40 Dae 2022 – Dag 10

Een van die groot beelde wat Matteus gebruik om te praat oor Jesus kan maklik by ‘n mens verbygaan.  Maar as jy dit eers raakgesien het, dan kan mens dit nie meer miskyk nie.  Dit gaan oor Moses en hoedat Jesus eintlik ‘n nuwe beter Moses was.

Vir ons klink dit vreemd, want dit is tog voor die hand liggend dat Jesus groter is as Moses.  Maar dit was belangrik vir Matteus se Joodse lesers om dit te hoor en verstaan a.g.v. die hoë waarde wat hulle aan die figuur van Moses geheg het.  Hy is immers die profeet/instrument waardeur God hulle uit Egipte, uit slawerny bevry het, waardeur Hy die Wet aan hulle gebring het en waardeur Hy hulle in die woestyn begelei het.

Ons weet dat Moses uit Egipte gekom het, deur die waters van die Rooisee gegaan het, vir 40 jaar in die wildernis rondgeswerf het en die Wet van God op die berg ontvang het.  Nou lees ons dat Jesus

  • ook uit Egipte (terug) gekom het, nadat Josef Hom daar gaan wegsteek het sodat Herodes Hom nie kon kry nie (Matt 2:13-14).
  • deur water gegaan het – gedoop is in die Jordaan in Matteus 3:13-17. (Die NT skrywers het die volk se trek deur die see ook as ‘n soort doop gesien. Vgl. 1 Kor 10:1-2)
  • in die wildernis was, maar vir 40 dae (Matt 4:1-11).
  • die Wet op die berg uitgelê het (Die Bergrede – Matt 5-7).

Jesus kom doen dan dieselfde as Moses, net soveel groter en beter! Hy kom maak die volk vry van die slawerny van sonde (1:21), onderrig die mense in die Wet en Woord van God (Vgl. 7:28-29) en kom lei God se nuwe verbond in (26:26-30).  Soos wat Moses die tabernakel in die woestyn gebou het sodat daar offers aan God gebring kon word, so kom Jesus by ons tabernakel, onder ons woon (sien Joh 1:14) – Hy word God met ons (Matt 1:23).  En bring Hy een, finale, ewige offer om ons totaal en al skoon te was van ons sonde.

Hierdie gedagte van Jesus > Moses sien ons ook in Hebreërs: Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê. Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God. En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.” (Heb 3:5-6)

En in Hebreërs 9:14-15  lees ons van die voortrefliker offer:

Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer. Daarom is Hy ook die Middelaar van ‘n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.”
Hoe groot en getrou is ons God deur al die eeue!