 5:
Sjoe dit klink dalk bietjie hard. Maar klink dit nie ‘n bietjie bekend nie? Dit is juis omdat ons hier met rêrige rou emosie te doen het dat ons self daarmee kan identifiseer.
Maar wat opvallend is hiervan, is natuurlik die Adres van Dawid se uitroepe. Waarheen gaan Hy met sy vrae en vrees en sy twyfel? Hy gaan soek nie hulp op allerhande ander plekke nie – die Here is sy enigste toevlug!
Daarby kan ons ook leer en moet ons eerste instink in elke omstandigheid, en met al ons vrae en onsekerheid, wees om heel eerste met die Here self daaroor te praat. MET Hom wat hier en nou by ons is, binne in die donker dieptes. Daarin kan ons vrede vind, selfs binne in moeilike en onseker omstandighede.
Dawid sluit Psalm 13 af met die volgende vers, vers 6: