40 Dae 2022 – Dag 9

In Matteus 5-7 kry ons die beroemde Bergrede.  Hierin begin die Here Jesus om uit te lê hoe die Koninkryk van die Hemel dan werk.  Net in die vorige hoofstuk lees ons hoe dat siekes, besetenes, versteurdes en verlamdes na Hom toe gestroom het en ‘n groot menigte mense hom gevolg het (4:24-25).  Dit is m.a.w. hierdie menigte met wie Hy praat in hoofstuk 5:1.

Verrassend begin sy leerrede nie met ‘n klomp reëls of wette nie, maar met seëninge.  Spesifiek wat ons vandag ken as die Saligsprekinge.  ‘n Lys van nege seëninge wat Hy oor die mense voor Hom uitspreek en daardeur ook vir hulle in nooi by die evangelie van die Koninkryk.

Soos met enige iets in die Bybel is die volgorde hier belangrik en nie sommer toevallig nie. (So staan “liefde” byvoorbeeld baie aspris eerste in Paulus se lys van die vrugte van die Gees.)  Daarom moet ons ook die belang van die eerste van die Saligsprekinge besef omdat dit ook as’t ware as ‘n opskrif dien om ons te help om die res van die lysie (en die res van die Bergrede) te verstaan.

Matteus 5:3 sê: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” En in die Ou Vertaling: “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”

Die ’83 Vertaling se “weet hoe afhanklik hulle van God is” help ons om om die “wat arm van gees is” te verstaan, en andersom.  Dit is een van die grootste beginsels in God se onderstebo Koninkryk (onderstebo vanuit die wêreld se perspektief!) om te weet dat ons van God alleen afhanklik is.  Hulle wat geestelik trots en selfversekerd is en dink dat hulle alles onder beheer het, gaan moeilik dink dat hulle bekering nodig het en moeilik die Koninkryk verstaan.

Maar die gebrokenes en moedeloses (Ps 34:19), die wat hul eie gebrokenheid en afhanklikheid kan erken, kan met leë hande voor God kom staan om sy genade te ontvang.  Hulle weet dat hulle arm is aan hulle eie goedheid en aansien en eer en prestasie – want aan hulle behoort die Koninkryk van God.  As ons dit verstaan kan ons die ander Saligsprekinge op hierdie lys beter begryp en beter begryp wat dit beteken om God se Koninkryk te soek!

Wat ‘n ongelooflike troos dat ons ook – met ons gebrokenheid, ons geestelike onbeholpenheid, met niks om God te bied om Hom mee te probeer beïndruk nie – na Hom toe kan gaan en sy genade kan ontvang!