40 Dae 2022 – Dag 7

Ons reis verder deur Matteus in ons soeke na die Koninkryk van die Hemel sodat ons met die regte perspektief die wêreld regtekant bo kan draai.

Wanneer die Here Jesus in die woestyn versoek word, openbaar Hy nie net dat Hy die mag het oor die duiwel en al sy versoekings nie, maar ook iets oor sy Koninkryk en oor watter tipe koning Hy is.  Deur sy reaksie op die duiwel se versoekings wys Hy wat dit beteken om van God alleen afhanklik te wees, op Hom te vertrou en Hom alleen te dien.

Ons word ook met hierdie versoekings gekonfronteer.  Dalk bietjie meer subtiel, maar ook waarskynlik daarom juis meer gereeld.  Dat die koninkryk van die wêreld met al sy aanloklikhede vir ons so aantreklik gemaak word en dat die versoeking al hoe groter voel hoe meer desperaat ‘n mens is.  Teenoor die wêred se koninkryk staan die Koninkryk van die Hemel en Jesus kom wys vir ons dat wanneer ons besef dat ons burgers van sy Koninkryk is ons ook hierdie versoekings kan weerstaan.

Ons kan dit regkry wanneer ons God se Koninkryk soek.  Dit beteken dat ons weet dat ons van Hom alleen afhanklik is (5:3) dat ons Hom alleen dien (5:24) en op Hom alleen vertrou vir alles wat ons nodig het (6:31-32).  In die Koninkryk van die Hemel is ons prioriteite anders want dit gaan nie meer oor ons en ons eie rykdom, eer en gemak nie.  Dit gaan oor God en sy plan en sy eer in die wete dat Hy sorg vir alles (6:33).

Ons lees in Matteus 4:8-11

Toe neem die duiwel Hom na ‘n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.” Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe:  “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”

Dis eintlik so ironies – alles behoort reeds aan Jesus.  En elke knie sal voor Hom buig.  Juis omdat Hy nie ‘n aardse, magsugtige, wrede koning is nie.  Maar omdat Hy, die Koning van konings, bereid was om alles vir ons op te offer.  Die Koning wys dat sy prioriteite anders is as die van aardse konings.  Sy Koninkryk is anders.  In sy Koninkryk is God se liefde meer werd as “al die koninkryke van die wêreld met hulle prag”. En Hy nooi ons om deel daarvan te wees en dit te soek.